Thursday, April 9, 2020

Reisrubriek | Die stil punt (2020)


Woensdag 8 April 2020 | Dag 13

Stil punt van die aarde

Woensdagoggend 2 vm staan ek op en haal 'n warm duvet uit die kas. Die winter byt.

Indien die Minister van polisie glo sy sin kry, sal drank selfs na die periode van ingrendeling verbied word. Hoe reageer 'n mens op soiets? Mense het agentskap en kan tog self besluite neem. En verder: wat van die wynbedryf? Bedruif? (sic!)

Inmiddels is ons Minister van kommunikasie in die sop oor 'n middagete wat sy op Instagram gedeel het. Gewone burgers word beboet as hulle reëls oortree, maar sy, nota bene, as die kommunikasiekundige, plaas 'n foto op sosiale media.  Sy was waarskynlik raadgewer en skrywer van mediaverslae wat haar gedrag des te meer onaanvaarbaar maak.

Verder is almal besig met 'n eiesoortige bestekopname in hierdie tweede week.

Emily Dickinson (1830 - 1886)

In die kamer te Amherst, ek.
Die aand vang my in 'n raam waar-
uit die laaste lig weggevlieg het.
Ek maak bymekaar my stapeltjies
vergetelheid. Skik en lint dit.
Bêre weg. Ek wat 'n lewe
sonder voorval lei,
die liefde net op sig ken,
met my alleenwees soos 'n migraine.
My wêreld is presies, rond met speke.
Ek reis nêrens heen, en oral:
in hierdie sel ontwar ek
'n heelal, 'n aardbol; in hierdie sel
is liefde en dood geesgenote.
Uiteindelik is seker net dit:
ek, in die kamer, voor die ruit:
afwerend, alleen, hier.

Hierdie gedig van Johann de Lange uit Snel grys fantoom (1986) som waarskynlik ingrendeling die beste op. Om in hierdie tyd sin te maak van die binne-reis, is nou die uitdaging. Gedigte kry nou ander interpretasies binne hierdie tydvak:

Ek reis nêrens heen, en oral:
in hierdie sel ontwar ek
'n heelal, 'n aardbol

Ons is al hoe meer bewus van die hele aardbol. En die stil punt van die aarde waaroor De Lange dig.

'n Kollega vra vir my om 'n stuk te lees en korrigeer oor Rio de Janeiro en ek onthou hierdie gedig toe geskryf tydens 'n besoek aan Rio by 'n kongres in die Vergelykende Letterkunde in 2008:

Christus in Rio

Op elke advertensie oor Rio
op die Corcovado, Hý –
Christus die Verlosser:
glo die hoogste Art Deco-gebou
op aarde; selfs verklaar tot wonder.
Ek vergaap my aan Sy
uitgestrekte, verlossende arms.
“O, kom almal wat wil snapshot,
wil sê ek was ook dáár.”
‘n Yank bulder
aan sy katoolse vrou:
”Ons was ook hier!”
‘n Atleet, uit Kanada of so,
slaan ‘n kruis
toe hy die 200 trappe ligvoets
oorwin en modder op sy opponent
se blinde oog spoeg.
Die spirituele oomblik
gedigitaliseer, vermeerder soos brode,
toe daar visse soos reën oor ons sak.

(uit: Vuurwiel, 2009).

Ek stof my Italiaans af met CD's waarna ek luister en huiswerk word gedoen. Bestudeer weer die tarot en natuurlik: die Groot Boek.

Van die Nuwe testament beweeg ons na die boek Jona wat opgeteken staan tussen Obadja en Micha in die Ou Testament. Jona wat na die bose stad Ninevé moet gaan en die bekering van die stad is aan ons almal bekend.

Hy wil egter nie gaan nie, vlug van Jafo na Tarsis en omdat hy God se opdrag nie nakom nie, beland die skip in 'n storm. Omdat hy 'n vreemdeling (Israeliet) is, word hy kwalik geneem vir die storm.

Daar word wensstene (orakelstene) gebruik om te bepaal wie verantwoordelik is vir die storm. Die lot val op Jona wat oorboord gegooi word om die storm te laat bedaar.

Hy word egter gered deur vir 3 dae en nagte in die buik van 'n walvis deur te bring.

Hier bid hy tot God en die walvis spoeg hom uit.

Hy voer God se opdrag uit, gaan na Ninevé waar mense hulle lewens verander. 'n Boetekleed word gedra en sonde word erken. Daar word gevas.

Wanneer God dan die stad spaar, is Jona "vertoornd".

Jona: יוֹנָה, Yônā: "duif".

Jona bestaan uit 'n aantal boeke en 'n psalm (Jona 2: 3 - 10). Die gooi van dobbelstene (orakelstenen noem die Nederlandse vertaling dit) neem my na die tarot. (Hieroor sal daar later geskryf word.)

Jona se gebed in die vis om verlossing is uiters teraaklik:

2:6: Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit ...

Die verhaal van Jona wat sy wil op God wil afdwing, omdat hy nie die bekeerde Ninevé verwoes het nie, gryp aan die hart.

God laat hom onder 'n wonderboom sit.

Hy word aangespreek deur God omdat hy "vertoornd" is; trouens, hy wil die boom spaar aan wie se groei hy geen arbeid bestee het nie, maar die stad met al sy inwoners en vee laat vernietig wat ondertussen tot bekering gekom het.  

In die walvis versmag hy van ellende, maar wanneer hy daar buite is, vergeet hy van daardie donker periode.

In Afrikaans het Klaas Steytler in 1986 'n roman gepubliseer, Die walvisman, waarin hy die gegewe van Jona moderniseer en aanpas. Die profeet, Jona ben Amittai, reis van Tel-Aviv op 'n Cipriotiese skip na Spanje. Hy word tydens 'n storm oorboord gegooi en kom tot bekering. Hy gaan na Ninevé en danksy sy waarskuwings word 'n noodtoestand uitgeroep. Hier, soos in die boek Jona, bewys God eweneens genade aan die vyand.

Die roman is indertyd gelees as 'n kommentaar op Suid-Afrika. Simboliese tekste kan egter ingevul word op verskillende maniere.

Carl Gustav Jung, die psigoanalis, se siening van die donker onbewuste, die skadu, die ontkenning van die werklike ek en die uiteindelike ontdekking daarvan, is waaroor Jona se lot handel. En dat die mens in oomblikke van nood God aanroep, maar dan weer vergeet as jy in beheer is.

*

Langs my bed staan 'n klein Boeddha wat waak oor my. Gekoop in New York voor 9/11. 

So dig Johann de Lange in Stil punt van die aarde (2014) oor die Boeddha:

Die poue van Boeddha
Ficus religiosa

Kruisbeen
onder die Bodhi-boom
lyk hy na ’n ou ineengesakte skuur,
ribbes sigbaar onder die moeë vel,
boude hard & benerig soos kameeltone.

Onder die Bodhi-boom
in die nawel van die aarde
bedink hy die vier waarhede.

Op die erf
wat die koning hom gegee het,
bou hy ’n bamboeshut
& hou poue aan op die werf.

Sy laaste woorde aan die monnike
te skugter om die doodsvrae te rig:
Alles wat geskape is,
verander & vergaan.
Wees sélf jou eie lig.

© Joan Hambidge