Tuesday, April 28, 2020

Reisrubriek | Meetsnoere | 2020


Sondag 26 April 2020 | Dag 31

Vandag kyk ek oor die teeldakke van my stad uit en ek verbeel my ek is in Florence.

'n Paar jaar gelede in die Italiaanse departement 'n kursus oor Boccacio se Decameron gegee - in Engels - met die hulp van Umberto Eco se The role of the reader.

Notas word altyd bewaar. In hierdie geval aantekeninge gemaak op 'n piepklein notaboekie van die Cafir Hotel in Kaïro. So elke keer wanneer iets wil herbesoek, is die koevert daar. Verder skryf ek in boeke. My eksemplaar van Op 'n eiland is driekeer intens besoek: eers met potlood (as jong student); dan as dosent in 1992 met blou pen en uiteindelik weer in swart pen in die kantlyn.

So registreer 'n mens verskillende reaksies van jou lees: 'n resepsie-geskiedenis-in-die-kleine.

En Eco wys daarop hoe 'n mens sekere aspekte van 'n boek lees: die “blow up” versus “narcotize” beginsel. Net so wanneer ons nou tydens grendeltyd weer na boeke terugkeer en ander aspekte raaksien wat vóór hierdie tyd nie op die voorgrond was nie.

Net in die agtergrond geluier het. Dis hoekom feministiese literatuurkritiek wys op hoe vrouekarakters (en bediendes) net in die agtergrond is soos The madwoman in the attic van Gilbert & Gubar.

In 1992 was die landskap van die letterkunde heel anders. Pre-kolonialisme, pre-Rhodes must fall, pre-alles wat nou gebeur. En hoe die grendeltyd uitgeskuif word: Derrida se différance kom so aan bod ... die uitstel van finaliteit.

Decameron handel oor 'n honderd stories vertel deur 7 vroue en 3 mans ingegrendel in Florence om die swart pes (swart dood) te probeer fnuik. Boccacio het dit ná die epidemie van 1348 begin skryf en dit is voltooi in 1353. Dit speel in op Chaucer se Canterbury tales en natuurlik die Duisend-en-Een-Nagte.

Decameron (10 dae) vertel die verhale oor 14 dae; behalwe vir die heilige dae en dae van opruim of wasgoed was. Elkeen kry dus 'n beurt om 'n storie te vertel.

Pampinea, Fiammetta, Filomena, Emilia, Lauretta, Neifile en Elissa heet die vroue. Die mans: Panfilo, Filostrato en Dioneo.

Geleerdes het al gewys op die slim simboliek van hierdie klassieke teks. Party meen dat van die karakters op werklike mense gebaseer was en dat dit in argiewe nagespeur kan word.

In my kursus het ek gewys op die patrone van die Morgan-Greer-tarot wat 'n mens in die teks kan raaklees. (Terloops, moderne speelkaarte is op die tarot / tarocchini gebaseer en jy moet 'n stel persent kry; of een steel.) Die eerste kaarte het waarskynlik in die Noorde van Italië ontstaan in die veertiende eeu.

Dit wat reeds ín jou is, word deur die kaarte uitgestal. Dis jou interpretasie en die major arcana gee letterlik van 0 tot 21 die ontwikkeling van die mens se reis weer. En eindig dan met Die wêreld / The World.

Of die kaart na bo of onder uitval, bepaal die interpretasie. In die Decameron is die Wheel of fortune 'n kardinale kaart. Iets van buite het die lot van die karakters verander.

Na bó bedui die kaart veranderinge/ na onder dui dit op ellende wat nie oorwin kan word nie.

Ek besit verskillende stelle. Selfs 'n Afrika een en in Peru een gekry met Machu Picchu verruklik afgedruk op elke kaart.

In 'n ander kursus het ek Marais se Dwaalstories ook so argetipies benader. Beide Jung en die cantadora (storieverteller), Clarissa Pinkola Estés in Women who run with the wolves (1992) is hier tersaaklik. In die individuasieproses beklemtoon sy, in navolging van Jung, drie alchemistiese fases: die nigredo (swart) fase; die rubedo (rooi) of opofferende fase en die albedo (wit) of herstellende fase.

“The psyche always shadows its own process”, beweer hierdie slim vrou (1992, 417).

En hoe waar is dit nie met wat ons nou ervaar nie? Ons weet ook dat ons letterkunde ingrypend gaan verander ná hierdie fisiese inperking.

Hierom is daar verskillende narratiewe wat wissel van 'n coup d'état tot samesweringsteorieë tot 'n gelate aanvaarding van die inperking. Vir sommiges is die Geregtigheid / Justice (Kaart XI) van belang – 'n gelykmaak van alle mense. Vir ander is dit van belang dat die natuur tot rus kom. Dalk ervaar jy al hierdie naratiewe en wissel jou gemoed van dag tot dag?

So wanneer ek nou die Groot Boek lees, val die aantal kere van ingrendeling, oorlog en inperking my op. Onheil en 'n verbond wat gesluit word.

In Esegiël 4: 9: “En neem jy vir jou koring en gars en boontjies en lensies en broodmanna en spelt, en gooi dit in een skottel, en maak vir jou daarvan brood; volgens die getal dae dat jy op jou sy lê, driehonderd-en-negentig dae, moet jy daarvan eet.”

Hoeveel dae nog?

Nou sing Plácido Domingo saam met John Denver lieflik “Perhaps love” oor FMR.


Maandag 27 April 2020 | Dag 32

Vryheidsdag.

Vandag draai ek die roetine op sy kop. Begin met Seinfeld. Net om hierdie treintrok-roetine van sy spore af te gooi.

Opvallend hoe dikwels daar met borste gespot word in hierdie reeks. Van Jane Mansfield se groot borste (en met 'n speelse opmerking dat sy só versmoor het) tot kelnerinne wat uit-staande is. Met Elaine wat beweer hulle diskrimineer deur net meisies met groot borste in haar restaurant aan te stel. Sy kry selfs prokureurs om dit te ondersoek en ja: dit blyk dis toe die eienaar se dogters.

Jerry is verlief op 'n vrou; Elaine meen sy het valsies en die intrige om uit te vind of dit so is, draai verby alle vlakke. Humor met 'n kurwe in die rooi.

En grappe oor orgasmes en faux-orgasmes. Herinner ons almal aan Meg Ryan se veinsing hiervan in When Harry met Sally.

George se pa kry vir hom werk as 'n bra-smous. Hier knetter dit van die waansin en natuurlik word hy gepos wanneer hy aan 'n vrou (blyk die baas te wees) se rugkant raak.

Julia Louis-Dreyfus (Elaine) kondig op 28 September 2017 aan dat sy borskanker het.

Sy het genees en het uitstekende mediese behandeling gekry. Hoe dan anders; sy behoort tot 'n gesiene en welvarende Amerikaanse familie. Sy het wel in onderhoude bygevoeg dat sy hoop daar sal iets soos 'n universele mediese sisteem wees vir almal.

In die loods-episode (Seisoen 4) het ons 'n storie-binne-in-'n-storie. Jerry en George se storie word aanvaar vir televisie met histeriese figure wat húlle vertolk. (En later weer afgekeur, omdat Elaine nie belangstel in die baas nie.)

Daar is die verhaal van Barbra Streisand wat in Madison Sq Garden moes optree in die laat 90's. Die hele stad was vol drag queens in Streisand haredosse en iemand het teenoor die regte Barbs opgemerk: “Not too bad, honey.”

Werklikheid en fiksie? Soms slaan die werklikheid térug op fiksie; soms loop fiksie die werklikheid vooruit ...

*

Life: A user's manual...

'n Legkaart. A puzzle.

In Hoofstuk ses word 'n nukleus van verhale gegee wat later in die roman verder uitgevoer word. Saaklik.

Die ontdekking van liggame op 'n moordtoneel word vervleg met 'n vrou wat in Wene Sprechgesang, ene Véra Orlova, wat kortsondig Schoenberg se student word.

En dan breek hierdie verhouding ook.


*

Die canards of riemtelegramme oor die opheffing (al dan nie) van die ingrendeling begin byt. Al die “truthers”...

Alles net hipoteses. Alles net hoorsê. Maar as jy tússen die reëls kan lees, dan weet jy dat die doelwit om 'n nuwe SA ekonomies te vestig, voor jou oë gebeur. Die einde van die stinkrykes?

My haarkapper whatsapp en vra vir donasies vir die haarwassers. Weens social distancing is hulle nie in staat om weer te begin werk nie. Hulle is bereid om kleursel af te lewer tuis en waarsku teen bokskleursel wat jy in supermarkte koop.

Laatmiddag kla 'n buurvrou die water in die blok lyk geel; 'n ander een dink dis ook nie reg nie. Iemand het 'n munisipale motortjie opwaarts sien ry. Dalk net iewers 'n gebarste pyp wat hulle moes regmaak?

Ek bied water aan wat ek voor my deur laat. Later is almal weer gelukkig.

Vir oefening vee ek die hersblare weg op die wandelgange. My buurman maak onder skoon. Twee buurvroue gee die plante water. In ons tuin is daar 'n pragtige kat.

Later die middag sien ek hy stap in die park oorkant my studeerkamer. Hierdie park is opgeteken in Etienne Leroux se Die eerste lewe van Colet.

Die kat is ongeveer 8 maande oud. Ek ken katte. Had as kind vele katte. Ons mog nie wyfiekatte hê, maar toe bring ons swart mannetjieskat eendag 'n wyfie aan. Wat 'n vreugde! Woelende, spelende kleintjies wat spring van die waskamer se trappe waar ons kinders speel. En my moeder wat sommer 'n vinnige seksvoorligtingles gee by die wonderskone geboorte van katjies.

En op 'n dag is twee of drie outjies weg. Met my ma wat laerskooltrane moet afdroog, want sy moes ander huise vir hulle soek.

En in my matriekjaar toe my pragtige wit kat, Napoleon, sterf aan longonsteking kon ek dit nooit weer oor my hart kry om 'n dier te hê nie. Eiehandig vir hom 'n kissie gemaak uit tamatieplankies en hom begrawe onder my ma se wit roosbome wat die volgende jaar so mooi was. Hieroor gedig in Bitterlemoene, my tweede bundel.

Johann de Lange het só aangrypend oor die dood van sy kat, Yoshi geskryf (Kaapse Paragrawe/ Die dood van diere. Besoek 27 April 2020):


Yoshi

† 25 Desember 2002 – 12 April 2011

Lenig, met voor- & agterpote,
die ribbekas, skouerblaaie,
& jou darteldraf ligvoets
stertorent – áls is van die fyn
rugstring
gesuspendeer,
terwyl jy vórentoe luister, ore gespits,
jou blou oë luisterstil
wat na die muisvoëls luister,
fyn neusvleuels wat tril-
lend die buurtnuus uitsnuffel.
In jou keel klop ’n slag-
aar ritmies, so delikaat gekalibreer
ek kan die bloed van hart-
kamer na hartkamer volg.

*

Nou lui die kerkklokke van die NG-Kerk in Tamboerskloof. My buurman is op die Vuvusela en ek luister na Mahler en Benjamin Britten, terwyl ek skryf.

Klap hande.

En die meetsnoere?

Dit staan opgeteken in Psalm 16: 6: Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.

Meetsnoer: Die meetsnoere het vir iemand op lieflike plekke geval (wat iemand gekry of bereik het, is goed of mooi).

Die uitdrukking is ontleen aan Ps. 16:6 in die vroeëre Afrikaanse Bybelvertaling. Die meetsnoer is ’n maatlyn wat deur landmeters gebruik is om die grootte (en ligging) van ’n stuk grond te bepaal wat aan iemand toekom. As hulle op lieflike plekke geval het, was jou stuk grond pragtig.

Aldus wyle Anton Prinsloo daardie uitsonderlike taalkenner in Mieliestronk/ Anton Prinsloo vertel van herkoms van spreekwoorde.

© Joan Hambidge