Friday, April 3, 2020

Reisrubriek | Hou jou by (jou) lees (2020)

Donderdag 2 April 2020 | Dag 7

Die dag begin later as gewoonlik. Daar word 'n bietjie ingeslaap, soos die ou mense altoos geseg het en Handelinge (soos deur Lukas beskryf) is waarmee daar begin word. Die diep primordiale patrone van die Groot Boek is oorweldigend. Nou ja, die Israeliete was vir 40 jaar dolend in die woestyn. Hoe lank gaan ons ronddwaal?
        
Ons sal ons rieme moet sny. Maar waar kom die uitdrukking vandaan?, vra ek 'n vriendin.

In Handelinge 22:25 staan daar:

En onderwyl hulle hom met die rieme uitrek, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit u geoorloof om 'n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel? 

Volgens die internet is riem 'n strook leer, 'n roeispaan of 'n pak papiere met 500 velle. Die herkoms is Nederlands, maar die Nederlanders het die papier-betekenis van Arabies oorgeneem. Ek lees verder:
Riemaandrywing, riemtelegram en riemspring. Riemaandrywing is die aandrywing van masjiene deur middel van 'n band. Riemtelegram is skindernuus. Riemspring is touspring.  
Riem het baie idiome onder andere, 'n riem onder die hart, wat beteken om aanmoedigend te wees. Riem is ook ‘n ou naam vir ‘n roeispaan en ‘n “hart” is onder-andere die “mikkie” waarin die roeispaan op die boot pas.   
As jy sê my rieme is dertien, beteken dit dat jy nog iets gaan aanpak.  
Met 'n slap riem vang; jou rieme styfloop; 'n riem onder die hart ...  
Rieme uit iemand anders se vel sny, beteken jy gaan nie vertrou word nie. 
(Bespreking/Riem - Wikipedia. Besoek 2 April 2020)
 Dis 'n tyd van boetedoening en binne-doening.

Op Crito se blog vind ek hierdie inskrywing, 'n soort riemtelegram:
Sandra Pretorius het gesê op Maart 25, 2020: 
Spyker op die koo geslaan oor Hambidge. Ek kan nie glo dat sy hoegenaamd ernstig opgeneem word as ‘n resensent nie en dat boekeredakteurs haar nog vra om boeke te resenseer nie. Al haar resensies is inkoherent, mens kry die indruk sy doen dit baie haastig. Hoekom haar mening enigsins iets werd is slaan my dronk. 

Joan Hambidge het gesê op April 2, 2020: 
Geagte u Edele dr. Mevrou Madame Pretorius 
U bedoel sekerlik: spyker op die kop? Of is koo ‘n neologisme? 
So van haastig gepraat … 
Al my resensies inkoherent? U ravot met die woord. 
(Litnet | Crito - Twee kante. Besoek 2 April 2020).
'n Bietjie ligte vermaak hierdie in hierdie tye soos die vele grappe via die internet en die selfoon. En dan ook 'n polemiek oor Nagblind op die Versindaba.

Dalk 'n noodsaaklike stryd om die verskille tussen 'n Facebook-digter en hoofstroomdigter uit te wys. Maar wanneer 'n digter publiseer by 'n hoofstroom-uitgewer, kom die eise van die digkuns aan bod. Dan val al die steierwerk weg en kyk 'n mens net na die gedigte as gedigte.

Dan is dit riemspring!

*
Handelinge is nou afgehandel. Hierdie tog (riemaandrywing) deur die Groot Boek neem my na Rembrandt se skildery wat ek in hierdie dae weer sou besoek het in die Hermitage en in Amsterdam. Nou moet ek staat maak op kunsboeke soos die Granada-reeks.

Die verrukking van sinne, waarvan ons lees in die Groot Boek is iets wat Rembrandt uniek kon opvang.


Rembrandt: Twee intellektuele in dispuut, 1628

Waaroor sou hierdie grysaards praat?
Die een druk ‘n vinger op ‘n passasie
en as dit Petrus was, in gesprek met Paulus,
soos kunshistorici meen, het ons hier 
Paulus na regs, wat die draaipunt sal verdedig,
teenoor die twyfelende, weifelende Petrus.
Daar word groot gewag gemaak van die chiaroscuro,
die ritmiese visuele harmonie, die dramatiese intensiteit
van die meester se uitsonderlike periode in Leiden.
Die besonderhede van boeke, doek en kerslig.
Of is dit skilder self in tweegesprek, ego en alterego?
Kunstenaar én mens? Twyfelaar én gelowig?
En, en; eerder as of, of? Wie sou hierop lig
kon werp? Die ewige spel tussen skilder en dig?

(Uit: Lot se vrou, 2012).

Laatnag roep 'n hawelose na my buurman. Die nood is hoog. Die weerloses tref dit erger as ons in ons vestings met kos en proviand.

Vrydag 4 April 2020 | Dag 8

Vrydag is met ons. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Drie vriende van my is al vir jarelank semi-kluisenaars en kan hierdie inperking hanteer.

Die rand duisel. Rommelstatus kry 'n nuwe betekenis. Afgradering.

Ek volg 'n tuisoefening-program en laatmiddag orden ek my boeke.

Maak weer om die blok skoon.

"Kyk na die berg agter jou vir jou natuur-fix," gee my buurman raad. As hierdie dae verby is, gaan ek die natuur anders besigtig en bepaald meer waardeer.

Verrukking van sintuie soos die Groot Boek sê; en ek sal my waardering nie onbetuig laat nie. Landskapverse sal gepleeg word.

Die ander buurman kla dat hulle drank amper op is. "Ons het ons misreken met hoeveel meer 'n mens drink in hierdie tye."

Ek maak my blindings oop in my studeerkamer en kyk na Tafelberg. Ek luister na kundiges se raad oor die finansiële toekoms van ons land en hoe groot maatskappye genoop sal word om hul beleggings te onttrek.

Dis 8nm. Applous. Fluite.

Vandag sou ek na Rusland vertrek het om weer die Hermitage te besoek wat ek laas in 1991 – voor die putsch – kon besoek.

Nou kan 'n mens 'n virtuele reis onderneem na die wonderbaarlike museum. Ek besluit op 'n herbelewing van Russian Ark, die film van Alexander Sukorov van 2002.

Dit vertel die verhaal van die anonieme verteller (die fokalisator is Sukorov self) wat deur die Winterpaleis stap. Hy word vergesel deur die Markies de Custine, 'n ambassadeur, en driehonderd jaar se geskiedenis word vertel.

Die gesprekke oor Rubens en Van Dijk interesseer my tans, net soos die besetting van Rusland en die Rembrandt-skilderye.

Ongeveer 33 kamers word besoek en meer as 2 000 akteurs het deelgeneem aan hierdie produksie. Die danstoneel aan die slot van die film is asembenemend. 

Ons sien voorstellings van Peter die Grote, Katarina die Grote, Tsaar Nikolaas die Tweede  se kinders, verwysings na die besetting van Rusland tydens WOII.

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=hermitage  Besoek 3 April 20202

Die film is in 96 minute gemaak: met een kamera ...

Die musiek is van Mikhail Glinka.

Die film is gebaseer op die roman La Russie en 1839 wat uiters negatief is oor die Russiese leefwêreld.

In One Breath gee 'n blik op die maak van die film, iets wat 'n film kan bederf vir die kyker. Hier gebeur dit nie.

Knut Elstermann is die vervaardiger van hierdie dokumentêr. Op 'n reis deur Rusland het ek 'n matrioska gekoop met al die presidente binne-in.  Gorbajof was die laaste een met die vlek op sy voorkop en dus lank voor Putin.

My Russiese skaakstel lê langs 'n Sjinese een in hierdie tyd waar die skaakspel van die wêreld – met die virus as 'n oorrompelende opponent.

Poem through binoculars

Die swaan 
bly dankbaar oor haar dubbelbeeld 
gebuig. Die Russiese landskap 
onnoembaar groot uitgestrek: 
vreemd-melancholies op hierdie aand.

Die swaan 
word kleiner deur my lens 
soos die trein tussen Moskou en Kiev
voortsnel. (‘n Toneel uit Dr. Zhivago?)

Cirillies die taal:
vreemd dog net-net ontsyferbaar
soos Rook Verbode
wyl jy onvermoeid jou foto’s
in Agfa-kleur direk verpak.

Die swaan word net betyds in dié strofe opgevang
voordat die kondukteur op Russies jou verbied 
om enige verdere foto’s 
deur die venster weg te steel.

Tussen Moskou en Kiev
is ek nie langer jaloers op die toeganklikheid 
van jou klikkende medium – skryf 
(al bly dit ‘n dubbel(s)lagtige bedryf) 
immers nie hier verbode. (Of hoe dan Pasternak?)

Die swaan
bly immers só bewaar.

(uit: Interne verhuising, 1995).

Enige voorspellings en raad van hoe 'n mens hierdie onseker tye moet benader, pypkan die uwe. 

Wil dit outentiek en aan eie lyf ervaar.

© Joan Hambidge