Monday, March 30, 2020

Reisrubriek | Die Groot Boek etc. (2020)


Sondag 29 Maart | Dag 3

Daar is vandag geen koerant beskikbaar nie; net aanlyn te lese. Vriende bel en almal klink onrustig oor wat op ons wag. Die klein hotel langs die holte vir my voet se wekroep Cloud 9 klink nou ironies.

Alles is stil. Op Versindaba bruis 'n polemiek oor 'n digbundel waarop ek reageer (Resensie/ Nagblind (Francis Grobler) - Versindaba):

Dewald Koen se nugter reaksie is tersaaklik.
Ek resenseer al vanaf 1980 en is opgelei in die letterkunde. Al hou ek nie van 'n digter nie, fokus ek op die bundel voor my. Ek verklaar my belange: die teoretiese posisie en plaas dan die bundel binne die bepaalde sub-genre. Praatverse kan nie vergelyk word met ars poëtiese verse nie. Narratiewe gedigte werk anders as speelse gedigte. Verder is dit tersaaklik om na vernuwing te kyk, hoewel dit te dikwels as 'n eis gesien word. Nie almal is 'n Opperman of  'n Breytenbach of  'n Cloete wat die landskap van die digkuns radikaal verander het nie.

Daar is geen digters nie, net 'n digkuns het Neruda (en Cussons) verklaar. In Nagblind wat ek gelees het, staan daar 'n paar goeie verse. Om dit as n "kragtige, eiesoortige en eenmalige leeservaring" te tipeer, is oordrewe.

Jare gelede - om en by 1993 - het wyle Hennie Aucamp vir my 'n brief geskryf en gewaarsku dat woorde soos hoogtepunt, uitstaande, e.d.m. die boek skade berokken, want jy skep by die gewone leser 'n verwagting wat verkeerd is. Trouens, gewone lesers het al opgemerk dat boekresensies hier te lande die Afrikaanse letterkunde na een groot hoogtepunt laat lyk.

Om resensies te skryf, is inderdaad 'n ondankbare taak. En kollegas wil juis nie resenseer nie, omdat persoonlike aanvalle en verdagmakery dikwels jou voorland is.

'n Resensie is 'n eerste reaksie van 'n kundige persoon. Jy moenie daarop reageer nie, behalwe in jou skryfwerk. Neem uit die negatiewe resensie wat te lere is en as jy dink jy word "misverstaan", moenie jou vriende vra om te reageer nie.

Niemand hou van kritiek nie. In die kreatiewe skryfklasse wat ek aanbied, het 'n digter nog altyd uit kritiek geleer en 'n beter gedig geskryf.

Ek skryf tans 'n werkboek vir jong digters wat van hierdie punte verduidelik en verhelder. Daar is sterk debute in Afrikaans. En nie almal (terloops) is bekroon of beloon nie.

Wanneer jy publiseer, moet jy alles ken in jou taal, ten minste (het Opperman in sy letterkundige laboratorium gemaan).

Dewald Koen hét gelyk. Ons is 'n klein letterkunde, met min letterkundiges wat bereid is om te resenseer en juis hierom moet die danser van die dans geskei word.

Moet gedigte byvoorbeeld "toeganklik" wees? Wat sou ons dan met Wallace Stevens gedoen het? Ek dink byvoorbeeld dat Marius Crous se jongste bundel (wat ingewikkeld is) baie kwessies goed uitdaag.

Die uwe het die meeste uit 'n negatiewe resensie geleer. En as jy nie die kritiek op 'n bundel kan hanteer nie, is die bundel nog in jou buik. Die digter wat sy of haar sout werd is, hou aan. Vir die rekord (en verskoon die anglisisme): die kritiek tans is milder as in die tagtigerjare toe André P. Brink 'n digter vermorsel het in een paragraaf.

Oordeelsfoute word deur die tyd uitgewys. Oorskattings en mislesings is beide verkeerd. 
Nini Bennett is geregtig op haar mening. Ek het nie haar kritiek as persoonlik ervaar nie.
Vanoggend weer begin met die Groot Boek en is verstom hoe patrone sig herhaal.

Omgord die lendene van die verstand, vermaan die Boek Petrus. Ek probeer gesprekke vermy dat ons dalk langer ingeperk sal wees. 

Distopie en hoe romans hierdie ellende al vir jare voorspel, is 'n harde werklikheid.
Deon Meyer se Koors is 'n sprekende voorbeeld.

In foongesprekke en watapserasies voorspel mense soos 'n latter day-Nostradamus dat die inperking langer sal duur. Dit blyk my Achilles-hiel te wees, hierdie negatiwiteit. Ons is nou in boot camp of dalk 40 dae en 40 nagte in die woestyn - en al wat daar is, waarsku my buurman, is Zen. Hy lees vir my uit sy Zen-boek voor en hoe ons die nou moet waardeer.

"Vra jouself af waarom jy so kwaad word as mense voorspel dat dit alles langer gaan duur. Is dit dalk wat jý vrees?"

En tog het ek al die oomblik besing in Indië en sal dit op hierdie binnewaartse reis onder die knie moet kry:

Oggend in Jaipoer

Vanoggend spring ‘n apie stout
oor die marmeragtige hotelbalkon;
‘n kleurvolle olifant stap langs sy mahout
en ‘n kameel trek ‘n skewe waentjie vol hout.
‘n Ou man verkoop sy ware, gister en more.
Maar dis vandag wat my boei: die ‘santosh’:
‘n helder wintersdag soos Indiese brokaat of goud.
Ek ontken nou die armoede of ‘n droë waterbron;
op die kameelwa lê daar immers genoeg brandhout.
Die oggendstond hier hét goud in sy mond
toe ‘n vers hieruit ontspruit plots.

(uit: Vuurwiel, 2009).

Ek gee vir hom Spirited Away terug wat goed eindig. Na die metamorfoses - waar die goeie die bose oorwin - is die meisie terug by haar ouers. Hulle wil weet waar sy was? Alles dalk net 'n droom? Het hulle dalk vergeet dat hulle ook in 'n ander vorm kortstondig bestaan het?

My buurman leen vir my Mr. Robot. Hierdie reeks van Sam Esmail met Rami Malek as Elliot Anderson in die hoofrol is vol in die kol. Elliott is 'n sogenaamde kubersekuriteitsingenieur en 'n hacker wat aan kliniese depressie en sosiale angs ly. Mr Robot (vertolk deur Christian Slater), 'n sogenaamde "insurrectionary anarchist", 
stel hom aan om aan te sluit by 'n groep ondermynende "hacktivists". Hulle doel is om alle skuld te probeer uitwis deur die onsigbare E korporasie aan te val ...

'n Ongelooflike reeks. Dat daar altyd iets agter die skerms gebeur  en in hierdie dae van die korona-virus - wat 'n hele wêreld letterlik tot stilstand geruk het, is hierdie reeks iets wat aan die keel gryp. Hoe daar altyd agter die skerms magte aan die werk is.

Ek kyk tot by die tweede snit. 

Nou weer lees in die Groot Boek. Jakobus waarsku dat die vyeboom nie olywe kanvoortbring nie. 'n Pragtige beeld wat op soveel sake betrekking het.

En waak ook teen dubbelhartigheid, skryf hy.

Soveel wysheid en ware poësie vind 'n mens hier.
Om 8 is daar mense wat jil en hande klap. Ons het nog 'n dag oorleef.

© Joan Hambidge