Sunday, April 12, 2020

Reisrubriek | Pase & pen (2020)


Vrydag 10 April 2020 | Dag 15

Die oorgang van die nag na dag verloop vól kwellings. Die inperking is met twee weke verleng.

Vir die eerste twee weke was daar 'n cornucopia van grappe. Humor, daardie lag met die traan. Party van die grappe was swart humor; ander skatersnaaks. 

Die beste een: 'n man wat op 'n lughawe wag met 'n naambord waarop staan Godot.

Die frenetiese grappe het opgedroog.

Nou het alles 'n harde werklikheid geword. Ons is hier om te bly. Vir nog 'n ruk altans.
Bekommer my oor my geliefdes, vriende en kennisse. Laatnag stuur ek 'n boodskap vir 2 taxi-bestuurders. 
"Gaan dit goed? Oorleef jy?" 

Die een uit die Oos-Kaap het die Boek Daniël sopas gelees; die ander een is filosofies: it is what it is ...

Die man uit die Oos-Kaap meen hy vind vertroosting in die Bybel. (Gepraat van Jungiaanse sinchronisiteit.)

Grappig sê ek vir die ander een: neem my Haiku toe! Een van gunsteling-restaurante wat helaas toe is soos al die ander uithangplekke.

Die bestuurder uit Malawi by die hotelletjie waar ek gereeld gekom het af in die straat, moet na Duitse gaste omsien wat eers Saterdag huiswaarts keer. Ons gesels en mis die ou dae.

Pase. Verlede jaar 'n gedig oor Julia Kristeva geskryf; voor dit oor my ouers:

Pase by my ouers

Hulle bid tot hul HereGod
vir die Opstanding 
oor die Verlossing
oor die vermeerdering van brood
en visse, oor Genade
en hul middelkind
se langverwagte besoek.
Luister na hul verhale,
hoe iemand se neef ingedoen word,
oor  my susters se lewe
en 'n tante se onverwagse afsterf.
Op 82 en 76 dra hulle krom
aan die stories van hul lewe
by die kruispad van die dood.
My ou vader weier om na ‘n ouetehuis
te gaan; my kromgetrekte moederlief
berei vir my ‘n gunstelingmaal
in hul meenthuis gepantser 
met ysterhek en staaldeure.
Ons praat oor plaasmoorde,
inbrake, aanvalle en bedelaars
wat daagliks voor die deur staan.
Hoe lank nog, Vader
voordat hulle aan U deur klop?  

(uit: En skielik is dit aand, 2004).

Ondertussen het hulle vertrek. In die troebel nag word hierdie gedig gedroom:

Pase 2020

In 'n droom sit ons om 'n vuurherd
ons die agtergeblewenes met die vertrekkendes:
my susters, vader en moeder almal saam
soos in die verlede stry ons oor die politiek-
van-die-dag en twispunte vlam op

iemand soek na orde of beheer
na klarigheid; besef dis ek toe die vuur
se asse oor die tafel afsak soos 'n wolk
die gesprekke staan in ligte laaie
my suster vuur-en-vlam nou

'n man praat oor die teodisee
die regverdiging van God se bestaan
Heilige Maandag Witte Donderdag
Goeie Vrydag en Stille Saterdag
vlugtend sonder kleed uit my droom

(uit: Nomadiese sterre - werk-in-wording)

Nou speel die Intermezzo uit die Cavalleria Rusticana op Fine Music Radio: melancholies, pynlik wat altyd herinneringe aan my moeder terugbring.

Erfstuk: Maggie Laubser

Op reis in Colombië
dink ek na oor
pelligro en disponibel
by die lees van jou testament:
gevaarlike rotse, see
en dan veral die berg waarna jy
jou hele lewe lank 
sou bly terugverlang;
luister ek na die Intermezzo
uit Cavalleria Rusticana,
dralend, weemoedig.
Die skildery staan waar dit staan.
By my terugkeer
kyk ek na die erfstuk
wat restourasie behoef,
soos hierdie gedig
in proses: ’n bed
gloeiend toe ’n kooltjie
uit ’n sigaret skiet,
één met dié gloed.
Oor ’n bergpas digby
Villa de Leyva
’n brandende boom
van herinnering
nes jou nota
in ’n kruik
geberg.

(uit: Konfessies, kaarte en konterfeitsels – binnekort by Imprimatur)

Dis 'n moeilike tyd vir almal, hierdie Tyd van Onsekerheid.

Laatmiddag soek ek na 'n nommer op my ou selfoon en ontdek hoeveel mense is reeds weg na die ander oord; ander vriendskappe weer het soos water in die sand verdwyn. Of in die dryfsand van verraderlike of onaanvaarbare gedrag. Maar in hierdie tyd mis jy die vriendskap of mens vóór die verkilling.

Vriendskappe raak ingewikkeld. Sommige vriende wil oor sekere kwessies gewoon nie praat nie. Selwers raak ek afwysend oor Facebook-filosowe, bespiegelinge, prediksies. Betrap myself dat ook ek my sieninge, my interpretasies, my menings deel met ander; wanneer hulle nie reg is daarvoor nie ...

Vasgevang in die ou orde nog nie reg vir die nuwe uitdagings nie, waarsku 'n spirituele vriendin. 

Die regsgeleerde en ekonomiese analis Frans Rautenbach maak 'n puik analise van die huidige ekonomiese problematiek (Seen on Facebook/ COVID-19, the threat in socio-economic terms | LitNet. Besoek 10 April 2020).


Catch-22 egter: Gesondheid teenoor Ekonomie ...

Maar dit behoort nie die een òf die ander te wees nie. Eerder 'n en / en.

Hopelik word Rautenbach se skerp stuk gelees.

*

Nou is dit Daniël.

Esegiël klink na 'n uitdaging, maar na hierdie boodskap van die taxi-bestuurder lyk die Boek Daniël na Jona die een om nou te bestudeer.

Die regte keuse. Ballingskap. En elkeen van ons ervaar vorige periodes van afwagting / onsekerheid / troosteloosheid soos die dood van 'n geliefde, die einde van 'n verhouding, die uitslag van 'n toets waar jou lewe en toekoms op die spel was.

Gedink #Rhodesmustfall was erg, maar die nuwe aanlyn-idee om studente te leer, sit vol praktiese probleme: nie almal het toegang tot die internet of besit gesofistikeerde rekenaars nie. In daardie tyd het ek in koffiekamers en onder bome klasgegee, omdat die kontak tussen dosent en student van kardinale belang is.

Terug na Daniël.

Daniël (Beltsasar), sy vriende, naamlik Gananja (Sadrag), Misael (Mesag) en Asarja (Abednego) se ervarings in Babilon word beskryf. My Bybel is die 1963-uitgawe en as kinders het ons altyd gepraat van Saterdag, Meelsak, Appel-met-net-een-oog in die kinderkrans. Elke leser sal onthou hoe Nebukadneser 'n impak gehad het op 'n jong kind se gemoed. Nes die apokaliptiese visoene.

Die boek is geskryf in Hebreeus (die taal van die Jode) en Aramees, die taal van Babel en toe 'n wêreldtaal.

Nou lees 'n mens as 'n volwasse leser in jou ballingskap weer die verhaal. En daar is dus twee prosesse: jy onthou jou ervaring van die verhaal as jong kind en hoe die grasetende Nebukadneser jou verbeelding aangegryp het; en jy lees dit nou vanuit 'n ander blikhoek as volwasse, vernugterde leser. 

Die oond waarin die figure staan en niks oorkom nie; Daniël in die leeukuil; die grasetende Nebukadneser wat waansinnig raak; Daniël wat drome uitlê kom staan voor my soos die wet van Meder en Perse.

Die beskerming van die engel.

Die dronkparty waar Daniël die woorde moet verduidelik wat die hand teen die muur skryf:
mene, tekel, ufarsin ... Mene: God het jou dae afgetel en jou heerskappy is verby.Tekel: jy is geweeg en te lig bevind.Peres: jou koninkryk word verdeel en gegee aan die Meders en Perse. Peres is die enkelvoud vir ufarsin.(What is the meaning of the handwriting on the wall?. Besoek 11 April 2020)
Dit is Aramees en dit voorspel die destruksie van koning Bélsasar se heerskappy. Hierna word Darius koning.

En waarom die bestraffing?

Hierdie  Babiloniese koning se dronkparty maak 'n bespotting van heilige objekte wat deur Nebukadneser gesteel is uit 'n Joodse tempel, ongeveer 586 V.C.

En die boodskap van hierdie boek? Deurgaans word Daniël en sy vriende wat in ballingskap is, gered weens hul geloof in die God van Israel.

*

My Bybel was 'n geskenk van my ouers aan my  op 11/9/68 - Pretoria.

Getrou kinderkrans en katkisasie-klasse bygewoon. Selfs op 'n keer die helfte van die kinderkransgeld op swart suiglekkers spandeer en net die helfte gegee vir die juffrou. Daardie middag vra my ma: “Het jy al die geld vir die kinderkrans gegee?”

My swart handjies en mond het my weggegee. 

Binne-in is daar boekmerke met maats se name op. Wat het van hulle geword?

Ook 'n boekmerk gespin deur 'n sywurm - as jong kind had ek 'n woelige boerderytjie in my kamer. Selfs geëksperimenteer met wat beetblare aan die uitkoms doen. 

En blare en sade gepers in my leeromslag Bybel. Dalk 'n mosterdsaad?

Saterdag 11 April 2020 | Dag 16

Rembrandt se vertolking van die Babiloniese dronkparty bly 'n hoogtepunt in sy werk. Die lig wat skyn op die woorde van oordeel teenoor die koning  wat omdraai en met skok na die hand kyk, wys op die spanning tussen gierigheid en spiritualiteit (Belshazzar's Feast (Rembrandt) - Wikipedia. Besoek 12 April 2020).

Die onbewuste is nie aan tyd of plek gekoppel nie, maar indekseer traumatiese of pynlike ervarings, aldus Jung. 'n Moeilike tyd was Pase nog altyd vir die uwe: 'n besinning oor vele afleggings of verkeerde emosionele beleggings.

*

Eers winkel toe. My yskas se oorskietkos uitgehaal en vir die weerloses is daar darem iets. 'n Mens kook helaas altyd te veel vir een persoon. Eksperimente in die kombuis is nou 'n uitdaging soos roosmaryn by maalvleis of chillies op gebakte eiers. In my geestesoog sien ek 'n kookboek: Eet vir een.

En die resep geskryf in 'n boere-haikoe- of kwatrynvorm, omdat my kookvernuf maar dunnetjies is.

O die peper en sout
op my roereier 
wag op die bord koud

My buurman lees vir my voor uit die lockdown-register en hoeveel lande dit verleng het. En hoe lank dit al duur.

Die kollektiewe ingrendeling.

*

Harold Bloom se The breaking of the vessels (1982) analiseer digterlike gesprekke en hoe digters altyd worstel met beïnvloeding en hierdie teoretikus se kennis van die Bybel was eweneens enorm. The Shadow of a Great Rock – A Literary Appreciation of the King James Bible (2012) is 'n hoogtepunt uit die pen van hierdie meester.

Nie almal was gaande oor hierdie studie nie en Bloom se idiosinkratiese interpretasies word gekritiseer deur Hillel Halkin wat onder meer skryf:
Bloom is by temperament a strong misreader himself. The Hebrew Bible is a mine of riches for him. The King James version of it, considered solely as the fine and faithful translation that it is, is less so. (King James/ The Harold Bloom Version - Jewish Review of Books).
The Book of J - saam met David Rosenberg - van 1990 gee weer 'n blik op vrouestemme in die Bybel.

Frank Kermode, eweneens 'n Bybelkenner, skryf meer positief oor Bloom se werk.

An appetite for poetry  (1989) heet een van sy essaybundels, 'n geskenk van my mentor Henning Snyman, eweneens 'n Bybelkenner.

*

En Crito daardie intellektueel met 'n intellek tot aan die einde van die wêreld lewer weer kommentaar sonder om die boek onder die oog te neem.

Nou ja, wat kan 'n mens sê oor so 'n fan? Dat dit eindelose jouissance verskaf?

Is dit in orde om resensies te beoordeel indien jy nie boek gelees het nie? Dis soos om in 'n wynwinkel te staan en te kies tussen twee wyne sonder dat jy die verskil tussen 'n Pinotage en 'n Shiraz ken. Dit sal hom die moeite loon om Kermode te lees oor voorspellings en divinasies van tekste.
Ou laaie, deur Fanie Olivier. Resensie: Joan Hambidge. (Boeke24)
Crito het al in die verlede lof aan Joan Hambidge toegeswaai; hierdie keer kan ek nie. Die paragrawe kom soos los gedagtes verby. Van argumentering is daar net so min as van unieke styl sprake. Mens sou dikwels met ’n asterisk tussen paragrawe kon aandui dat die volgende opmerking los gaan staan van die voorafgaande. Die verskillende opmerkings is nooit van só ’n aard dat mens voel die resensent het diepgaande insig in die bundel onder hande nie. Fanie Olivier kan gebelgd voel hieroor. Dit is beslis nie op die hoë peil waarop Hambidge al vantevore met resensies beweeg het nie.8 April 2020  
© Joan Hambidge