Saturday, April 18, 2020

Reisrubriek | Donna en Seinfeld | 2020


Donderdag 16 April 2020 | Dag 21

Die dag begin vroliker as gister. Donna Summer se vertolking van “MacArthur Park” dreun deur die huis.

Natuurlik is MacArthur Park ‘n lied van Richard Harris van 1968.

En “Could it be magic” behoort natuurlik aan Barry Manilow wat dit heerlik saam met Donna op-kamp.

Donna is in dieselfde tyd oorlede as Fischer-Dieskau wat bepaald ‘n andersoortige duet impliseer:

Donna & Dietrich

Wat vir ‘n tragi-komedie
tog dat Donna Summer
en Dietrich Fischer-Dieskau
bykans gelyk die hemelpoorte bestyg?
Bid jou dit aan:
disko en Dieskau.
Die een sing Could it be magic
voor ‘n malende menigte
en die ander An Sylvia
in gewyde stilte.
Ja, die geeste word beweeg
en Donna wis nie: 
hy was die engel van ‘n leeftyd
en sy die bad girl.
Stel jou voor:
‘n duet met Donna,
terwyl die engele in die agtergrond
in uitbundige klanke
en draaiende, sketterende ligte
shu-bi-du-ba
shu-bi-du-ba…
‘n bariton en ‘n disko-queen,
Schubert en sashay…
Immer tog
wie en wat
is en was Sylvia
dat die Hemele haar bly
bewonder en vereer?
Donna en Dietrich
dans saam 
auf Himmelsgunst und Spur:
beide ‘n wonderwerk.

(Uit: Meditasies, 2014).

O vrolikheid op note.

Groot bewonderaar van haar. Sy is oorlede in 2012 in Florence aan longkanker.

En laat ons nie vergeet hoe Anne Sofie von Otter, die groot Sweedse mezzo-sopraan, ABBA se “The day before you came” vertolk nie!

En haar konserte in Brussel is gekanselleer weens die pandemie.

*

Oor die radio verduidelik ‘n traumaberader dat as jy angs ervaar in hierdie tyd, moet jy van 100 af terugtel. Dit sal jou brein fokus. En plaas al jou probleme in koevertjies: finansies, werk, verhouding ... sodat jy presies weet hoe om dit te hanteer.

Laatmiddag skakel ek FMR af en wens hierdie pseudo-analiste en voorspellers wil eerder stilbly. Speel liewers musiek as om so te kwetter!

*

Van 1989 tot 1998 was Seinfeld met ons. Hoe wonderlik om nou hierdie reeks weer te kyk! Larry David en Jerry Seinfeld bekyk die daaglikse doen en lates van vriende in ‘n apartment in Manhattan op die Upper West Side. Seinfeld is hier in gefiksionaliseerde weergawe van homself met sy vriende George Costanza, Elaine Benes (die eks) en Cosmo Kramer, die ongepoetste buurman wat tydig en ontydig inval.

‘n Laspos vriend wat opdringerig is en nie nee vir ‘n antwoord wil vat nie, analiseer skuldgevoelens wanneer ‘n mens ongeskik is met mense wat jou ruimte binnedring.
‘n Ontmoeting met ‘n nuwe vrou en Seinfeld wat nêrens kom nie, skep humor.

‘n Mens kan identifiseer met die situasies. Dis eerlik en dus waarheidsgetrou. Veral die een waar hy ‘n nuwe vriendin vir ‘n naweek wegneem. Die gesels droog op. In die benoude hotel (dit reën buite) kom hulle verskille duidelik na vore.

Hoe jy dink iets moet wees en hoe dit uitspeel in realiteit, is die as waarom elke episode draai.

Tereg word dit as een van die beste en mees invloedryke sitcoms nog beskou. En hoe resoneer dit nie nou met die tyd van inperking nie.

*

En in Jeremia 24 lees ek van die slegte vye en die goeie vye.

Dit voorspel die toekoms van die volk: want die slegte vye is so sleg dat dit nie geëet kan word nie; die goeie vye is dan ‘n beeld van die gelowiges. Relevant is dit dat konkrete beelde gebruik word om ‘n boodskap oor te dra, net soos in die Nuwe Testament se gelykenisse.

Jeremia se klaagliedere handel oor die val Jerusalem. Teoloë sien hom as ‘n voorloper vir Jesus, omdat hy namens sy volk leed moes verduur.

Hierdie boek verhaal die verwoesting van Jerusalem in 587 v.C. en Jeremia se smart hieroor.

Jerusalem is in 587 v.C. ingeneem en die inwoners is gedeporteer na Babilon.

Jeremia wou in sy land bly, maar hy is deur landgenote saamgeneem na Egipte.

Dit was ‘n vlugtog en hy het nooit kon terugkeer na sy geliefde land nie. Hy is oorlede 587 v.C.

Hoveel mens is tans nie afgesluit van familie en vriende in ‘n moderne ballingskap nie? Sal hulle ooit weer kan terugkeer na ‘n vaderland? Of sal hulle net Skype en zoom met familie?

*

Ons dink ook hier aan ballinskapdigters soos Olga Kirsch wat in Israel woonagtig was. En daar is weer belangstelling in haar werk deur studies en ‘n biografie sowel in Engels as in Afrikaans.

Olga Kirsch (1924-1997)

In Jiddisj blykbaar geen woord of begrip
vir teleurstelling, verydeling, verloëning.
Desondanks moes jy in ‘n vreemde taal
‘n tweede, ongenaakbare ballingskap binnegaan.
‘n Digter kan nooit haar erfenis verloën:
“By die riviere van Babel, daar het ons gesit,
ook geween en aan Sion gedink...”
Met jou verse oor die diaspora, vervolging
die verdriet van jou mense naam gegee.
Hoeveel woorde is daar vir pyn?
Eensaamheid, illusie, verdriet, angs, kommer...
Dié kon jy opvang, stulp en bowenal vertaal
in hunkerende, ylende melodieë.

(Uit: Lykdigte, 2000).


Vrydag 17 April 2020 | Dag 22

Vandag die garage reggepak, bank toe gegaan en ‘n lamsboud vir Sondag gekoop. By die Duitse slaghuis wat genadiglik oop is in hierdie dae.

Lam met roosmaryn en gebakte aartappels en patats.

Vergete is die dae van lang, uitgebreide lunches op ‘n Sondag by die Hussar Grill in Moueillepunt.

Vandag kom die kredietkaart elektronies aan: die laaste maal was op 25 Maart in Rondebosch by die Hussar Grill.

Op 23 Maart - voor die ingrendeling – die Auberge Burgundy in Hermanus vervaard verlaat net betyds om vir oulaas werk te doen by Fine Music Radio: ‘n resensie oor Jeanne Goosen.

Gewoonlik neem dit my lank om alles te tjekkereer op die kredietstaat. Hierdie keer binne 3 minute afgehandel. All dressed up and nowhere to go ...

*

Nou lees ek Rut en Samuel. Die wonderlike verhaal en die taal van die Bybel is opvallend. Wat is ‘n efa?

‘n Efa koring het omtrent 16,5 kilogram geweeg en ‘n efa gars omtrent 13,2 kilogram, verduidelik die internet.

Die verhaal van Rut bring pynlike herinneringe terug aan ons predikant wyle W.S. Prinsloo, later ‘n gesiene teoloog aan UP, wat my in die kerk aangeneem het en ‘n boek oor Rut geskryf het.

Pieter M. Venter skryf oor die grondbesit vanuit ‘n juridiese oogpunt: Die juridiese problematiek van grondbesit in die boek Rut (Besoek 18 April 2020)

Pas uit die kweekskool kom hy aan op Standerton, ‘n moeilike dorp vól snobisme en ryk boere. My vader, ‘n ouderling, word sy mentor en help hom om moeilike situasies te oorbrug.

Beide reeds oorlede, maar tog staan hulle in my geheue ingekerf.

Ek het ‘n bundel oor my vader geskryf: Dad.

Vier

Elke week versend jy ‘n bondel
koerantknipsels, netjies geliasseer:
oor die politiek en sake van die dag,
veral boekresensies
in twee Ou Mutual-koeverte.
Agterop jou naam: Geo. Hambidge.
Toe later selfs foto’s van jouself,
(ek word jou geheuebank)
uit plakboeke, lêers, bokse
uit jou studeerkamer óórvol, geprop
met inligting. (Jou klein heiligdom, slordig).
Op een bruin foto
sit jy (ek skat jou so nege) met ‘n rugbybal;
op ‘n ander foto tussen jou ma en pa
beskut soos ‘n billets-doux.
Vir veilige bewaring in my woordkabinet.
Vanoggend verneem ek jy’s weg.
Net dit. Uit ma se geskokte mond.
Hoe snoei die dood nie alles terug
tot essensie nie?
Ek orden al my onthoue,
ontdek ‘n koevert met jou naam,
jou stem op my antwoordmasjien,
‘n brief uit die verre vreemde.
Jy het elke week ‘n bondel
koerantknipsels aan my toeversend.
Dit was toe, jý my toeverlaat...

Ag Dad,
papier is geduldig. Koeverte 
versend omgee; was ‘n posstempel,
gereeld, tussen my en jou.
Nou net dit: hierdie brief,
in ‘n finale deursigtige koevert
uit my woordargief.

(Uit: Dad, 2006).

Rut, die agste boek van die Hebreeuse Bybel handel oor die losser. Boas was ‘n losser. Hy moes die vroue wie se mans gesterf het versorg het. Die bloedfamilie – aan broerskant – is na omgesien. Die kinders en vroue se grond is teruggekry indien dit in vreemde hande beland het. Omdat hy dit moes loskoop, is hy ‘n losser genoem.

Rut trou dan later met Boas.

So is die hele grondkwessie deel van ons geskiedenis van meet af aan.

*

Laataand is dit weer Seinfeld. Slim humor. 

Vreemd dat dit nie gedateer het nie, alhoewel ons weet dis vervaardig voor 9/11 en die ellende wat nou in NY afspeel.

Daar is ‘n paar klassieke oomblikke: soos Seinfeld wat wens ons dra almal dieselfde klere soos in scifi-rolprente. Dit sal alles makliker maak.

Die ontmoeting met Elaine se pa is ‘n juweel. George komplimenteer hom oor sy skryfwerk.

“Ag daardie boek is drivel.”

“Ja ek weet.”

Maar die oomblik toe George dit sê, vererg hy hom. Tipiese skrywersreaksie op kritiek. Slim humor, aweregs, skreeusnaaks. 

‘n Ete in ‘n Sjinese restaurant en die bestuurder wat hul naam verkeerd uitspreek en dus verloor hulle ‘n tafel!

Larry David, die vervaardiger van Seinfeld, het saam met Jerry Seinfeld situasies geskep wat my laat opkrúl van plesier.


*

Op my lessenaar lê Luistervink van Madré Marais. 13 Stories lui die sub-titel. ‘n Belangrike debuut wat bewys dat die kortverhaal nie dood is nie, ten spyte van uitgewers se traagheid om hierdie genre uit te gee, omdat dit glo nie verkoop nie.

Vol ironie, ‘n analise van die donkerkant van verhoudings, verspeelde kanse ...

Die skrywer dra dit op aan die landskap waarin sy mens geword het (jou vlaktehemel en jou sterreveld). Inderdaad is die landskap hier ‘n belangrike aanwesigheid, soos in die kortverhale van die ou meester Hennie Aucamp.

Thys Human, ‘n gerekende literator en Riana Scheepers, ‘n kortverhaalskrywer in eie reg, prys dit aan.

© Joan Hambidge