Monday, July 6, 2020

Resensie | Wilhelm Jordaan - Sondesemoer! | Naledi, 2020

Wilhelm Jordaan - Sondesemoer! Naledi, 2020. ISBN: 978-1-928518-46-4

Resensie: Joan Hambidge
  
'n Goeie rubriekskrywer is soos 'n seismograaf, windmeter of dalk 'n geigerteller.

'n Rubriekskrywer begryp die tydsgees en vertolk dit namens getroue lesers. Die rubriek moet elke keer verras. Die aanslag moet uiteraard soos 'n duimafdruk wees wat die leser herken en die rubriekskrywer word 'n ou vertroude. Die koerant word oopgeslaan by dáárdie bydrae soos 'n perd wat outomaties stop by dieselfde watergat.

Deur die jare het Wilhelm Jordaan 'n hele geslag lesers bly bekoor. As voormalige professor in die Sielkunde en oud-joernalis bevat sy rubrieke die regte mix van geleerdheid en toeganklikheid. Die feit dat hy al soveel jare skryf, is bewys van sy belangrikheid en gewildheid as rubriekskrywer.
  
Hy kyk dikwels met nostalgie terug na sy jeug sonder om soetsappig te wees. Hy registreer hoe die koerantbedryf verander het deur die jare. Hoe hy as jong knaap moes uitgaan om 'n storie te kry en hoe sy redakteur hom kapittel het oor sy styl.

Sondesemoer! (uitgegee deur Naledi) is 'n opvolg van Spitstyd (Litera, 2011).

Die rubriek – kleinboet van die essay – is 'n bekende letterkundige stylsoort. Dit is die persoonlike mening van 'n persoon wat lewenswyshede, insigte of irritasies met die leser deel. Soms word hy ook 'n gehate of omstrede persoon soos David Bullard wat nou onlangs weens 'n kontensieuse uitlating gepos is. Ander kere word sy 'n volksfiguur soos Annelie Botes, wat met aardse humor die leser op 'n vergete aspek van menswees wys. Hierdie soort kolumnis se uitsprake word róndom sy of haar ego gebou. (Daar is te veel om op te noem, terloops.)

Daar is eweneens anonieme rubriekskrywers soos RVR wat elke Saterdag in Die Burger 'n uitsonderlike spirituele boodskap lewer en relevante teologiese kwessies aanspreek. Hy is die opvolger van Dirkie Smit wat soveel beteken het vir lesers om sosiale ongeregtighede onder die aandag te bring. Of ons attent gemaak het op die vriendskap tussen die voormalige Pous en Julia Kristeva. Dan is daar Amanda Gouws en Anton van Niekerk wat politieke en filosofiese kwessies vir lesers oopmaak. 

Sportskrywers soos die omstrede Quintus van Rooyen, Skuimkop of Michael Green lees ons graag. Taalrubrieke is daar ook. Heinz Mödler wat speel-speel 'n uiters belangrike mediese punt oordra. Of 'n soutie soos John Scott wat as voormalige redakteur op ons ander taalgenote se belewenisse fokus.

Die rubriek kry ewigheidswaarde wanneer dit van koerant of blog beweeg na boek. Dikwels haal die rubriek nie die boek nie, omdat dit onder druk geskryf is. Letterlik: kort voor lank. Die uwe was self al hier aan diens: met reisrubrieke (Wegkomkans) en 'n satiriese een: Op my literêre sofa. So die vangplekke én vanggatte is goed bekend.

En hier staan ons grand old man dan as 'n voorbeeld van hoe dit gedoen moet word.
Die register verander voortdurend: soms pittig en humoristies; ander kere 'n regstelling. Of nostalgies. Selfs religieus. Soms speels-anekdoties.

Ander kere word rubrieke juis bykans poëties gekomponeer rondom 'n begin, middel en einde – met 'n implisiete lewensles. En reaksie of polemiek bewys die rubriek hét 'n impak. As briewe die gevoelens van die gemeenskap weergee, verklap rubrieke dit by uitnemendheid. 'n Mens kan by nabaat sien hoe die mores  of tydsgees verander het.

En die rubriekskrywer moet kan skryf. Jordaan skryf dan soos volg oor taal: "Dít is die magie van taal; dat die een wat praat en die een wat luister in ’n verbintenis is wat van hart tot hart gaan. Wie sy taal gee, gee sy hart – die meegedeelde seer wat suiwer én verlos."

In vier afdelings word die boek soos volg ingedeel:  Jy met jouself; Jy en die ander; Jy en die samelewing en Jy en die groot misterie.

In "Kyk hoe lieg hy?" tree hy populêre tydskrifte se maklike aannames oor leuens aan wat alte dikwels tot groot ellende gelei het. Dink maar aan Othello en Desdemona. En om mense se leuens te ontmasker, kan die mens vernietig. Blanche Du Bois se lot in A streetcar named desire.

In "Moeg omgegee" skryf hy so pakkend oor hierdie kwessie:"Daar is so baie daarvan dat ander mense se ellende nie werklik tot jou tot deurdring nie. En voor jy jou kom kry, het jy vergeet daarvan, of iets anders gebeur wat die aandag opeis. Vergeet, uitfiltrering en afstomping word dan meganismes om jou te beskerm teen die oorweldigende allesgelyktydigheid van lewensdinge." Oor die Bybel skryf hy insigryk:" Kort-kort bulder die grofgeskut uit die skuilings van geloof en wetenskap: “Die Bybel is foutloos!” versus: “Die Bybel is vol foute!”

Ons leef nie net van feite nie, maar ook van mistiek, leer Jordaan ons.

Een van Jordaan se belangrikste stylkenmerke is sy vermoë om alles in 'n klinkende slot saam te snoer.  "Ter wille van deurleefde gelykheid en geregtigheid," kan bykans as 'n refrein in hierdie versameling karteer word.

Of: "Slegte dinkgewoontes begrens jou menswees. Dit word algaande deel van jou en verskraal jou begrip van wat werklik saak maak én hoe jy ten goede kan verander."

In die lewe se "hellende onvastigheid" gee hierdie optekenaar vir ons weekliks iets om oor na te dink. As nuusman was hy nuuskierig en verander hy:" Algaande het ’n ander passie, ’n ander 'dwelm', van my besit geneem. Weer ’n begeerte om te weet en te verstaan, maar soos die menswetenskappe dit verwoord. En om dít vir myself en my studente te laat 'ontkiem' tot dieper begrip van stories, die 'nuus' oor hoe die mens is." En dis die belangrikste uitspraak in hierdie boek.

En daar is uiteraard 'n handvol wat jy nooit vergeet nie. Hierom my aanprysing op die skutblad. Belesenheid en geskryf deur 'n ryp, beleë mens, maak hierdie rubrieke uiters onthoubaar in 'n boek van 179 bladsye.

Wys my jou gunsteling rubriekskrywer en ek sal jou vertel wié jy is.  Dit moet vermeld word dat Jordaan beweeg het van Beeld na Die Burger en ander susterskoerante wat bewys dat sý boodskap met 'n wye gehoor praat.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)