Sondag, 28 Junie 2020 tot Sondag, 5 Julie 2020
Die heilige dag begin met met ‘n selfoon wat ek via wifi moet opdateer. Dit neem meer as ‘n uur om al die nuwe bykomstighede in te werk. My buurman help met eindelose geduld en ek kyk saam met hom en sy vrou kerk via die internet. Die verhaal van die Emmausgangers en die onsigbare gas tref my. Die predikant van die NG-kerk in Tamboerskloof beklemtoon die ontsettende nood wat ons daagliks beleef.
Later die middag toe ons buite sit en braai is daar ‘n man wat oor die heining roep. My buurman neem vir hom kos en tee.
Ons beleef ‘n middag van kontak – verby al die virtuele gesprekke wat ons tans het. Ek mis mense van vlees en bloed. Die aand kyk ek na Damnation (Kárhozat) van Béla Tarr, die Hongaarse filmmaker se film uit 1988. Hy het dit gemaak saam met László Krasznahorkai. ‘n Week terug het ek nie die krag gehad vir hierdie film oor liefdesobsessie nie. Karrer (Miklós B. Székely) is ‘n depressiewe man wat verlief is op ‘n getroude sangeres (Vali Kerekes) wat by die kroeg, die Titanic, sing. Die vrou verlaat die man wat sy wil graag ‘n naam maak vir haarself.
Die film betrek smokkelhandel en Karrer gee van sy werk aan haar man Sebestyén (György Cserhalmi). Die man is vir ‘n ruk uit die pad uit, maar dan is daar verraad. Te donker, te morbied. Karrer gee hom aan by die polisie en in pynlike slot stoei Karrer met ‘n swart hond. Tipies van Béla Tarr is daar danstonele wat in werklike tyd afspeel. Drank en dans. ‘n Akkordeon. Donker, depressief en deprimerend. En ‘n film wat jou altyd sal bybly. Boonop geskiet in wit-en-swart. Met desperate liefdestonele.
Die film betrek smokkelhandel en Karrer gee van sy werk aan haar man Sebestyén (György Cserhalmi). Die man is vir ‘n ruk uit die pad uit, maar dan is daar verraad. Te donker, te morbied. Karrer gee hom aan by die polisie en in pynlike slot stoei Karrer met ‘n swart hond. Tipies van Béla Tarr is daar danstonele wat in werklike tyd afspeel. Drank en dans. ‘n Akkordeon. Donker, depressief en deprimerend. En ‘n film wat jou altyd sal bybly. Boonop geskiet in wit-en-swart. Met desperate liefdestonele.
Gaan ons terug na Vlak 5, wonder almal?
Ek gaan eet pizza by my gunsteling-pizzaplek Col’Cacchio Maandagaand. My temperatuur word gemeet, my hande ontsmet en al my besonderhede moet ek invul op ‘n vorm. Die kos is lekker. Die restaurant het twee tafels. Daar is net dooie energie. En alkoholvrye bier.
Vroegaand ry ek huis toe. Die nuwe normaal is nie normaal nie.
Nicholas Roeg se Bad Timing is ‘n uitsonderlike film wat afspeel in Wene, Freud se stad. Die psigoanalisdosent, Alex Linden (Art Garfunkel) word verdink daarvan dat hy sy vriendin Melena Flaherty (Theresa Russell) tydens ‘n koma seksueel misbruik het. Die kyker weet dit is so en die speurder, Inspekteur Netusil (Harvey Keitel) vermoed dit. Hy dwing ‘n belydenis af van Alex wat dit ontken.
Alles werk met tyd en die kyker sien in terugflitse hoe sy in ‘n ambulans gelaai word. Die wakker speurder weet dat hy tyd verspil het, want hy weet dat Alex se karradio ná twaalf op ‘n program ingeskakel was. Melena vertel ook nie die waarheid oor haar eks-man nie. Stefan Vognic (Denholm Elliott) is uiteindelik ook in die slottoneel om ons mee te deel sy het die operasie oorleef. Wou sy werklik selfmoord pleeg met ‘n oordosis pille? Of wou sy Alex uitlok?
Alles werk met tyd en die kyker sien in terugflitse hoe sy in ‘n ambulans gelaai word. Die wakker speurder weet dat hy tyd verspil het, want hy weet dat Alex se karradio ná twaalf op ‘n program ingeskakel was. Melena vertel ook nie die waarheid oor haar eks-man nie. Stefan Vognic (Denholm Elliott) is uiteindelik ook in die slottoneel om ons mee te deel sy het die operasie oorleef. Wou sy werklik selfmoord pleeg met ‘n oordosis pille? Of wou sy Alex uitlok?
Liefdesobsessie word ontleed en die twee geliefdes ontmoet selfs in die Freud-museum waar Alex navorsing doen. Ons sien hulle op die bekende sofa en Freud se siening van die kind as voyeur word tydens ‘n lesing verduidelik aan studente.
Netusil is die voyeur wat op sy beurt inkyk op die lewe van die twee gedoemde geliefdes. Háár blik is vernietigend en afwysend wanneer hulle mekaar jare later weer raakloop in New York.
Die film is gelaai met kodes. Daar lê ‘n eksemplaar van Harold Pinter in ‘n motor en ‘n kopie van The sheltering sky. Die mens is altyd in isolasie, meen Alex, en ons elkeen beleef geboorte en dood op ‘n unieke wyse. In ‘n kafee hang daar ‘n foto van Garfunkel. As sanger? Of as dosent?
Die skilderye van Klimt raam die vertelling met Alex wat opmerk dat die geliefdes in die skildery gelukkis is omdat hulle mekaar nog nie ken nie. Dan sing Tom Waits An invitation to the blues.
Daar is ‘n reis na Tunisië en Bernardo Bertolucci se film The sheltering sky glimmer in my geheue. Hier vertel Alex vir haar van ‘n baken in sy jeug: ‘n huis oorkant Central park, besit deur ‘n ryk, eksentrieke man. Rondom word nuwe geboue opgerig en eendag vertrek hy vir ‘n dae Boston toe en wanneer hy terugkeer, is die gebou weg.
Daar is talle grense in die roman. Die eksman woon in Bratislavië. Die grense tussen wat aanvaarbaar en wat toelaatbaar is in ‘n verhouding word ondersoek.
Is dit toevallig dat Egon Schiele se skilderye ook hier te siene is?
Egon Schiele: Selfportret met Physalis
Kloustrofobies toegedruk
bedompig die mense om jou
laat jou op ‘n trein vlug
op sestien met jou suster
weg van jou vader bedruk
sketsboeke met treine vernietig
hy, daardie man wat skeef
uitkom in elke selfaansig
Tree of Life (Terrence Malick) is ‘n rolprent wat werk met assosiasies. Hierom is die dialoog tussen karakters dikwels onhoorbaar wanneer die ouer broer, Sean Penn terugkyk op sy lewe na sy broer se dood. Die vader, vertolk deur Brad Pitt, is ‘n streng patriarg wat dikwels bots met die middelste kind wat gesterf het.
Met beelde van bome en water word die boom van die lewe en groei geaktiveer.
Die film begin met hierdie motto:
“Where were you when I laid the foundations of the Earth?... When the morning stars sang together, and all the sons of God shouted for joy?” (Job 38: 4, 7)
’n Mens word gedwing om die film assosiatief te ervaar, eerder as om ‘n storielyn te volg. Die musiek waarna die vader luister, die kind wat kitaar speel; die ouer broer, die argitek, wat terugkyk en onthou: ‘n kind wat verdrink het, ‘n ander een het verbrand.
As die vader (Brad Pitt) dalk ‘n musiekloopbaan gekies het, sou alles anders verloop het?
Malick se films werk nie met stories of plot nie; dit werk eerder met assosiasies en vrae wat hy by jou laat oor die lewe en dood. Die broer (wat dood is) kom by die familie uit. Is dit ‘n droom? Hierdie regisseur laat drome, herinneringe en verskillende dimensies saamvloei in ‘n aangrypende rolprent.
Donderdag, na 100 dae van inperking, sien ek my kollega Ron vir middagete in Rondebosch. ‘n Heerlike viering!
A Late Quartet (2012) van Yaron Silberman ontdek ek in my filmoteek. Wyle Philip Seymour Hoffman met Catherine Keener en die nooit volprese Christopher Walken is ‘n kwartet met Mark Ivanir.
Rondom hul vertolking van musiek (Beethoven se Opus 131) bars die bom toe hulle ontdek hul vriend, Peter Mitchell (Walken) het Parkinson se siekte. Dan breek die spanning tussen die eggenote (Hoffman en Keener) en boonop het die dogter, Alexandra, ‘n affaire met die medespeler, Daniel (Mark Ivanir). ‘n Resep vir ‘n ramp.
Ogden Nash (“Old Men”) en T.S. Eliot (Four Quartets) is hier in ‘n koue Manhattan. Met Anne-Sofie von Otter as oorlede vrou van Peter. Ons sien (en hoor) haar vlugtig waar sy Marietta se lied sing uit die Die tote Stadt van Korngold.
‘n Viermanskap wat breek weens siekte. Die moeder klap die dogter wat ‘n affaire het met haar voormalige liefdesobsessies; die vader bliksem die man wat sy dogter bykom; die tjellis jaag almal uit sy huis uit, moerig oor hul grensoorskrydende gedrag.
Agter die gedrewe musici se interpretasies skuil daar onvervulde verhoudings en woede. ‘n Man wat sy vrou beskuldig van afstandelikheid; ‘n kind wat voel sy moes altyd tweede viool speel in hul loopbaan.
Musiek dra die storie vorentoe. Vir alle kreatiewe mense is hierdie film ook ‘n handleiding van hoe jy met kreatiwiteit omgaan en die opoferinge wat dit opeis.
Saterdagmiddag is ek in die Hussar Grill in Mouillepunt. Heerlike kos, gawe bediening. Die see is in vloed. Buite wemel dit van mense met honde op die promenade.
Laatnag kyk ek weer na The Talented Mr. Ripley (1999) oor ‘n man wat per ongeluk ‘n ander een se identiteit oorneem wat afspeel in die vyftigerjare. Alles gaan in hierdie film oor die Princeton-baadjie wat Dickie se pa, meneer Greenleaf interpreteer asof Tom Ripley (Matt Damon) ‘n Princeton-man is. Die pa stuur hom na Italië (Mongibello) om sy seun terug te bring. Ripley se talent is om ander mense te kan naboots, handtekeninge te vervals en leuens te kan vertel. Later is dit sy verslete baadjie wat deur weldoener se seun vervang moet word. Hy mag sy klere dra – totdat Dickie (Jude Law), te laat besef wat die gevolge is van hierdie vriendskap met sterk homoseksuele ondertone.
Dickie maak ‘n jong Italiaanse meisie swanger wat selfmoord pleeg. Freddie Miles (Philip Seymour Hoffman) besef van meet af aan dat Ripley ‘n leuenaar is, maar hy – soos Dickie – word vermoor. Marge (Gwyneth Paltrow) weet dat Ripley haar verloofde vermoor het, ofskoon die speurder dink hy is onskuldig weens Dickie se verlede.
Meredith (Cate Blanchett) is die ander vrou, die dubbel wat Ripley misbruik om sy leuens te verdoesel. Marge se vriend, Peter word uiteindelik Ripley se nuwe geliefde, maar wanneer Meredith hom ten slotte op die skip op reis na Griekeland as Dickie herken, vermoor hy die nuwe geliefde uit vrees dat sy werklike identiteit sal uitkom. ‘n Lacaniaanse meesterstuk oor nabootsing, méconnaissance van die self, identiteite wat vervals word, ‘n selfmoordnota (geskryf deur Ripley) – puik geregisseer deur Anthony Minghella.
© Joan Hambidge