Sunday, July 12, 2020

Resensie | Hans du Plessis – Die opstand van Poppie Nel | 2020

Hans du Plessis – Die opstand van Poppie NelLapa, 2020. ISBN: 9780799399899

Resensent: Joan Hambidge

Hans du Plessis is 'n belangrike taalkundige wat bekend is as dramaturg en prosaïs. Veral sy herskrywing van die Griekwa-Psalms is uitstaande werk. Die jongste roman is sy negentiende fiksieteks wat gepubliseer word deur LAPA.

Die roman Die opstand van Poppie Nel tree in gesprek met al die vroueskrywers wat die afgelope paar jaar vroue-molestering en alles wat daarmee gepaardgaan, beskryf én oopgemaak het. Dit is belangrik dat ons hier 'n manlike perspektief kry op 'n delikate saak wat al deur Annchen Troskie in Ek, Anna en Christine Barkhuizen-Le Roux se My naam is Prins onder die loep geneem is.

Die roman werk met die gegewe dat die karakter dood is en ná die sielkundige moord steeds moet bly lewe. Dit ondersoek eweneens die problematiek van spirituele depressie. Poppie se opstand word vergelyk met Poppie Nongena s'n.

Die skrywer gebruik Bybelname en verwysings na Lukas, Markus en Mattheus laai die roman so met belangrike kodes. Waarom moet dominee Lukas optree as die raadgewer en heler? Die heler hier is egter self verwond. Sy vrou het hom pas verlaat en die persoon voor hom is deur 'n pastoor mislei. 

Poppie staan voor die dominee in haar kuise lang romp en in die roman word die hele kwessie van grooming (aanvoring) ondersoek. Hoe gebeur dit dat 'n jong meisie só mislei en oorrompel word deur die pastoor?

Du Plessis gebruik die kerk (religie) wat misbruik word om 'n onskuldige slagoffer te mislei. Die leser kom onder die indruk van die vlot vertelling oor Poppie (die pastoor se begyn) se Hoogliedafspraak met die pastoor, haar leidsman.

Ons weet ook wat Lukas dink. Hy besef sy mag uit die kerk uit wees, maar die kerk is nog nie uit haar nie. Binne die hele #MeToo-kampanje handel hierdie roman oor die mag van die kerk, van predikante of pastore. Du Plessis gebruik die belangrike kode van kleredrag om sy karakter Poppie se innerlike stryd te beskryf. In háár kerk mag sy net manskoene dra en Alison Lurie se studie oor klere The language of clothes (Heinemann,1981) is hier vir verdere speurwerk tersaaklik.

Het Poppie agentskap? Kon sy werklik só verblind word deur hierdie man? Elke hoofstuk belig 'n ander aspek van hierdie komplekse verhouding tussen gesagsfiguur én slagoffer waar aandadigheid en skuld verplaas word.

Hierdie leser het dit eweneens 'n boeiende vertelling gevind en nagedink oor die "sonde vir die gesondes". In hierdie tydvak waar die slagoffer stemhebbend geraak het, het dit my teruggeneem na die belangrike dokumentêr oor die lewe van Linda Lovelace en in welke mate sý mislei was deur haar eggenoot met die vervaardiging van die pornofilm Deep throat (1972). Kyk jy met 'n agterna-wete na die film, sien jy die vernielmerke op haar arms en besef jy haar suster het gelyk. Sy was mislei deur haar man. In die dokumentêr word daar vanuit alle hoeke gekyk na die problematiek van aandadigheid: Inside Deep Throat (2005). Die regisseur Gerard Damiano stel Erica Jong en Gore Vidal, o.a. aan die woord.

Staan, Poppie, staan
en laat jou gedagtes gaan
dat jy vir my kan sê  
hoe diep die liefde lê.
....

Dit is die rigting-teks waarmee die roman open met 'n storie wat nie aan die outeur behoort nie, maar aan die persoon oor wie dit handel. Die BBC-reeks – Unforgotten,  met Sanjeev Bhaskar en Nicola Walker as 'n vroulike speurder – ontleed in die tweede seisoen die impak van kindermolestering op drie uiteenlopende mense se lewens en hoe dit almal óm hul ook verander.

Elke kyker of leser word dus gedwing om kant te kies. Sonde, belydenis en boetedoening – met skuldgevoelens is die merkers van hierdie soort verhaal. En die narratief by die slagoffer is deurgaans dieselfde: alleen deur die oopmaak van die storie kan daar genesing plaasvind.

Praat is 'n mes met twee snykante, waarsku die implisiete outeur ons (die lesers) in Du Plessis se roman op bladsy 26. Die roman is geskryf vir 'n bepaalde lesersmark (kyk o.a. na die gebruik van die woord "meisiekind" en die verwysings na die kerk). Dit val binne die kategorie van goeie, gewilde prosa en binne hierdie lesersmark is dit oortuigend en pakkend geskryf.

Hierdie roman van Hans du Plessis resoneer met die tyd waarin ons lewe. En ondersoek die impak van iets wat vér terug in die verlede gebeur het.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)