Wednesday, July 1, 2020

Resensie | Lynthia Julius - Uit die kroes | Kwela, 2020


Lynthia Julius: Uit die kroes. Kwela, 2020. ISBN­13: 9780795709531

Resensent: Joan Hambidge

In 2018 is Lynthia Julius bekroon as die wenner in die Afrikaanse kategorie in die AVBOB­-digkunskompetisie. Uit die Kroes is haar debuutbundel uitgegee deur Kwela. Hierdie bundel ondersoek die lot van die bruinvrou in 'n Noord-Kaapse leefwêreld met verse wat Namawoorde gebruik (soos xhoulag, ghwarra en xhit).

Sy neem haar plek in langs figure wat die lot van die bruinvrou in die digkuns beskryf: Ronelda Kamfer en Jolyn Phillips, om twee name uit te sonder.

In hierdie gedigte word ras- en genderkwessies aangestip en die leser bly bewus van 'n dubbele buitestaanderskap. Die digter is as vrou én bruinmens gemarginaliseer. Écriture feminine, soos Hélène Cixous dit definieer in The laugh of the Medusa van 1975 (vertaal deur Paula Cohen en Keith Cohen). Hierin ontleed sy die posisie van vrouwees waar eie behoeftes geartikuleer word in selfrefleksiewe narratiewe ten einde beheer te neem van die liggaam én 'n miskende identiteit.

Skryf is vir Cixous 'n opheffing van konflik en die oorlog wat woed in taal (die vrou as die tweede seks wat alreeds deur haar voorganger Simone de Beauvoir begin is). Cixous - soos Julia Kristeva - verstaan buitestaanderskap: die eerste uit Algerië, die tweede uit Bulgarye. Beide het egter van die marge geskuif na die hoofstroom en Derrida het Cixous as 'n belangrike filosoof beskou. In "Poppehuisie" 46) word daar na Spivak verwys, 'n belangrike kode vir die begryp van wat met vroue gebeur wat hul verdrukkende orde verlaat. En in "Die intellektualisme van goed" (54) verset sy haar teen bekende intellektuele. Ook Koos du Plessis en Breytenbach sidder onder die gedigte.

Vrou(likheid) word binne die Afrikaanse poësie op alle vlakke ondersoek en Karen de Wet se bloemlesing Vers & Vrou: 250 gedigte wat sopas by Human & Rousseau verskyn het, bewys die veelkantigheid van vrouwees: van die kombuis tot volwaardige eweknie van die manlike orde.

"Die vrouens in my familie" (34) verbeeld die lot van die skrywende digter. Sy het haar losgemaak van die vroue wat hulle mans verafgod. Hierom is die kinders heidene, omdat hulle "ongehoorsaam" is in die weë van die Jirre. Inderdaad rangeer die Ou Testament die vrou uit tot tweede seks en dit is wat hierdie gedig so treffend artikuleer: die vroue se stemme is ingeboet vir hulle manne s'n.

Skreiende en skrynende pyn word beskryf soos in "Krismisboom" (30) met sy slot:

daar is geen Krismisboom om meer van my af te vat 

Die gedig speel ook in op weggevat wat sy skryf as wegv-.

En daardie boom is een van goed en kwaad. Sy plaas dus die woord under erasure, in Derrida se terme en beklemtoon so verlies op alle vlakke. Die gedig "Skuld" (26) neem standpunt in oor letterlike en figuurlike skuld waarteen sy haar verset. Sy gebruik die wond (en die toewerk van die wond), eweneens bekend aan Derrida, om haar posisie uit te werk. Hierom in Bybelse terme kies sy haar beloofde land privaat. Met toespelings op Saul Barnard en die Bybelfiguur Josua wat die gedig se subteks sterker maak.

In "1993" word die impak van apartheid op bruinmense ondersoek: via Adam Small, om te lewe is onnatuurlik, stereotipes, taboes (soos dat bruin vroue nie met swart manne mag uitgaan nie), die potloodtoets ... En steeds na soveel jare weet sy steeds nie wat bruin of kleurling eintlik is nie.

"Ontheemding" (41) handel oor die moeder wat in Nababeep gebore is as 'n Namakwalandse kind. Hierdie ma kan nog in Nama tel tot tien, maar met haar trek het sy "verkimberley". Die kind vra dan die man uit oor die Namas en wie hulle god is. In hierdie gedig lê sóveel opgesluit oor ontworteling en kultuuronteiening.

"Vir 'n one laat vat" (58) handel oor die jong vrou wat universiteit toe gaan en dus deur die moeder as 'n heiden beskou word. 'n Verdere displacement dus in haar kultuur waarna sy nie kan terugkeer nie.

Die invloed van die kerk en Die Bybel om hoop te gee vir mense wat in ellende leef, word eweneens beskou soos in "Loslating" (17).

En hier is baie ironie in die bundel. In "Nes" (37) word die "Hebban olla vogala" opgestuur en sy praat sterk terug met Krog in "Kleur kom tog alleen" (28).

In "Die hulp" (39) neem sy standpunt in teen die manlike (wit) orde wat so graag die verkleinwoord gebruik om te beheer. Sy sal 'n eienaam wees sonder 'n tjie.

En die titel word verduidelik vir die leser in hierdie komplekse slotgedig:

Kroes

[I have bi-racial hair because I have bi-racial blood. I’m not talking about that cute they met and fell in love blood. I’m talking about that slave raped six times by the master birthing six mixed babies later hung blood. – Zora Howard]

Mamma sê ek moet my kop nasien
(reguit maak; gladder, dunner, witter maak)
wie nog kroes is is aspris hoor ek
daar’s genoeg Dark and Lovely en Sunsilk
om die geskiedenis uit jou hare te vee
om jou te laat vergeet watter voorouers
by die wortels van jou hare deursingdans
net ’n bietjie BaByliss hier
’n bietjie blow-dry daar
net ’n bietjie laat sy ring tog net nie in jou hare vassit
as hy sy vingers deur hulle try liefkam nie
daar was ’n tyd toe ek in Kimberley in wou pas
toe ek Engels wou praat en manne met spike hare
en wit Golfie-karre nag soen
ek was te kroes om ’n Kimberley Coloured te wees
te glad om opreg Khoi te wees
te gemeng om wit te wees
ek het uit die as opgestaan met my kroes hare, Mamma
sukkel-sukkel die krulnukke in my hare uitgekam
en met die loskomsels op die kam besef:
fok glad wees
laat sy ring maar in my hare verstrik raak
ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie
kroes is kroes
kroes word nooit tot die wortel glad nie

Aanvanklik met die lees van enkele gedigte was ek nie so geïmponeer as met die bundel wat 'n weefwerk van pyn, ironie en selfgerigtheid (in die positiewe sin van die woord) beskryf nie.

Hierdie gedigte is nie vir die vergeetlaai geskryf nie.