Monday, July 13, 2020

Reisrubriek | Die nuwe normaal | 2020


Maandag, 6 Julie 2020 – Maandag, 13 Julie 2020

Twee speurreekse wat uitsonderlik is: Trial & Retribution en Spiral. Albei te siene op BBC. Albei puik verhale, skitterende akteurs. Boonop maak beide van jou, die kyker, 'n speurder. Eersgenoemde werk met die sogenaamde split scene (die skrywer Linda La Plante se tegniek) sodat jy kan sien wat op verskillende plekke gebeur. (Hierdie reeks aangekoop toe 'n DVD-winkel in Kaapstad moes sluit.)

David Hayman as knorrige Mike Walker met sy twee vroulike assistente: DI Pat North, Kate Buffery en in die opvolgreeks: DCI Róisín Connor (Victoria Smurfit).

In hierdie reeks word verskillende moorde ondersoek en opgelos. En die onderliggende verhaallyn is natuurlik (in die eerste reeks met sy vier episodes van 3 uur lank) dat Mike Walker betrokke raak by Pat North, uitmuntend vertolk deur die voormalige Shakespeare aktrise, Kate Buffery.

Wanneer die professionele sake begin oorspoel in hul verhouding raak alles ingewikkeld. Boonop word sy in die vierde episode bó hom bevorder wat tot 'n bitsige reaksie lei. Is dit equity vra hy? Hy is jaloers op haar en die dood is in die pot; veral wanneer sy betrokke raak by die herbesoek van 'n saak waar hy die hoofondersoeker was.

Hy noem haar sarkasties "the Boss" en "Miss Marple". Die kyker weet hoe hierdie verhouding gaan eindig.

Boonop gaan dit om 'n gay-man wat lewenslank tronk toe gestuur is vir moord op sy minnaar. Walker se oordeel was reg dat die man skuldig was, maar helaas word hy as homofobies uitgewys met die gebruik van terme soos "sausage jockey". Die spanninge in die verhouding met Pat word vererger deur haar swangerskap en sy moeder se siening van hul verhouding as buite-egtelik. Sterk gender-analises in hierdie piekfyn-reeks. Met wyle Corin Redgrave, Vanessa Redgrave se sibbe, 'n voormalige Shakespeare akteur wat die rol van die regsgeleerde puik vertolk.

Nog meer morsig is Spiral. Engrenages. Die titel aktiveer letterlik spiraal, maar ook engrenage de violence of gearing. Letterlik intensivering.

'n Magistraat se vrou wil skei; hy slaap by die polisievrou; sy beste vriend (in wie se woonstel hy bly, is 'n pimp); sy skoonpa is betrokke by die vriend en een van die polisiemanne snuif coke. Boonop is daar 'n giftige vroulike prokureur wat vuilspeel en inligting kry by 'n prokureur wat van die rol geskrap is. In die eerste reeks begin dit met 'n meisie wat 'n dubbelbestaan voer: sy is 'n nagraadse student maar ook 'n gesellin. Sy word vermoor en haar lyk word so erg geskend dat sy onherkenbaar is.

En nes jy dink jy het elke kinkel in die kabel gesien, kom daar nog een by. Hierdie Franse reeks is op BBC gewys en het my 'n hele dag weggevoer na 'n wêreld van bedrog. 'n Produk van Alexandra Clert en Guy-Patrick Sainderichin.

Speurverhale aktiveer altyd die donker kant van die menslike psige.

En groot speurverhaalskrywers se lewens het dikwels donker kante. Ons dink hier aan Georges Simenon, die Belgiese skrywer van die puik Maigret-reeks, wat beskuldig was van 'n sielkundig-bloedskendige verhouding met sy dogter, Marie-Jo wat op 25 selfmoord gepleeg het. Glo met 'n rewolwer en met aanwysings in een van sy romans. John Goldschmidt se The Mirror of Maigret (1972) gee 'n grimmige beeld van die skrywer as rokjagter, obsessioneel – maar met oor die 500 romans 'n gedugte speurverhaalskrywer met Rowan Atkinson wat 'n TV-reeks Maigret vertolk.

Volgens Simenon kon hy niks opmaak nie; hierom moes hy dikwels bontstaan met lastereise van mense wie se name hy gebruik het in sy stories. Eerstejaar Frans in my vorige lewe moes ons Le clochard lees en daardie roman sal my altyd bybly. Die man wat sy familie verlaat en 'n boemelaar word; tydelik hulle weer opsoek vir 'n begrafnis en dan weer terugkeer na sy lewe onder 'n brug.

En Sondagaand word ons meegedeel deur die prez dat alle drankverkope subiet gestaak word. Gevaarlik vir die virus wat nou die hoogte inskiet. Gelukkig het my derdeoog my gewaarsku en hier is genoeg whizza vir die volgende maand. (En alweer 'n aandklokreël: na nege moet jy tuis wees ...)

En uiteet sonder wyn is die nuwe normaal. Soos leë restaurante. Hoe hierdie nuwe drakoniese wet die reeds steierende bedryf gaan verander, weet nugter alleen. Restaurante kan nie oorleef sónder drankverkope nie. Mense bly dan eerder tuis as om uit te eet sonder ''n ottermaklottertjie. En ander het nie meer geld in hierdie donker dae nie.

Cependant

Al my steierwerk steier / stelte
val af / alles waaraan ek
vasgeklou het / is water / geBarnard
Gilliland / die nuwe normaal /
is abnormaal / maskers / verweerskrifte /
gaan my nie verby o heiland /
die hoogland was my woning /
nou Wayne Koestenbaum se hotelkamers
flikker / verliese / 'n klein stap van hier
tot in die gestig / ek check nou elke dag
in / nie meer uit nie / my temperatuur 36.1 /
vlakke skuif / in hierdie tyd van swart swane /
terug tot in die doofpot / o hoor my aan o hoor my aan


© Joan Hambidge