Sunday, July 19, 2020

Resensie | Jakobus van der Riet - Die heimlike heiligdom | Protea, 2020

Jakobus van der Riet: Die heimlike heiligdom. Protea, 2020. ISBN 978 1 4 853 1022 8

Resensent: Joan Hambidge

Jakobus van der Riet se Die heimlike heiligdom is sy tweede bundel na Die onsienlike son (2012). Hierdie tweede bundel bestaan uit aangrypende sonnette oor heiliges. Die heimlike heiligdom soos in die kenbare, die sigbare, die aanvaarbare teenoor die “unheimliche”. Freud se bekend term Das Unheimliche roer dus in die ondergrond. 

Die bundel bevat 'n vyftigtal bepeinsings of meditasies oor heiliges wat deur die Oos-Ortodokse kerk gekanoniseer is. Die digter verskaf ook endnote vir die leser. Die digter is ’n geordende priester in die Griekse Ortodokse kerk. Ons verneem ook dat hy die grade behaal het in die Teologie en Klassieke Tale, en ’n doktorsgraad by Wits verwerf het oor die digkuns van Horatius, Catallus en Tibullus. Hy kombineer tans die Ortodokse priesterskap in die bisdom van Johannesburg en Pretoria. Verder verneem ons dat hy ook bibliotekaris is.

Dit is 'n bundel wat sterk tot hierdie leser gespreek het om 'n verskeie redes. Die beskrywing van die meditatiewe en religieuse dimensie – soos in die verse van Sheila Cussons – is boeiend. En terselfdertyd kom 'n mens onder die indruk van die digter se óngelooflike tegniese beheer.

Die religieuse lewe bring hy hier onder woorde byvoorbeeld in die “Die Heilige Evangelis Lukas” (14) waar hy hom so tipeer:

maar sin ná sin bly jy immer die selfbeheersde stilis

met 'n die pragslot:

Lukas, kyk hoe tref die litotes en onderbeklemtoning,
sodat die gegewens des te meer uit die boekrolle spring.

Boonop is Van der Riet se verse in oortuigende sonnette verpak. En wanneer hierdie vorm oortuig, beweeg die gedig moeiteloos. 'n Swak sonnet staan uit soos 'n pap wiel.

Die klinkdig is 'n strikte vorm hetsy die Petrarcaanse (Italiaanse) of Shakesperiaanse (Engelse) vorm. In Engels is daar ook die Spenseriaanse-vorm. En vele afwykings bestaan; o.a. die gebreekte sonnet so meesterlik uitgevoer deur Johann de Lange. Hennie Aucamp het puik sonnette geskryf en dikwels is beoefenaars van die sonnet ook liefhebbers van die kwatryn. Opperman en Eybers byvoorbeeld, en die reeds genoemde Aucamp en De Lange.

Die beoefenaar gee sy of haar interpretasie van die vorm.

Die Italiaanse sonnet (met die oktaaf en tersine) het 'n keerpunt (volta). Die Engelse sonnet volg die abab cdcd efef gg-patroon met 'n verdeling tussen drie kwatryne en 'n sluitende koeplet. In Break blow burn, daardie verruklike studie wat in 2005 verskyn het, sonder Camille Paglia tereg die sonnetvorm uit as 'n gunsteling. Met twee van Shakespeare. 

Emosie word in so 'n vorm gekristalliseer, verduidelik sy. En dis die essensie van Van der Riet se gedigte – die emosie word in beheer gehou deur die vorm waarin hy dit giet.

Van der Riet dig oor vele heiliges in Griekeland, Kappadosië, Kiëf, Konstantinopel en ander plekke. “Die heilige Kassiani die gesangdigter” het geleef tussen 834 en 867 N.C. Van haar gesange word steeds vandag nog gebruik. Sy het die ikonoklasme teengestaan met die bekende woorde: “Ek haat swye wanneer dit tyd is om uitgesproke te wees.”

Hier lees ons:

vir jou wat jou veer so diep kon doop in die psige se ravyn,
om ons die maanlose nag van selfverwyt en berou te toon? (38)

Hierdie bundel het my geneem na Helen Gardner se se antologie A Book of Religious Verse (1972) en hoé religieuse gedigte 'n bepaalde leser opeis, en ook haar eweneens beroemde studie oor John Donne: The Divine Poems of John Donne (1952).. Gardner was immers 'n Anglikaan en haar studies oor T.S. Eliot is uitstaande.

Hier is 'n gedig:

Die Heilige Paisios van die Heilige Berg

Jy vlieg verder, swerfvalk van God,
op jag na die tergende, lokkende prooi
wat skuil op Sinai se kruin of straks in ’n grot
aan Athos se hange, Tuin van die Nasaretnooi.

Vir jou, Paisios, bring die visarend vis,
in jou hand soek Walid, die rooiborsie, kos;
by jou luier die wesel, skilpad, slang en akkedis.

Jy sweef hoog, malmok van die Gees,
omsirkel die pole van ons gefolterde eeu
tot in jou verste vlerkveer gevoelig waar hees
die krete opklink, verwees soos dié van ’n roek of meeu.

Jy skrop nes, soos ’n bospatrys of ’n kelkiewyn;
naglank waak jy – hoe roep die uil, hoe huil die vos –
tot die lig deur die donker wolk van ons wanhoop skyn.

Dit is 'n pragtige, aangrypende bundel. En uiters leersaam.

Hierdie bundel neem sy plek in langs groot religieuse digters in Afrikaans, onder meer W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw (“Vier gebede by jaargetye in die Boland”), Sheila Cussons, I.L. de Villiers, T. T. Cloete. 'n Goeie balans tussen die konkrete en die abstrakte dimensies, opgevang in die die 14 reëls van die sonnet met sy metriese eise.

Dit word bemark as bepeinsinge of meditasies, maar dit sluit aan by die lang tradisie van die sonnet in alle tale. En hier is 'n moderne sonnet van een van my gunsteling-digters:

Sonnet

Afternoon sun on her back,
calm irregular slap
of water against a dock.
Thin pines clamber
over the hill’s top –
nothing to remember,
only the same lake
that keeps making the same
sounds under her cheek
and flashing the same color.
No one to say her name,
no need, no one to praise her,
only the lake’s voice — over
and over, to keep it before her.

Robert Pinsky


Jacobus van der Riet



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)