Thursday, January 1, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel I


DEEL I


I

Reis is om onsekerhede te trotseer. In Olga Kirsch se gevleuelde woorde:

Die koesterende skanse was weg. Weer is jy ontbloot
aan die yl, kil lug van ‘n onverskillige wêreld.

Vir my is om te reis gekoppel aan die "unheimliche", in die ínbeweeg van dit wat jy reeds weet en ook vergeet het. Soms is dit 'n onthutsende ervaring, want om aan te kom in 'n vreemde landskap beteken dat jy uitgelewer is aan swendelaars, diewe, 'n hotel wat dalk nie heeltemal aan jou verwagtinge voldoen nie. Gelukkig is dit net die reismoegheid wat jou oorkrities maak en die volgende oggend voel jy aansienlik beter.

'n Hittegolf in Buenos Aires. Om wakker te word in 'n vreemde bed met die dreunsang van die lugverkoeling ...

Jy ontdek dat geeneen van jou vele adapters in die muur pas nie. Ontvangs van die klein Rochester-hotel beloof moreoggend sal hulle kan help. Helaas nie. Maar 'n besoek die stad in neem jou na 'n klein nutswinkel waar jy blitsvinnig teen 'n skamele $2 kan konnekteer met die vreemde muurprop.


So lyk die hotel:
















II

Eers is daar 'n treinreis op die Premier De Luxe na Johannesburg. Op Beaufort-Wes gee die lugverkoeling in en die treinrit word enigsins onplesierig. Dalk 'n waarskuwing vir die hittegolf wat op my sou wag in Buenos Aires?

Die reis na Buenos Aires is lank, maar uiters plesierig. Ek vlieg via Dubai. Met Emirates en die diens is uitstekend. Ons land net voor middernag in Dubai. Nou sit ek maar en skryf in die besigheidsklas-lounge om  die wag te trotseer.

Met sonsopkoms stort ek en trek vars aan vir die lang vlug van Dubai via Rio tot Buenos Aires. Ongeveer 15 ure. Met wonderlike films wat ek herbesoek. Truffaut se Jules et Jim; Dead poets society van Peter Weir en Barbra Streisand in Hello, Dolly, 'n hoogtepunt in kamp. 


'n Onbekende Nederlandse film word 'n verbysterende analise van patologie. Die vrou vertrou die man wat haar en die kinders oorhaal vir sy saak ...

Dit heet Borgman (2013) van die filmmaker Alex van Warmerdam.

Hierna spook ek met 'n Deense outobiografiese rolprent. 'n Vrou vermoor haar  babadogtertjie van nege maande in 'n depressiewe uitbarsting. Die filmmaker, Nils Malmros,  lewer kommentaar op hoe hy hieroor 'n film sal maak met ons die kykers wat reeds aanduidings sien van hoé hy dit gaan verfilm ...

Sorrow and joy ...

So herbeleef ek klassieke rolprente en sien splinternuwes.

Emirates is waarskynlik nie om dowe neute gekies as die top-lugredery nie. Die diens is flink. My brekfis by die opklimslag is geskrambeerde eiers met tuinuie. Na my nag van slapeloosheid slaan ek onmiddellik die bed af en slaap vir drie ure.

Hierna is dit weer smul aan lieflike kos. Frans en Italiaanse wyn. En eye candy. Emirates se koffiemoffies en bedien(s)letties is van regoor die wêreld en beslis iets vir die oog. Hulle hou 'n goeie afstand tussen vriendelik en professioneel wees.

Ons land op Rio en moet vir 'n uur op die lughawe wag vir die laaste skof na Buenos Aires.

Vars hemp, vars bedienpersoneel en voilà, Buenos Aires, is gouer daar as wat ek gedink het.

Waarom Buenos Aires? In die laat-tagtigerjare het ek 'n sirkelreis deur Suid-Amerika onderneem: Brasilië - Uruguay - Chile -  Equador - Bolivië en uiteindelik tot stilstand gekom in die Amasonas. Hoogtepunte was 'n besoek aan Buenos Aires en Machu Picchu.


El Condor Pasa

“Dit was my bestemming en hierin lê die reis van my begeerte”. Pablo Neruda

In Macchu Picchu, die heilige Inka-stad,
hoor ek Pablo Neruda se stem fluister deur die rotse:
“die nagwind draai in die lug en sing”.
In iedere kliptafel lees ons sy boodskap van ‘n reis
ver weg van aardse vernietiging, eindigheid en verdriet.
Heilige Macchu Picchu bewaar sy gees
teen die onstuimige rivier en kil berglug
- sy sterk stem praat sag deur die mistige môrelug.
Al die aangebode raaisels hier aanwesig
in ongeskonde berg en rivier en ryk relieke.
Telkens lees ons dieselfde opdrag: in elke einde, dood
lê ‘n nuwe begin ópgesluit.
Met die aflegging van die self soos ons opbeur
na die hoogste punt van ‘n eens verlore beskawing,
pynlik bewus van ons argeloosheid
oor die krag van die lewegewende natuur.
Klim op, hoër na self-
loosheid – na stilte volledig.
Die kosmiese plan hier aanwesig,
argetipies in die roerlose rotse afgedruk – ontdaan
van nuttelose oordaad of menslike verdelging.
So ook die reis in die self: ‘n smagting
na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.
Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.

'n Paar jaar terug het ek weer Macchu Picchu besoek en in my bundel Vuurwiel (2009) weer oor die stad gedig.

III

Vir my is reis intiem verbonde aan die skryfproses. 'n Bekende digter het op 'n keer my daarop gewys dat ek my gedigte vér gaan haal.

Verdraaide raaisels was 'n reisverslag oor die einde van liefdesverhouding, 'n bestekopname van die ontsluiting van psigiese raaisels. Dit is dan uiteindelik ook 'n bundel waarin ek reeds sekere primordiale kwessies aanspreek.

Buenos Aires wou ek weer besoek, nie alleen omdat dit die stad van die tango is nie, maar dit is ook 'n stad waarin psigoanalise steeds met erns bestudeer word.


So het ek al oor hierdie dansvorm gedig:

Lyftaal

Hulle dans die tango,
Die dans van begeerte,
asem ophou – asem snak.
Speel met kopulasie
(bene in mekaar, uit,
inmekaar)
voorspel tot die regte ding.

Twee minnaars dans die tango,
hier in Buenos Aires,
seks met klere aan – snak.
‘n Wilde dans van wellus en frustrasie.
Nader, nader aan, naderhand,
nader aan die hand se paai,
amper-amper ‘n regte naai.

Buenos Aires

Uit: Verdraaide raaisels. Human & Rousseau, Kaapstad. 1990.


La Jalousie

Die hárt-
stogtelike ritmes van die tango

markeer hiernatoe, daar-
natoe, presies

(vrou teenoor vrou)
roos tussen haar tande

presies presies
so swóél soos ‘n

nag in die Amasone,
‘n hittegolf in Buenos Aires

inmekaargepas soos
‘n pit in ‘n tropiese vrug

volmaak tot hier –
beheerde hartstog, jalóésie.

Uit: Ewebeeld. Perskor, Johannesburg, 1997.

Andres Raskovsky is hoof van die Argentynse vereniging van psigoanalise en hy meen dat hierdie belangstelling te make het mense se soeke na identiteit (Psychoanalysis in Argentina: Something to Talk About? Besoek 30 Desember 2014)


Foto: Thomas Locke Hobbs

Hy skryf oor die belangrikheid van Freud in die Pampas:

He points out that psychoanalysis originally developed within the immigrant community. It allowed the many Argentines who felt disconnected to their roots and confused about their identity to concentrate on “the search for origin and family history”. He joked: “They say that the Mexicans are descended from the Aztecs, the Peruvians from the Incas and the Argentines from the boats!’”

Waarskynlik het ek in die laat-tagtigerjare Suid-Amerika besoek in herwinning van identiteit na 'n slopende en verdrietige einde. 'n Verhouding wat ek deur die jare besef het weinig te make had met die trouelose persoon wat al die verse aangestig het; die persoon was net die katalis vir die teenstrydige tekens in my gemoed.

Hierna sou ek die vreugde van alleenheid ontdek, die "baptism of solitude", soos Paul Bowles dit klinkend noem. (En my volgende bestemming sal dan op sy aansporing na die Sahara wees.)

IV

Descend lower, descend only
Into the world of perpetual solitude.

T.S. Eliot



Paseo Trocadero

Jdl

Oppas vir kansvatters en skelms
en grypdiewe, waarsku jy; ons leef
in moeilike tye. Hoi hoi, roep ek,
hoe vreemd
dat dít wat moet beskerm
jou uitlewer? Nog 'n jaar
het ons oorleef en as ons die jaar
sou personifieer, was sy 'n genoot,
wispelturig en bemoeisiek.
In 'n kafeetjie sit 'n man
met 'n Batman-t-shirt
diep in 'n selfgesprek gewikkel.
My stil binnepraat rig ek tot jou
op 'n ander kontinent, in 'n ander tydsone.
In 'n sloom namiddag, Buenos Aires
spoeg 'n man op straat, wyl 'n ambulans
straataf neuk. Papiere dwarrel
vrugteloos grond toe
nes hierdie praatsiek gedig.
In 'n digstring sou ek vlot reageer
op vrae soos wat-het-die-gedig-aangestig?
'n Reis na die Pampas om weer die tango
as simbool van die digkuns te beloer
daar doer in die Buenos Aires in
sodat ek my brose psige kan beskerm
teen te veel afwesigheid en die groot-groot Niks
in die land van spekskieters en verspeelde kanse.
Hoe het jy gevoel toe jy die vers geskryf het?
Warm en aan't spook om al die ritmes
raak te dans nes die twee dansers
op die uithangbord van die Trocadero Paseo
gestol in 'n volmaakte rymdwang pose:

So oppas vir digters
wat kierangslaai eet
en gedigte afruk
van advertensieborde
niksverrymend.


V  Tango

My gunstelingfilms waarin tango 'n rol speel:

Last Tango in Paris (1972) met  Marlon Brando en Maria Schneider. Bernardo Bertolucci.
Scent of a Woman (1992), Al Pacino as die blind Kolonel.
Strictly Ballroom (1992). Baz Luhrmann
Evita (1996), Madonna en Antonio Banderas dance.
Moulin Rouge! (2001) Baz Luhrman
Chicago (2002) met Renée Zellweger, Catherine Zeta-Jones en Richard Gere. Rob Marshall

Vir 'n uitgebreide lys sien Tango (Besoek 30 Desember 2014).

Joan Hambidge