Tuesday, January 13, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel XI: Terugkeer


DEEL XI 

Terugkeer

Met 'n swaar hart staan ek op. Sommer dik befoeterd omdat ek moet terugkeer.

Die verhouding met 'n stad is soos 'n liefdesverhouding. Jy kan nie presies bepaal wanneer dit onder jou vel ingeklim het nie. Jy weet net skielik op 'n dag jy is 'n gevangene van jou gevoelens. Dat jy die stad of persoon onder lede het.

Vroegoggend brekfis ek en gaan swem vir oulaas op die boonste verdieping. Die reis gaan lank en swaar wees en hierom moet 'n mens jou liggaam soepel kry. Ek voel dadelik beter na my swemsessie en besluit om weer 'n oopdakbustoer te onderneem. Bykans dieselfde roete, maar 'n ander bestuurder wat ongeskik op sy remme ry. Gelukkig het die bodek van die bus 'n seildak wat die hitte afweer.

Jongelinge swem in fonteine. Die kraaie gaap.


Pablo Neruda en Federico Garcia Lorca - 1934

Hoor weer hoe Lorca hier besoek afgelê het om die produksie van Blood wedding mee te maak. Ons sien die hotel waar hy tuisgegaan het en dit is duidelik hoe belangrik sy besoek vir die Argentyne was.

Ook huldig hulle die standbeeld van Don Kiesjot - geskenk deur die Spanjaarde - en 'n afbeelding van Rodin se Die denker.

Die verhouding tussen die kolonie en die moederland word voortdurend uitgewys. En kulturele besoeke van Domingo en Carreras is belangrik vir hierdie mense.


Daar is 'n José Ortega Y Gasset-straat en selfs een vernoem na JFK. Gasset se "filosofie van lewe" sou bepaald hier aanklank vind. Tydens die Spaanse Burgeroorlog het hierdie filosoof 'n tuiste gevind in Buenos Aires en hierom word hy gehuldig deur die mense van hierdie stad. Hy keer wel na die oorlog terug na Madrid (in 1948) waar hy klasgee in die Geesteswetenskappe.

Die verskillende avenues is bepaald bakens. Hier is ook 'n straat wat nooit slaap nie en die Palermo-gedeelte herinner aan Manhatten se Greenwich Village. In elke stad is daar 'n plek vir die dwarses en aweregses en kunstenaars.

Aanskoulik is die oop museum in Caminitostraat in La Boca.

Die roete is nie identies aan gister se reis nie en ek soek vergeefs na 'n aanskoulike gebou ...

Daar is baie belangrike kunsmuseums in hierdie stad. Die operahuis se luike is vanoggend oop en die Kersboom word verwyder. Hier is dinge aan die kom!

Verdi se Aida is tydens die opening opgevoer. Ek onthou 'n opelugopvoering in Pretoria: Loftus Versfeld. Lieflik. Met laserstrale en olifante en sangers doer ver ...

*

Om te dans in Borges se stad

Meneer Borges,
in die stad van Goeie Winde
ja, in die stad van Goeie Winde
het ek vele danspassies uitgehaal
in 'n vergeefse soektog na u.
In die geliefde Café Tortoni
sit u nou verewig, 'n standbeeld,
langs twee vriende, rustend op 'n wandelstok
waarmee u as blinde moes koers kry
van Palermo tot die Avenida de Mayo,
deur die straat wat nooit slaap nie ...
'n Roete wat ek nougeset volg
met 'n oopbustoer waar 'n anonieme
stem tereg verwys na u:
"Hier het Jorge Luis Borges koffie gedrink,
met kunstenaars gepraat"; "Daar het Lorca
vertoef toe Blood wedding opgevoer is ...";
"Hierdie straat is vernoem na Ortega y Gasset,
daardie een na JFK ..."
Nou plaas ek 'n Café doble voor u neer:
in my soektog na u, meneer Borges
vind ek ook ánder figure en bakens:
bakens van bloed en politieke blindheid;
waarvan daardie alwetende stem bloedmin wis.
Perón en Menem en wie nog afgejaag;
monumente en geboue blindelings afgetel ...
Strate, so weet ons, net vir dié met die groot gebaar,
selde vir diegene wat in 'n blinde labirint verdwaal.

*

Nou's dit lughawe toe gaan. Dieselfde man wat my opgelaai het by my aankoms, laai my weer af. Ons is beide bly om mekaar weer te sien. Die vriendelikheid (en behulpsaamheid) van die Argentyne sal my altyd bybly.

Ek tel 'n blaar op - heel simbolies.

Op die lughawe skenk ek 'n hemp wat beter dae geken het aan 'n arm man. 'n Lacoste (ja dit Lacoste-so-baie), wag in die lounge met skrapse versnaperinge.

Dan begin die lang vlug - wat beteken dat jy letterlik 'n hele dag aan't reis is van Buenos Aires tot Dubai. EK 248.


Maar ek kla nie. Die kos is voortreflik: gerookte salm. Les Tourelles de Longueville 2008 Paullica, Frankryk. Port uit Portugal (Porto Dalva Colheita 1985, Douro, Portugal) en 'n Chardonnay uit die boonste rakke: Larry Cherubino Pedestal Chardonay 2013 uit Australië.

Ek rus, maar kyk 'n Portuguese en Franse film: helaas ook gedeeltelik na Vrou soek boer ...

Laat ons liewers die swygreg behou. Die Franse film (Die laaste diamant) is 'n speurverhaal en dié se geweld aktiveer die terreur in Frankryk. Die Brasiliaans-Portuguese film, Red neck, is nie veel van 'n film nie, maar gee tog uiting aan die landskap en kultuur.

Op Dubai-lughawe - waar ek sowat drie ure moet wag - lees ek vinnig e-posse. En dink oor my wonderbaarlike reis.

Ek wou nog vra: waarom is daar so baie plakkate van verlore mense in Buenos Aires?

Nou wag vlug EK 722 op my.

Joan Hambidge