Sunday, January 4, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel III


DEEL III

Sistema crusado

Cataratas del Iguazú beteken letterlik groot rivier en lyk soos 'n omgekeerde letter J.

Dit begrens Argentinië en Brasilië.

Vroegoggend vertrek ons na hierdie natuurwonder en onmiddellik ontstaan daar 'n debat: van watter kant af is dit die mooiste, die grootste, die wonderlikste?

"Groot waters" het ek al op verskillende kontinente meegemaak. Die Niagara-valle vanuit die Kanadese grens; die Victoria-valle in Zimbabwe en die Iguasso, nou en tydens die tagtigerjare besoek aan die Brasiliaanse kant. Volgens keiharde feite is die Victoria-valle die hoogste, maar die Iguasso-valle die wydste.


Eleanor Roosevelt het glo by 'n besoek aan hierdie valle opgemerk: "Poor Niagara!"

Hiermee wil ek wel aanteken: niks, maar niks kan die Victoria-valle se grootsheid troef nie. In die nag wanneer 'n mens by die hotel tuisgaan, hoor jy die valle rommel. Magies, groots - lieflik en ook anders vanuit die Zambiese perspektief. Met 'n visum kan jy oor die brug wandel en die verskille sien ...

*

Ongeveer agtuur begin ons stap en die eerste lafenis is halftien. Dit is bedompig. Daar snuffel 'n klompie miervreters met hul kleintjies in die bosse. 'n Ent weg staan 'n advertensie-foto met Robert de Niro en Jeremy Irons uit die onvergeetlike film uit 1986, The mission.  Ons groep is hoofsaaklik middeljarig, behalwe vir twee Spaanse jongelinge. En so 'n paar fortysomethings. Die pas is styf, maar ek hou by. Steek selfs twee Duitse Tantes verby. Al voel ek dan en wan na 'n omgekeerde J!

Orals is daar waarskuwings om nie kinders te abba oor die bruggies nie. Ons stop telkens om die verskillende aanskoulike watervalle te sien. Hoe die water stort oor die afgrond is aanskoulik. Van ver is dit wit skuim, van nader bruin, grommende water. Tot 82 meter diep.

Eers in 1541 is hierdie valle ontdek en natuurlik is daar 'n legende oor waarom hierdie valle so verdeeld is. 'n God wou trou met 'n sterfling, ene Naipí wat met haar geliefde Tarobá in 'n kanoe weggevlug het en toe neem die jaloerse god wraak. In 'n woedebui het hy die rivier in twee gesny en die geliefdes verdoem tot 'n ewige val, aldus ons gids, Carlos.

Daar is ook 'n Duiwel se keel hier te besigtig.

Van die Brasiliaanse kant kan 'n mens die valle per helikopter meemaak. Ook iets wat toegelaat word in Zimbawe en die vrees in 'n mens inbliksem. In Zimbabwe is die paadjies beslis natter weens die mis wat oor alles hang. 'n Mens gly ook makliker. Hier is dit weliswaar veiliger met genoegsame rusposes.

'n Mens mag uiteraard nie die wilde diere kosgee nie en orals is daar waarskuwingsborde om te wys wat kan gebeur as 'n wilde apie jou byt. Liederlike bytmerke en siektes. Laatmiddag steel 'n apie kos uit 'n toeris se bord en 'n miervreter eet lustig saam.

Ook mag 'n mens nie blomme pluk of aan die vlinders raak nie. Miskien skuil daar iewers 'n jaguar?  

Orals is daar groen dromme, organies en nie-organies, in hierdie Unesco-bewaringsmonument wat selfs aandag gee aan hoeveel mense per dag mag besoek aflê. En die geraasvlakke mag nie te hoog wees nie ten einde die wilde diere in ag te neem.

Die laaste skof is 'n treinreis om die beroemde Duiwel se keel te besigtig. Die beroemde Graganta del Diablo. In hierdie bedompige arena staan daar meer as 500 mense wat die treintjie moet neem na hierdie besienswaardigheid. En dit begin knor in die hitte. Ek sit onder 'n sambreel en wag. Die vriendelike gids het beloof hy sal my kom haal wanneer die treintjie kom. Die mense in die groep raak knorrig. Kulturele stereotipes spring na vore. Die Duitsers bly beleefd. 'n Britse vrou verloor haar humeur. Waarom het ons nie vroegoggend met die treintjie gegaan nie? Dan het ons nie gewag nie?

Die gids besef hy moet intree. Hy lei ons na die koel restaurant waar 'n koue bier die gemoedere kalmeer. Uiteindelik keer hy terug. Jammer ons sal nog twee ure moet wag vir die treintjie ... En ja, jammer: hulle kry as gidse opdrag oor watter roetes hulle moet volg.

Miskien eerder terugkeer hotel toe? Almal dink dit is goed. Ons het immers die Iguasso uit verskillende perspektiewe beleef. 'n Paar mense het selfs 'n boottrip ervaar en sopnat teruggekeer. Goddank ek het dit misgeloop. Laas dit meegemaak by die Niagara waar jy so reg onder die valle indreun asof jy stort en jou heiland leer ken. Genoeg is genoeg! Ons het vir bykans vyf ure tone geklap. In my geestesoog roep die hotel se swembad.

*

Op die Wikipedia word die volgende films oor hierdie besienswaardigheid aangeteken:

Moonraker (1979)
The Mission (1986)
The Country Bears Down Under (1990)
Baraka (1992)
Extermineitors IV: Como hermanos gemelos (1992)
O Trem Caipira (1994)
Tummy (1995)
Happy Together (1997)
Mr. Magoo (1997)
Miami Vice (2006)
In the Hands of the Gods (2007)
Indiana Jones and the Kingdom of the Crystal Skull (2008)
OSS 117: Rio ne répond plus (2009)
Salve Geral (2009)
Operação X (2011)