DEEL IX
Op
die spoor van Borges
Die afgelope drie dae is my reis versuur en
ómvergewerp deur terrorisme in Parys. Dit gooi 'n skadu oor alles. Dis al
waaraan 'n mens dink. Saans kan jy nie wag om CNN te kyk en die jongste verslae aan
te hoor nie. Is dit dalk die begin van 'n slopende wêreldoorlog?
Die Groot Sinagoge van Parys. (Foto: Wikimedia
Commons)
'n Kenner van terreur - met 'n pienk das -
vergelyk dit met kanker. 'n Mens sal elke keer 'n nuwe groeisel of melanoom
moet verwyder. Op Vrydagaand is die sinagoge in Parys gesluit; die eerste keer
sedert WO II, uit vrees vir 'n Jodeslagting. Die supermark in Parys waar vier
gyselaars doodgeskiet is, is kosjer. Die niggie van die vroulike psigoanalis
wat by Charlie Hebdo doodgeskiet is, verduidelik dit is omdat sy Joods was.
Dis ons 9/11/. Dis oorlog. Dis verskriklik.
Dis 'n aanval op spraakvryheid. Houllebecq se uitgewer is vreesbevange ...
Maar dis nie Islam teen die Christendom
nie. Vele Franse is nie meer Christene nie. Dis eerder die opstand van jong
mense wat oewerloos ronddobber in Parys en deur fundamentaliste opgesweep word.
Maar 'n mens kan nie vergeet hoe WO I begin het nie ... dit kos net een
waansinnige.
Dis moeilik om die footage uit 'n mens se
bewussyn te weer. Maar vanoggend besluit ek om te sê: Je suis Charlie en die stad binne te vaar. Op die spoor van Borges
om die besoedeling in my gemoed af te weer.
Uiteraard het Buenos Aires ook al
terroristiese aanvalle beleef: op 17 Maart 1992 is daar 'n bom gegooi op die
Israeli Ambassade (29 mense dood; 242 beseer) en op 18 Julie 1994 is 85 mense
gedood in 'n gebou wat verskillende Joodse organisasies gehuisves het.
Moderne media maak egter alles intenser.
CNN is orals aan. Nuuskanale domineer gesprekke in restaurante en hotelle.
Buenos Aires se mense is porteñas,
letterlik mense van die hawe. Die stad is toegegooi onder toeriste (selfs twee
Afrikaanses raakgeloop!). Wanneer mens met die inwoners gesels, onthou hulle
almal die tragedie toe die nagklub aan die brand geslaan het en ongeveer 200
mense doodgebrand het. Dit was in Desember 2004 by die Republica
Cromagnon-nagklub.
Buite om die stad heers daar armoede. Op
die platteland is daar selfs modderhuisies, genaamd villas miserias. Op elke
toer word 'n mens daarop attent gemaak dat daar nie genoeg parke is in hierdie
stad nie. Die swembad bo-op my hotel (9e verdieping) gee 'n panoramiese blik op
die stad wat bewys hoe min parke daar is - selfs minder as in New York wat
uiteraard nadelig is vir 'n mens se gesondheid.
Daar is 'n besondere groot Joodse
gemeenskap in die stad en selfs 'n park geskenk deur die Japannese; wat
aanvanklik hul geld gemaak het uit blomme en wasserye!
Dit is besonder warm en humied hier: die
weer is presies dieselfde as Durban s'n. Die kwik kan tot 33 grade styg. Ek hou
van sulke warm weer - dit gee die liggaam kans om van al die toksienes ontslae
te raak wanneer jy wandel.
Ek vertoef in die ouer, gevestigde gedeelte
van Buenos Aires met sy statige geboue. Moderne blouoog-geboue skiet na vore
net buite die ouer gedeelte óm sodat 'n mens 'n duidelike skeidslyn kan sien
tussen oud en nuut. Die Barolo-gebou is o.a. 'n voorbeeld van Art Nouveau.
Daar is geweldig baie teater te siene (te
oordeel aan die plakkate) en die operahuis (Teatro Colón) is internasionaal
gereken. Placido Domingo het al dikwels hier opgtree. Daar is baie boekwinkels
en oor die 200 museums om te besoek. En 'n dieretuin.
Behalwe vir die sterk Spaanse invloed, is
hierdie stad ook 'n plek wat huisvesting gebied het aan vele Italianers aan die
begin van die twintigste eeu. Cocoliche is die pidgin wat gepraat is, 'n
vermenging van Italiaans en Spaans. Helaas word dit nie meer gepraat nie ...
In 2009, so vertel die anonieme stem op die
oopbustoer se mikrofoon, het UNESCO die tango tot internasionale bewaring
verklaar.
En Pous Franciskus, die huidige Pous, is 'n
boorling uit hierdie geweste. Diego Maradona is steeds 'n groot held: hy is
bykans elke dag op televisie in 'n onderhoud te sien.
Foto: AFP/GETTY IMAGES
*
Die Gran Café Tortoni is letterlik drie
blokke van my hotel geleë. Vroegoggend stap ek na die Avenida de Mayo 825. En
bestel 'n koffie met melk. Borges se standbeeld is in die hoek en ek neem die
tafel reg langsaan. Om neffens Borges te sit. ('n Japannees neem my af neffens
hom.)
Die kafee is in 1858 oopgemaak en is een
van die oudste bakens in sy soort. Ten spyte van wat 'n mens verwag, is die
pryse billik (in vergelyking wat 'n mens al gewoond begin raak op so 'n reis).
Daar is beroemde avenues hier soos die
Avenida Alvear, Avenida de Mayo en 9 Julio de Avenue, een van die wydste strate
op aarde.
*
Stede het persoonlikhede. Die klimaat
herinner aan Durban, maar die statige ou geboue weer aan Madrid ... en ja selfs
die eens statige middestad van Pretoria uit my jeug. En die buite-streke van
die stad met sy malls en moderne geboue het 'n klap weg van Toronto.
Dis 'n mooi stad, ja.
Die aand neem ek 'n taxi na die Puerto
Madero. Buenos Aires se Waterfront. Die restaurante lok met lekker kos en wyn.
Buite wandel toeriste en inwoners. Dis besig om af te koel en die sonsondergang
skyn pienk op die mooi nuwe geboue. Niks kom by Edinburgh se pragtige pienk
sonsondergange nie, maar nietemin is dit aanskoulik hier.
Hierdie is meer 'n daguitstappie, besef ek.
Die vullisblikke is oorvol gemors. Met waterbottels en ander uitskot. Hopelik
word dit more verwyder ...
Orals is daar sigaretstompies.
Met my terugkeer beleef ek 'n oomblik wat
so uniek is aan reis.
Die taxibestuurder, ene Marcos is van Peru
en meer spesifiek van Machu Picchu. Hy jubel van blydskap dat ek al tweekeer
daar was. Ons neuriesing “El condor pasa” (Blad besoek 10 Januarie 2015):
I'd rather be a sparrow than a snail
Yes I would
If I could, I surely would
I'd rather be a hammer than a nail.
Yes I would
If I only could, I surely would.
Away, I'd rather sail away
Like a swan that's here and gone
A man gets tied up to the ground
He gives the world
Its saddest sound, its saddest sound
I'd rather be a forest than a street.
Yes I would
If I could, I surely would.
I'd rather feel the earth beneath my feet
Yes I would
If I only could, I surely would
Die lied is beroemd gemaak en aangepas deur
Paul Simon en Art Garfunkel.
Foto: Mario Ruiz/EFE
En die voordeel van só 'n besoek is dat 'n
mens nou met meer konkrete verwysings na tekste uit hierdie letterkunde sal kan
terugkeer. En Dakar duur voort. In die
sesde skof van Antofagasta na Iquique in Chile sukkel
onse Giniel om vir Nasser in te haal.
Bykans van hulle vergeet weens die terreur
in Parys.
Ek begin skryf aan 'n gedig oor
Borges.
Joan
Hambidge