Tuesday, December 30, 2014

My drie poësie-hoogtepunte vir 2014


Op versoek van Rapport het ek my 3 digkuns-hoogtepunte vir 2014 gekies:

​Antjie Krog: Mede-wete (Human & Rousseau)

Ongetwyfeld is Krog ’n hoogtepunt. Sy dig oor sowel die persoonlike as die politieke dimensie, en die volgehoue spel met Paul Celan en die ontginning van taal is verbluffend.

Krog in al haar kompleksiteit is hier aanwesig: woedend en teer; in praatvers en met sterk vormbeheer. Sy skryf in teen stilgemaakte swart stemme en aanwesige, gekanoniseerde digters. Dit is ’n vreeslose bundel, ’n bestekopname van ons land en ouer word. Die gesprek met sowel die moeder as vader is hier aanwesig. Dit open met ’n lykdig oor die vader, en die besit – die plaas gemetaforiseer as die werf – word ook onder die loep geneem. Daar is hartgrypende verse oor kleinkinders opgeneem.



Hierdie digter het ’n groot register.
Johann Lodewyk Marais: Nomade (Cordis Trust)

Hierdie reisboek karteer hoofsaaklik Afrika-reise. Afrika in al sy kompleksiteite – armoede, oorlog, misterie, verskillende godsdienste – kom aan bod. Die “politieke onbewuste” rig vele verse. Die landskap word beskryf, maar telkens afgekaats teen die waarnemer en die gebruik van vreemde Afrika- en Arabiese woorde gee iets eksoties aan hierdie bundel. Daar is kragtige verse soos die een oor Mandela.

Hierdie bundel is ’n diorama en die leser kan telkens ’n gesprek sien tussen ander verse in die digter se oeuvre.




Marlise Joubert (samesteller): In a Burning Sea (Protea Boekhuis)

Hierdie vertaalprojek gee lesers, sowel plaaslik as in die buiteland, ’n blik op die veelvoud van die Afrikaanse digkuns.

Telkens word die vertaling langs die oorspronklike teks geplaas en die vertalings van onder andere Johann de Lange, Charl J.F. Cilliers en Tony & Gisela Ulyatt laat die verse reis na nuwe bestemmings. ’n Mens sien hoe verse nuwe betekenisse aanstig.

Deesdae is vertaalprojekte en gesprekke oor vertaling hoogmode, waarskynlik omdat die wêreld finaal ’n global village geword het. Soos met enige antologie sou ’n mens ander verse wou sien of meer van ’n bepaalde digter, maar ’n mens moet Marlise Joubert loof vir haar harde werk om al die Afrikaanse digters in een boot te kry “in a burning sea”.