Hartlik geluk met jou jongste roman Voorouer. Pelgrim. Berg wat 'n tour de force is.
1. Jy is, wat hierdie leser betref, een van die belangrikste romanskrywers werksaam in Afrikaans. 'n Mens sou jou ten beste kon vergelyk met die filmmaker Federico Fellini se filmkuns in die hantering van verskillende stylsoorte, die wisseling van toonaard, die samesnoering van die religieuse en primordiale. Hoe voel jy?
Om met die grote Fellini in een asem genoem te word, is ‘n groot kompliment. Ek het met verskillende stemme/toonaarde gewerk, maar oor die samesnoering van die religieuse en primordiale kan ek helaas nie oordeel nie.
2. Jy is ook 'n skilder. In jou tekste is daar verwysings na beeldende kunstenaars. Hoe voel dit om in twee wêrelde te werk?
Ek het albei nodig, hoewel daar vreemd genoeg min tematiese oorvleueling tussen die twee is. Soms voel ek wel dit sou makliker wees as ek net in een van die twee werksaam was – my aktiwiteit sou dan minder verbrokkel wees.
3 Jou kennis van die Bybel en die apokalips speel jy moeiteloos af teen die einde-van-die-tyd wat tans ons almal so beproef. Is die menslike lewe uiteindelik – evolusionisties gesproke – nie maar min werd nie? Ek verwys nou na 'n karakter se opmerking in Klaaglied vir Koos, jou aangrypende debuut van 1984.
In die groter evolusionêre prentjie stel die menslike lewe sekerlik min voor. Maar ons menslike lewens is ons enigste werklikheid – dit het vir ons ewe veel betekenis en gewig as die ganse heelal met sy big bangs en sy supernovas en sy multi-heelalle en sy elf dimensies en sy kabbelende uitdyendheid. See if we care as ons sleg migraine het, byvoorbeeld.
4 Jy skryf – soos Philip Roth en Saul Bellow – waarskynlik aan een groot teks. 'n Soort katedraal waar elke bieghokkie of brandende kers (of die orrel) ter sake is. Hoe voel jy oor hierdie twee romanskrywers?
Ek is ‘n onbeskaamde Bellow fan-girl. Daardie skrywer het my waarskynlik al meer plesier verskaf as alle ander skrywers saam. Ek het onlangs weer Roth herlees (nou nie sy ganse uitgebreide oeuvre nie), en dit minder indrukwekkend gevind as wat ek verwag het. Selfs met Sabbath’s Theatre, allerweë as ‘n hoogtepunt beskou, het ek gedink: Nee! Sny! Te veel! Hier is ‘n goeie redakteurshand nodig!
5. Ons beleef tans 'n tyd van politieke korrektheid. Roth se biograaf, Blake Bailey, moes dit ontgeld en sy biografie is onttrek weens hangende klagtes van seksuele teistering.
His publisher, W.W. Norton, took swift and unusual action: It said on Wednesday that it had stopped shipments and promotion of his book. “These allegations are serious,” it said in a statement. “In light of them, we have decided to pause the shipping and promotion of ‘Philip Roth: The Biography’ pending any further information that may emerge.”
'n Beoordelaar, ene Carmen Callill, wou hom ook nie op die Booker-kortlys plaas nie weens beweerde misogonisme. Is hierdie gelykstelling van 'n lewe en skryfwerk aanvaarbaar vir jou?
Nee, heeltemal onaanvaarbaar. Daar gaan naderhand nie meer ‘n skilder, skrywer, komponis oorbly wat kosjer is nie. Om enkele voorbeelde te noem: Debussy en Picasso was monsters. Pound, Celine en Anton Webern het hulle by die fasciste geskaar. Wagner, Renoir, Degas en T.S. Eliot was anti-semiete. Balthus was waarskynlik ‘n pedofiel. Lucian Freud was ‘n ellendige pa. Foucault het onbeskermde seks gehad toe hy vigs gehad het. Althusser het sy vrou doodgewurg. Waar trek jy die grens? Wie bepaal wat die deurslaggewende oortreding is? (Eietyds is gender- en rasoortredings onvergeeflik). Gaan ons nog net fokus op die werk van reinlewendes, diegene wat ‘n onberispelike baanrekord het? (Ons eie Van Wyk Louw het owerspel gepleeg, as iemand dáárteen morele beswaar het.)
https://www.nytimes.com/2021/04/21/books/philip-roth-blake-bailey.html Besoek 25 Junie 2021
6. Ek vind die gebruik van boerename veelseggend in jou tekste. Karolina Ferreira. Jy het ook geskryf onder die skuilnaam Lettie Viljoen. Dit is bykans asof jy 'n ou vergange manier van dink wil begryp. Het ek gelyk?
Ek hou van drie-sillabige vrouename – dit gee ‘n lekker gewig aan die karakter. Buitendien het meer eietydse name te veel assosiasies met mense wat ek ken.
7. In die uitsonderlike brieweboek van Saul Bellow skryf hy dikwels oor literêre kritiek en die impak daarvan op die skrywer. Fellini is smalend in die dokumentêr (Damian Pettigrew.2002. Fellini: I'm a Born Liar) oor kritiek; tog gee hy toe dat hy dit wél lees. Karel Schoeman het glo gevra dat hy geen resensies wil ontvang van sy uitgewer nie. Maar kan 'n skrywer (of filmmaker) werklik in 'n vakuum skryf of werk?
Nee, natuurlik werk kunstenaars nie in ‘n vakuum nie. Maar mens moet weet aan wie se kritiek jy jou wil steur. Negatiewe kritiek is soms nie sleg nie – dit laat mens jou sokkies optrek. Maar venynige kritiek – nouja.
8. Jou romans is eerder metafories as metonimies (Roman Jakobson). Jou boeke ondermyn die konvensionele siening van plot. Is dit dalk die skilder wat hier intree en koekeloer oor die skrywer se skouer?
Nee, ek dink nie dis ‘n geval van enige inspraak deur die skilder nie. (Buitendien is daar heelwat skilders wat verhalend skilder.) Nee, dis meer ‘n geval dat my idee van plot nie ooreenstem met wat allerweë as plot beskou word nie. Daar is ander aspekte van die roman wat my baie meer as plot interesseer.
9. Jou tekste sit vol Boeddhistiese en ander Oosterse verwysings, wat teenoor die Bybel geplaas word. Kan 'n Westerling ooit werklik die Oosterse denke "bemeester"? Ek dink hier aan Jung wat flou geword het by 'n eerste besoek aan Indië en die verskillende argetipes beskryf in sy tekste.
Soveel Boeddhistiese en Oosterse verwysings is daar ook nie in Voorouer. Pelgrim. Berg. nie! Die Dogon-aanhaling vind ek byvoorbeeld juis pragtig omdat dit so heeltemal ánders is as die Westerse manier van waarneem. Dis juis omdat dit so vreemd onverklaarbaar is dat dit my so aanspreek.
There are mountains suspended in form; there are mountains suspended in emptiness.
10. Jy het onder Opperman 'n MA behaal (Analise van enkele struktuuraspekte van ‘Om te vlieg’ van Breyten Breytenbach) in 1973 en aan Wits studeer onder die grotes in Afrikaans en die kunstenaar Judith Mason. Kommentaar oor mentorskap en skryfskole. Is daar nie dalk te veel kitsskole wat skrywers laat dink hulle kan skryf nie? Jy satiriseer dit mooi in jou jongste teks.
Mentore kan van groot belang vir ‘n jong skrywer/kunstenaar wees - Etienne Leroux, John Miles, Ernst Lindenberg, Anita Lindenberg, Robert Hodgins, Cecily Sash, was elkeen op sy/haar eie manier belangrik in my eie ontwikkeling.
Wat skryfskole betref: die talentvolle skrywers gaan in elk geval skryf – of hulle nou skryfskole bywoon of nie. Soms is ‘n skryfskool juis goed vir aspirantskrywers omdat dit hulle laat besef watter soort commitment van ernstige skrywe vereis word, sodat hulle hulself kan afvra of hulle daarvoor kans sien.
11. Landskap speel 'n belangrike rol in jou werk. Ek dink hier aan die pragboek Landskap met vroue en slang (1996). Kommentaar.
Ja, landskap is belangrik. Dit is die eerste keer ná Belemmering dat ek weer uitgebreid oor berge geskryf het. Maar dit voel vir my ek het met hierdie roman anders na die berge gekyk – miskien in die hoop dat ek piepklein pelgrims daarin sien beweeg, hoog om hoog en hand aan hand?
© Joan Hambidge
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)