Filmrubriek | William Friedkin | 2021
In hierdie tyd word klassieke films besoek en herbesoek. Fellini. Bergman. Tarkofski. Maar ook meer populistiese films.
Die werk van die Amerikaanse filmmaker William Friedkin is uitstekend. Hy behoort tot die sogenaamde “New Hollywood”-beweging en my filmverskaffer beveel aan: The French Connection en The Excorcist.
Uit 1971 en 1973. Beide het ek as jong kind by Sterland in Pretoria gesien. Wat hierdie films besonder interessant maak, is wanneer ‘n mens na Friedkin se analises van sy eie films luister. Jy kyk eers die film en dan luister jy na sy vertellinge van hoé die film gemaak is.
The French Connection wys sy vindingrykheid met die aksiefilm. As voormalige dokumentêre filmmaker gebruik hy tegnieke van die realisme en hy erken sy skatpligtigheid aan Jean-Luc Godard.
Die verhaal is oorbekend. Dwelms wat gesmokkel word van Marseilles na New York. En netjies weggesteek in ‘n motor se panele. Die werklike speurhoof en die man wat die motor uitmekaar dolwe, was betrokke in die oorspronklike saak. So wil die filmmaker die vraisemblance van die film bevestig. ‘n Werklike saak, met werklike mense, met werklike lotgevalle. Die arme televisie-ster, Henri Devereux, is die enigste een wat in die tronk beland en hy word wol oor die oëgetrek deur die Franse dwelmbaas. (Ons sien teen die einde van die film dat hy die enigste een is wat aan die pen gery het en dat Charnier weggekom het.)
Jimmy “Popeye” Doyle (Gene Hackman) en Buddy “Cloudy” Russo (Roy Scheider) agtervolg die swendelaars. Doyle raak obsessioneel en in een van die angswekkende jaagtonele, agtervolg hy ‘n boef met ‘n motor (wat hy sommer afneem by ‘n onskuldige). Die boef is in trollietrein en die bestuurder beswyk aan ‘n hartaanval. Hackman het glo self bestuur en 5 motors is opgefoes in die proses. Mense is afgeneem sonder hul medewete en daar is selfs ‘n wederregtelike verkeersknoop op die Brooklynbrug (met polisiebeamptes) geskep.
Fernando Rey is per ongeluk gekies vir die rol van Charnier, maar bely Friedkin, hy het perfek in die rol gepas as die suave dwelmbaas wat Popeye Doyle treiter in New York.
Friedkin was gaande oor Luis Buňuel se Belle de Jour en die Francisco Rabal se spel. Hy het ongelukkig nie sy naam geken nie. Die produksiespan het toe per abuis Fernando Rey gekontak wat nog Engels nog Frans magtig was …
Die twee polisiemanne (good cop, bad cop) sien een aand in die Copacabana hoe ene Boca en sy vrou met ‘n ongure karakters rondhang. Doyle en Russo begin Boca en sy vrou dophou (en afluister) in Brooklyn en so toevallig word ‘n hele ondergrondse netwerk onthul – met Weinstock, die prokureur wat geld moet oorbetaal aan die Franse, lont ruik en dan by implikasie help skep aan die broeiende drama in NY met onderhandelinge wat eerder in Washington bespreek word. Boonop weet Charnier hy word agtervolg en een van die kernoomblikke in die film, speel hy kat-en-muis met Popeye Doyle. In en uit die underground … Wanneer Doyle hom finaal ontmoet, wys hy dieselfde handgebaar vir hom.
Toe die film verskyn het, was die gesiene filmmaker Pauline Kael uiters negatief oor die film in die New Yorker (Oktober 30, 1971). Sy het die film veral gestriem, omdat daar so min onthoubare oomblikke in die film is. Kurosawa beskou dit egter as een van sy gunsteling-films!
In 2021 kyk hierdie filmkyker anders na die film. Daar is belangrike oomblikke: soos die Krismistoneel met Doyle as Vader Krismis wat Jingle Bells met kinders sing; Doyle wat in ‘n jaagtoneel ‘n vrou met kind in ‘n kinderwaentjie rakelings mis; ‘n satmoeë Doyle wat verby ‘n seuntjie op ‘n driewiel stap na sy woonstel waar ‘n shoot-out op hom wag; die beroemde toneel waar die obsessionele Doyle die trein jaag; en die slot: nadat Doyle per ongeluk, die FBI-man, Mulderig doodskiet met ‘n laaste skoot in die donker waarmee die film eindig.
Dit is een van die eerste films wat die nou verdwene WTCentre wys. (Toe was nog net die Noordelike Toring voltooi.)
Charnier is ‘n opperse skelm. Ons sien hom op skrootwerwe waar hy ou motors opkoop waarmee hy dan uiteindelik die geld (weggesteek) kan terugstuur Frankryk toe.
In ‘n besonder mooi toneel kom Devereux se Lincoln Continental Mark III in New York aan met joernaliste wat die TV-held interview.
En hoe weet die polisie dat hierdie motor die dwelms vervoer het?
Die motor word geskut en hier sit die werklike polisieman wat by die slenterslag betrokke was in ‘n hokkie.
Cloudy maak almal daarop attent dat die motor 120 pond swaarder geweeg het by die aankoms …
Tereg het hierdie film pryse ingeoes: beste regisseur, beste akteur (Hackman), beste redigering, beste verwerking, beste kinematografie, beste ondersteunende akteur (Scheider), usw.
En as bonus: hierdie film het The Three Degrees beroemd gemaak met hulle vertolking van Jimmy Webb se “Everybody Gets To Go To The Moon” – nog ‘n spel met die werklikheidsdimensie.
Friedkin erken is sy voice over: hy sal nie vandag soveel kanse kan waag nie.
© Joan Hambidge