I
Om hierdie komplekse film uit 1960 te waardeer, vereis soveel herbesoeke en weerkyke. Hierdie filmmaker verstaan die rol van agtergrond, familieskap, die kerk en genderpolitiek.
In die beroemde openingstoneel sit die hoofkarakter Marcello Rubini (Marcello Mastroianni) in 'n helikopter terwyl daar met 'n Jesusbeeld oor Rome gevlieg word.
In 'n danstoneel met Sylvia (Anita Ekberg) sê hy vir haar: "You are everything. You are the first woman of creation. Mother, sister, lover, friend ... An angel, a devil, the earth, the home. That's what you are. The home! "
En dan beveel hy haar om terug te keer Amerika toe, omdat hy totaal oorrompel is deur haar skoonheid.
Hulle dans op "Arrivederci Roma" en hierna jive sy met die Amerikaanse akteur, ene Frankie Stout, wat haar in die lug rondgooi (Arrivederci Roma in La Dolce Vita di F. Fellini (1960) - YouTube. Besoek 22 Junie 2021).
Wanneer Marcello Sylvia ontmoet, neem hy haar na St Petrus-plein. Sy hardloop die trappe uit en merk op dat dit 'n goeie plek is om gewig te verloor.
Haar hoed waai af wanneer sy uitkyk oor die stad en hiermee aktiveer Fellini haar verlies aan denke; net soos wat sy haar skoene agterlaat na die danstoneel. Marcello neem dit op nadat sy deur haar vriend beledig is. (Later in die aand wanneer sy tuiskom, klap hy haar deur die gesig.)
Hierna volg die beroemde toneel by Caracalla en later by die Trevi-fonteine. Die aankomstoneel, by die Ciampino-lughawe, van Me. Sylvia Rank waar die paparazzi haar inwag, is al telkemale in advertensies verïkoniseer.
Paparazzi's op Vespas bevolk en teister die bekendes. Sylvia tel 'n katjie op en versoek Marcello om melk te soek vir die kat. In die nag soek hy heenkome vir hom en haar. Hy kan haar nie huis toe neem nie, want sy jaloerse minnares wag tuis.
Sy het ook pas probeer selfmoord pleeg. Hy bel dan sy vriendin, Anouk Aimée, vir heenkome.
Al hierdie glinster- en huisdramas word afgewissel met ernstige vrae oor godsdiens. Marcello ontmoet sy vriend, Steiner in die kerk, wat eers jazz op die orrel speel en dan Bach, omdat hy betig word deur die monsignor. Later by 'n besoek aan sy huis – waar vele pseudo-intellektuele praat oor die lewe – sien ons Steiner in 'n ander lig. Hier is selfs 'n "oracle alcoholic". 'n Skildery van Morandi word aangeprys as sober. In 'n roerende gesprek met Marcello meen Steiner 'n mens moet buite tyd leef. (In die kerk wys Steiner vir Marcello sy Sanskrit-grammatikaboek.)
Hy pleeg uiteindelik selfmoord nadat hy sy kinders doodgemaak het. Wanneer sy vrou meegedeel word van die tragiese gebeurde, is die paparazzi weer eens aanwesig met flitsende kameras.
Ondertussen word daar in Rome gekyk na die mirakelboom en mense wat glo dat hulle die Maagd Maria (Madonna) gesien het. "Italy is filled with supernatural forces", verneem ons. Die filmspan word 'n kommentaar op die film as sodanig: 'n film-binne-in-'n-film. (Anita Ekberg, besef ons, kan gesien word as 'n moderne Madonna.)
In die ontmoeting met sy vader, neem Fellini die genderdiskoers vérder. Die vader besoek die stad en gaan saam met sy seun na 'n nagklub. Hy vertel van 'n klub in sy jeug waar daar 'n meisie met lang bene was en toe ontdek hulle dat 'sy' 'n penis het ...
In die Chachacha-klub dans die vroue in 'n pseudo-sirkusopset met 'n sweep wat klap.
Die vader – ‘n afwesige een – verlaat uiteindelik sy seun en vertrek huis toe. Die konflik is duidelik onopgelos.
In die slot tydens 'n huisparty ontklee 'n vrou en sit Marcello op die vrou asof sy 'n perd is en hy takel haar met hoendervere.
II
Misogonisme? Of verraai dit iets van die tydvak?
Die slot met die groot, dooie vis is dalk 'n religieuse simbool: Marcello word gekonfronteer met die vis: Jona in die walvis, maar ook die Leviatan? En die dooie vis signifieer waarskynlik vir hom die dood van geloof vir die hoofkarakter.
Die slot van hierdie film neem ons terug na die begin waar die Jesus-beeld in die lug hang.
Genderpolitiek en vrae oor geloof word afgewissel in hierdie briljante film wat alles verklap van die tydsgees waarin dit gemaak is.
Die kyker vandag in 2021 besef hoe briljant die film tussen verskillende dimensies beweeg van selfmoord tot ligsinnigheid; van die paparazzi tot die invloed van die kerk.
La dolce vita is uiteraard ‘n ironiese titel met die hoofkarakter wat as joernalis beweeg tussen verskillende insidente en eintlik ‘n skrywer wil wees. En die verwysing na Giorgio Morandi, die kunstenaar wat spesialiseer in stillewens soos “Metaphysical Still Life” …
© Joan Hambidge