I
Fellini se Otto e mezzo word inderdaad beskou as een van die klassieke films van ons tyd. Die afgelope tyd het verskillende films van Fellini my weer bekoor.
Hierdie handel oor 'n filmmaker wat besig is om 'n film te maak en terselfdertyd verslag te doen oor sy lewe, die vroue in sy lewe en sy jeug. Hierdie terugkeer na die jeug is waarskynlik een van die belangrikste temas in sy werk: die siening van ouers, die grootword jare in Rimini, die invloed van die Rooms-Katolieke kerk en 'n besinning oor die rol van die filmkuns.
Otto e mezzo (81/2) dui op die middeltyd van sy lewe. 'n Tyd tussen films. Dit is 'n metafilm met 'n kyker (jy /ek) wat sien hoe die filmmaker (Marcello Mastroianni) in 'n filmhuis sit en kyk na die film wat gemaak word. Die film is vrygestel in 1963 en ek het dit eerste keer gesien by die Stellenbosse filmvereniging in 1979.
Hierna het ek dit telkemale weer bekyk en met die jongste ervaring weer geluister na die filmkritici wat sinryke kommentaar lewer oor die produksie van die film.
Die kamera en die kyker se bewuswees van die kamera, maak van die kamera die hoofkarakter.
Die spieëltekste is eweneens belangrik: Mastroianni speel (asof) hy Fellini is en die gerinkink met vroue aktiveer sowel akteur as filmmaker se vele verhoudings met vroue. Daar word deur hierdie kritici belangrike informasie gegee oor werklike akteurs en hul verhouding met Fellini. Boonop is die slottoneel op die strand verfilm presies waar Pasolini vermoor is. Op die strand in Ostia is Pasolini 2 November doodgemaak.
Ons word eweneens vertel van Fellini se werk as komiekstripkunstenaar. Kyk mooi wanneer Luisa (Anouk Amée) haar man se minnares in die straatkafee sien hoe sy jaloerserig haar neusgate wikkel en hoe die eggenoot aan sy neus vat asof hy 'n Pinocchio is. Alles in hierdie film werk rondom waarheid en verdigsel. Konterfeitsels dryf die film vorentoe.
Guido, die filmmaker, ly nie net aan 'n filmmakerblok nie; hy is 'n narcistiese, selfbehepte vrouejagter, wat beskuldig sou kon word van 'n inflasie van die ego in Jung se terme. Maar dit word sjarmant en speels vertel. In die toneel waar hy die verskillende vroue - op die maat van Wagner se Walküries - met 'n sambok in beheer probeer hou, sal waarskynlik vandag se kykers vervreem oor die misogonisme. Maar dit word egter satiries hanteer deur die wérklike fillmaker Federico. Kort voor hierdie toneel word ons teruggeneem na sy jeugjare wat hierdie toneel verduidelik en kontekstualiseer.
Guido se fantasie oor die singende hoer (Eddra Gale) op die strand, laat hom in die moeilikheid beland by die priesters en sy moeder, veral is verwytend. Boonop verklap die kommentators dat hierdie vet vrou - 'n argetipe - 'n werklike operasangeres in Chicago was. Fellini is al die verwyt gemaak dat hy sy jeug fetisjeer. In die toneel voor die priesters - vertolk deur vroue-akteurs - sien ons egter hoe straf die jong kind vir ewig gekwes het.
Die priesters word vertolk deur vroue, verneem ons, omdat mans van daardie ouderdom - deur drank verwoes - nie so goed lyk as vroue nie.
En in 'n toneel hoor ons dat Fellini teen intellektuele kommentaar op sy films was. Is dit dan, wonder ons saam met die kommentators, hoekom hy die kritikus ophang en nie laat sterf nie? Kunstenaars behoef immers kritiese reaksie.
II
Die film begin met 'n droom waar Guido in 'n motor sit en probeer uitkom. In die motor langs syne is sy minnares besig om seks te hê met 'n man. Dan vlieg hy in die lug op en land op die strand voor sy agent. Die filmkommentaar beklemtoon dat Fellini telkens sy karakters werkliker maak as wat hulle was. En die film werk met die verlede, hede en "conditional time", die sogenaamde tyd van moontlikhede en fantasie.
Dit is relevant om te weet dat Fellini in hierdie tyd 'n Jungiaanse analis besoek het om sy werkblok te probeer ophef.
Fellinesque, daadie kwaliteit wat hy aan sy vrouekarakters gee, is vandag alom bekend. Hy werk teen die Neo-Realisme van Rossellini en beweeg soos Visconti en Antonioni in die wêreld van konstruksies en drome. Daar word beklemtoon dat ten spyte van sy sjarmante aanslag met akteurs, het hy dikwels mense gebruik en na die film voltooi is, nooit weer gesie nie. Donald Sutherland is uiters negatief oor Fellini as regisseur in My life as a liar.
Elke vinjet in hierdie rolprent dra betekenis. Die moeder (in die werklike lewe Vittoria de Sica se vrou) transformeer van moeder tot sy eggenoot in die film.
Die priester in die hysbak laat die kyker voel asof hy in 'n bieghokkie staan. Straf en boetedoening is ‘n belangrike motief in hierdie film.
Die gebruik van Matroianni as sy alter ego illustreer Fellini se kennis van Jung.
Die film sit vol kwinkslae - soos die horlosie as geskenk vir die vervaardiger, wys op Fellini se reaksie toe sy vervaardiger, t.s.v. al die geld wat 'n film gemaak het, net vir hom 'n horlosie as geskenk gegee het.
Otto e mezzo het eers La bella confucia geheet, 'n belangrike sleutel om die rol van al die argetipiese vroue in die rolprent te verstaan. Wanneer die kritikus in die film hom uitvra oor Marxisme, is dit met opset. Fellini se film lewer nie politieke kommentaar nie. Hy gaan in die primordiale in: asa nisi masa is die spreuk wat die jong kinders ken en die dansende goëlaar is in die werklike lewe 'n Sufi. Die film dui op 'n spirituele krisis in die lewe van Fellini en hierom is die film 'n soeke na harmonie en antwoorde. Hierom waarskynlik die konfrontasie met die kardinaal in die stoombad wat nie raad kan gee nie.
Net soos Guido geen draaiboek vir sy akteurs kan gee nie, was daar geen draaiboek vir die werklike film nie. Daar is elke dag geïmproviseer; iets waarop Sutherland ook wys toe Casanova vervaardig is.
Liefde, seks, die huwelik en vriendskappe is vir Fellini verskillende dele van sy lewe. Die een aspek het volgens die kommentator niks met die ander te make nie. Guido en Luisa is vasgevang in huwelik van stryd. Hierom dalk dat die twee vroue (eggenoot en minnares) met mekaar dans buite beheer van die man om geluk te vind?
III
Die tekstuur van die film word bepaal deur duplisiteit en 'n dubbel-lewe. Die slot sou eers 'n treintoneel gehad het, maar dit is verander na die ruimtetuig op die strand. Al die karakters kom hier byeen.
Die treintoneel was vermoedelik te negatief – met ‘n vorige bestudering van die film sou dit kon lyk asof die karakters almal sterf in die slottoneel.
IV
Hierdie film uit 1963 bly ‘n klassieke film wat resoneer met ander groot films. En die kritici se voice overs is uiters boeiend, veral wat betref die werklike mense, aktrises en intriges van daardie tyd in Italië.
Bibliografie:
Damian Pettigrew.2002. Fellini: I'm a Born Liar
© Joan Hambidge