Monday, June 14, 2021

Rubriek | Homofobie | 2021


Hoe gaan die Franse spreekwoord nou weer? Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde...

‘n Groepie skoliere aan D.F. Malan-hoërskool word by die skool gemarginaliseer en geboelie, omdat hulle Pronkmaand wou vier. Glo ‘n reënboog op die grond wou teken tot die hoof se sagryn wat die samekoms verbied het. Met verwoede uitbarstings op die rugbyveld.

Sake is nou al so kompleks dat Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, die hoof en bestuur gekapittel het en die MRK verskeie klagtes ontvang het.

Vreemder as fiksie?

In ‘n genderkursus gebruik ‘n student die word “moffie” en die res van die klas vat hom aan.

Hoekom is hierdie homofobiese gedrag by ‘n gesiene skool so skokkend?

Enige gay-kind, wat in die ou-apartheidsjare grootgeword het, vertel dieselfde storie. ‘n Moeilike uit-die-kas-uit-klim-tydvak en skrywers soos Hennie Aucamp veral, het geweldig baie gedoen in daardie jare om aan gay-mense agentskap te gee.

 

Hy het my voorgstel aan Roger Austen se teks Playing the game (1977) en hoe gay-skrywers onbewustelik (en uit vrees) hulle gay-karakers straight maak. Hierom is Aucamp se “Vier vier stemme” – opgeneem in Volmink (1981) – so belangrik. Beimen se ambivalente reaksie op Freddy/Fifi wys eintlik op sy werklike seksualiteit. Hy kan net dit erken as Freddy in drag is.

 

Die dinge jou toegesnou as jong skolier (en student) sal vandag nie geduld word nie. Ek onthou as jong kind hoe ‘n skoolmaat in matriek my begin vermy het weens die druk van ander klasmaats. Haar posisie as prefek sou aangetas word deur met my bevriend te wees. Daar word immers gepraat en gewonder in die koshuis …

 

Ek onthou hoe almal genooi is na ‘n partytjie van ‘n ryk kind, behalwe ek en twee ander arm kinders. Hulle was anderkant die spoorlyn; ek was aan die verkeerde kant van die genderdraad.

 

Ek onthou hoe ek geskel is deur ‘n mede-student oor ‘n openlike gay-verhaal (“Van vier tot ses”) in die Stellenbosse student in 1978. Jare later (1993) bel die symste-einste klaagster en vra om verskoning en bely: ek is ook so …

 

'n Dekaan het my berispe oor 'n onderhoud in die pers waarin ek bely dat ek nie net gay-verse skryf nie, maar ook gay is. 1985.

 

Wat op aarde gaan met die mensdom aan?

 

Dit is die jaar 2021 en kinders word bespot en geboelie oor gay-wees? En hoe kan ‘n hoof nie raaksien dat jong kinders agentskap het en al is hulle self nie gay nie, dat hulle hul maats sal beskerm teen bullebakkery?

 

My kollega se kinders het hierdie insident meegemaak. Ons luister geskok na haar 

vertelling in ‘n departementele vergadering.

 

Ek onthou ‘n aand, goedskiks drie jaar terug, toe ‘n wit, heteronormatiewe, swaar gegrimeerde, beterweterige vrou op spykerskoene ómdraai by ‘n kroegtoonbank en na my kyk en vra:

“So what do you say, you dyke?”

Ek bly haar ‘n antwoord skuldig.

 

Dit is juis vroue soos sý wat in alle waarskynlikheid smag na ‘n vrou se liefde en begrip. En tydens dronkenskap, sal aanlê by ‘n lesbiese vrou.

 

So my stilte was nie omdat my lesbiese tong uitgesny was nie, maar omdat ek nie lus was nie vir ‘n behoeftige vrou wat emosioneel mishandel voel en heimlik jaloers is op die vryhede en agentskap van ‘n Lettie van Dyk.

 

‘n Mens is wat jy is. En net as jy eerlik en kongruent is oor presies wie jy is en waar jy vandaan kom, is die lewe die moeite werd.

 

So mag alle skoolhoofde en onderwysers wat kinders wat anders en afwykend is mishandel met stilte en simpel regulasies, tweekeer nadink oor die wonde wat hulle toedien. Miskien kan ons vir hulle vra om na Robert Altman se klassieke rolprent te kyk uit 1982 Come Back to the 5 & Dime, Jimmy Dean, Jimmy Dean met Karen Black, Cher en Kathy Bates, o.a. wat 'n pynlike re-unie ondersoek. McCarty, Texas. 'n Herdenking van James Dean se dood. Ons sien ook hoe Joanne bely dat sy 'n seksverandering ondergaan het en hoe sy verniel is deur boelies toe sy vroueklere gedra het.

 

Wat van Stephan Elliott se The Adventures of Priscilla, Queen of the Desert (1994)? Of Cher, Annette Bening en Warren Beatty se kinders wat seksveranderinge ondergaan het en deur hierdie ouers ondersteun word?

 

Kinders dra miskien hul wonde soos medaljes. Maar al hierdie vermindering en verwerping is onnodig. Miskien hierom dat ek re-unies soos die pes vermy.

 

© Joan Hambidge