Wednesday, June 2, 2021

Resensie | Damon Galgut – The Promise | 2021

Damon Galgut - The Promise. Umuzi 2021. ISBN 978 1 4152 1058 1

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Edmund White beskou The promise tereg as een van die belangrikste boeke van die afgelope tien jaar. Die boek het alreeds hier te lande en oorsee lof ingeoes en in plaas van 'n konvensionele resensie, wil ek die roman vanuit 'n ander hoek belig.

 

Na 'n onlangse herlees van Roland Barthes se S/Z (1970/1974) waarin die skrywer 'n klassieke teks in lexias opbreek, sou dit 'n leser loon om hierdie roman van Galgut ook téén sy chronologie in te lees: Ma / Pa / Astrid / Anton ...

 

Die verhaal beweeg rondom 'n belofte (promise) gemaak aan die huishulp, Salome, dat sy die grond (en huis) sal erf. Salome wat steeds kaalvoet loop en die stille waarnemer is van al die spanning tussen die mense is soos Amor die een waarop die hele verhaal gebou is.

 

'n Leë, emosionele belofte gemaak tydens die afsterwe van die moeder word dan dit wat alles later bepaal. 

 

Maar dit word soos by William Faulkner se As I lay dying (1930) vele stemme wat praat en kyk in hierdie sirkelgang wat wentel róndom Amor se eerste menstruasie en haar gesprek met Lukas, die swart jeugmaat, wat later 'n woedende teenspeler of antagonis word.

 

Die boek sit vol ironie en die werklike outeur maak ons, die lesers, die verwyt dat ons nie ironie in hierdie land snap nie. Die ouktoriale verteller se stem slaan deur oor die Swart gesin (ironiese naam!) en hoe hulle beweeg van landelike grondbesitters tot in die reënboognasie van vergifnis en WVK. Die werklike outeur, Galgut, gee 'n priemende verslag van "greed and grief". En sy analise van begrafnisse en verassings word skerp ondersoek.

 

Die verskillende hoofstuktitels wys op die ouktoriale verteller wat beheer en orkestreer.

 

Elke vinjet word hier 'n ritueel. Die selfmoord van Anton en sy begrafnisdiens word meedoënloos beskryf. Sy suster Amor is afwesig, maar die huishulp het wel haar selnommer. Sy daag later op en in die skokkende konfrontasie tussen haar en Lukas - weer eens met Salome as toeskouer - wys hoe rasongelykhede mense aantas en vervreem. 

 

Beide Amor en Lukas dra swaar aan die geweld en haatlikheid van hierdie land. Die "beloofde land" aan Salome, mag egter deur ander wat verwyder is, opgeeïs kan word. Lukas ken nie meer Amor se naam nie en selfs 'n herinnering aan hul gedeelde jeug, versag hom nie. Hy dra die uiterlike tekens van die fisiese en emosionele geweld van hierdie land. (Die motorbestuurder se naam is Lexington.)

 

Die manier waarop landskap geskep word, is eweneens relevant.

 

Die aarde maak sy mond oop in gereedheid om die liggaam te ontvang. Reën en droogte word gepersonifieer.

 

"The rain has no prejudice" (241) en wanneer Amor op die dak sit, in die middel van háár storie, is sy ontredder in die verstrooiing van haar broer se asse; hy wat 'n onklaar roman agtergelaat het. Maar ander stories sal oor syne geskryf word, selfs oor hierdie vertelling (243). Die broer AWOL uit die weermag, maar word later 'n held wanneer die politiek verander. 'n Skerp opmerking oor hoe die politieke landskap voortdurend verander. 

 

Die werklike skrywer Galgut maak gebruik van verskillende vertelperspektiewe soos die ouktoriale verteller wat soms tersydes lewer teenoor die binnespraak van Amor (personale tot ek-verteller). (Ook hierdie naam is skerp ironies.) Die slim genderkommentaar waarmee die roman begin word later uitgespeel in haar lewe.

 

Die ruimte is Suid-Afrika. Veral Pretoria. Die Suid-Afrikaanse leser sien politieke rolspelers verander (Verwoerd, Mandela, Mbeki, Zuma). 'n Slangbyt word later 'n woedende kaping. Ons sien 'n hawelose, Bob, wat urineer.

 

Verder word daar verskillende religieuse oortuigings verbeeld: Anton is ateïsties. Daar is Jode, Calviniste en Katolieke en later selfs beskrywing van die mistieke. Desirée wat heul met "ley lines on the top of the koppie" glo haar "spirit-animal" is die feniks (224). New age en joga. Karma. Good vibrations. Hinduïsme. Die sogenaamde "spirit realm" word ironies en satiries beskryf. Nes die weergawe van 'n medium oor Astrid wat rus gevind het.

 

Selfs N.P. van Wyk Louw word by Anton se begrafnis voorgedra om die stoerheid van alles te bevestig. Skuldgevoelens rondom seks word eweneens ondersoek in die masturbasietoneel van Anton wat homself beskou in die spieël.

 

Terwyl die rook uit die krematorium opwaarts styg, is Desirée, Anton se weduwee, besig om haar ouers huis toe te neem. Haar vader, ‘n voormalige minister,  beleef egter hierdie dag in 'n heuglike herinnering met 'n klomp hoere in 'n helikopter.

 

Hierdie spanning tussen die ellende by die kapel (waar "a dirty tide of organ music" speel) teenoor seksuele herinnering, beklemtoon dat 'n mens die roman ook as 'n satire moet benader. Kyk net wat onthou die krematoriumwerker nie alles nie; van 'n pasaangeër wat ontplof tot vet mense wat stadiger brand. 'n Mens kan nie Dante mislees nie.

 

Die naamgewing is uiteraard Bybels gelaai (Salome, Lukas) en die slang wat die vader pik, aktiveer 'n Bybelse sondeval.

 

II

 

Met ‘n deeglike lees, besef ‘n mens hoe Galgut die roman laai met Bybelse metafore. Dominee Simmers, ‘n lam wat geslag word by die begrafnis, die Pa wat met ‘n Ou-Testamentiese toon praat (73) dwing jou om simbolies te lees. Word Anton “gestraf” vir die dood van die swart vrou, terwyl hy in die weermag was? Die hele roman wentel rondom skuld en boetedoening. 'n Joodse begrafnis word geplaas teenoor 'n Calvinistiese een; 'n Katolieke een vol Latynse verwysings teenoor 'n agnostiese, onspirituele byeenkoms.

 

Is dit toevallig dat Amor begin menstrueer met die tyding van haar moeder se dood? 

 

Die vader word deur ‘n slang gepik (die sondeval) en die hele verwysing na die reptielpark maak van hierdie hele santekraam ‘n soort diaroma van hoé waansinnig die “political unconscious” (Fredric Jameson) van hierdie land was en steeds is.

 

'n Kis wat oopgemaak word by die begrafnis wys op korrupsie en die onvermoë om die dood te aanvaar.

 

III

 

Die volgehoue spel met die leser laat ‘n mens soms verbyster oor hoé vaardig Galgut jou manipuleer en skaterend kan laat lag (ek dink hier aan die verwysing na wie het JR geskiet) wat per ongeluk uitgewis is op die videospeler of Astrid se sekstoneel wat die abjekte laat resoneer met die verwysing na mis. Die twee speurders word satiries beskryf (151) en Clint Eastwood soos Charles Bronson gooi ook 'n draai. En ja, die Rolex en penis van die swart lover is vol in die kol. Good cop, bad cop. Dronkbestuur en omkopery.

 

Ander kere laat dit jou as leser duisel oor die enorme pyn aan ander gedoen.

 

Die motto uit Fellini is tersaaklik. Waarom Federico is daar nie een normale persoon in jou films nie, vra die vrou in die Cadillac. 

 

Inderdaad. Het iemand egter beter begrip hoé die struktuur van families werk en ‘n mens nooit die herinneringe aan jou verlede kan ontsnap nie?

 

Kyk maar hoe keer Federico, die groot filmmaker, telkemale terug na die wêreld van sy jeug. Hy vlug dalk in I Vitelloni(1953), maar in die latere films soos Otto e mezzo (1963) word die familieskap herbesoek in fantasie en droom.

 

 IV

 

Die vyf kodes in S/Z is: hermeneutiese kode; die proairetiese kode; semantiese kode, simboliese en kulturele kode.

 

Galgut maak veral aanspraak op jou kennis van sowel die kulturele kode as die hermeneutiese kode. Hy dwing jou om die roman as woordkuns te lees. Veral die (Suid)-Afrikaanse leser sal vele verwysings beter snap, maar die teoretikus sal die volgehoue spel raaklees oor die struktuur van die roman na die postmodernisme.

 

Om te wissel tussen erns en satire (Father Batty) bewys hoe goed Damon Galgut werklik is. 'n Mens kan waarskynlik nie die Voortrekkermonument of die Uniegebou afskud nie. 

 

Hierdie roman is 'n enorme prestasie.