Resensent: Joan Hambidge
Die ding met ‘n shout op ‘n
buiteblad van ‘n boek is dat dit jou verwagting van die boek kan beduiwel. Of
die advertensiebiljet met ‘n dalk oordrewe aanhaling van ‘n skrywer oor die
bundel kan jou laat frons: “’n klein aardbewing van ‘n bundel”, aldus Petra
Müller. En: “Hierdie skrywer het die engel in die klip beet.”
Maar hierdie woorde ís welverdiend. Van die buiteblad van Jolyn Phillips se
bundel radbraak, ‘n debuut, tot die
laaste gedig, eis die aandag-van-jou-oë.
En van al jou sintuie.
Radbraak, soos in geradbraakte taal, kom uit die Middelnederlands raetbraken (om te breek). En
breekbaarheid is die kodewoord in hierdie bundel. Ons sien ‘n skets van ‘n slak
se doppie. En hier dink ‘n mens aan die gedig “Netwerk” van wyle Prevot van der
Merwe:
netwerk
’n slakkie oënskynlik blind
seil silwerslymdrade
wat nêrens met nêrens verbind
By Phillips is daar ‘n duidelike taalspel. Met Antjie Krog en die ander
digters wat stem gee aan die lot van bruinmense. Clinton V. du Plessis, Ronelda
Kamfer en Nathan Trantraal maak die taal en ervarings van hierdie leefruimte óóp. En daar is dus ‘n
netwerk-tussen-gedigte. Molluske aktiveer baie betekenisse. Positief en
negatief in al die assosiasies. (Mollusca - Wikipedia. Besoek 7 Julie 2017).
Daar word “skollietaal” gebruik (“die taal van nommes en pakamisa”) en oor
bendes en geweld geskryf. In ‘n lang gedig, “’n geweeklaag” (29 – 33) lees ons
van die politieke geweld:
die liggame gebars tot galg en rad
en met horte en stote ter tafel
gelê.
Die emosionele uitstortings word word goed in beheer gehou deur die digter
se vormbeheer en taalspel.
Daar is refreine, herhalings en ritmes wat die verse laat voortstu en die leser emosioneel
oorrompel.
Dis werkersklaspoësie soos wat gert vlok nel se gedigte dit is. Uit die
ellende van werk by ‘n deli (met sy vleise wat assosiasies oproep) en ‘n
aansoek aan die UWK, word ‘n hele droewige bestaan vir die leser onthul.
Verdrinking, see-dood, politieke ellendes (die nuwe bestel het geen
verbetering gebring vir die armes nie), die potloodtoets, drugs; dit alles kom
aan bod.
‘n Motto uit Anne Sexton verklap alles: “I am a collection of dismantled
almosts”. Sexton, op haar beurt, het vreesloos die spanninge tussen man en
vrou, kind en ouer uitgelig.
En die ongelooflike taal-eksperiment in “Diglossie” (64) is puik.
In die kort biografie lees ons dat die digter ook sangeres is en dit kom
duidelik na vore in die gedigte waar die klankmatige ontgin word soos in die
gedig “kruiebalsem-liedjie” (63). In “die hotnotsvy” (62) lewer sy navrante
politieke kommentaar:
die hotnotsvy die stiefkindsvy
van die windverwaaide kusvlakte
tussengonnabossiestussenfynbos
tussenbietoubossies
sy is die aspoestershand
wat kruip na die violetkroon… (62)
Die emosies is verwerk. Woede en pyn word so half-skuinsweg weergee. Die
liefdesverse gryp aan die keel:
jy sê jy soek my in laaie
in laundry in
skuldbriewe
jy soek my behalwe
jy soek my: sonder my (48).
“my ma in
C-majeur” (49) speel in op do-re-me; maar die ma herinner die spreker aan
see-majeur waarmee die viswêreld van haar jeug in Gansbaai ópgeroep word. Jy
ruik en voel en sien alles. ‘n Goeie gedig is immers ook olfaktories. En
visueel. En jy kan dit hoor.
‘n Mens sien en hoor ‘n versuipte brommer in ‘n gedig. Van hoe jy
waarskynlik nooit die herinneringe aan 'n troebel jeug kan ontkom nie
("oer jirlikheid! Janwap se kind", 54).
Sy myn hierdie ervarings vreesloos - dit is dus waarskynlik 'n
outobiografiese ek hier aan die woord.
Hierdie gedigte is soos bokvet in die palm.
Die voorblad is uit Rusland van 1896 deur Igor Golovniov wat iets anders
aktiveer: 'n foto van 'n illustrasie; 'n gedig oor herinneringe wat soos 'n
illustrasie of skets werk.
Elke gedig in hierdie debuut, is die
moeite werd. Lees dit!
(Hierdie resensie word geplaas
met vriendelike vergunning van Rapport)