Johann de Lange, eindredakteur vir die AVBOB Poësie Projek, Mnr Frik Rademan, CEO van AVBOB, Dr Mantoa Motinyane-Masoko, hoof van Afrika Tale en Letterkunde by UCT, Dr Stanley Madonsela, Direktoraat: Afrika Tale, UNISA, en Daniel Hugo, Afrikaanse redakteur van die AVBOB Poësie Projek
AVBOB is 'n akroniem vir
"Afrikaanse Verbond van Begrafnisondernemers".
Die tradisie van die funeraire poësie behels die aanspreek
van 'n beroemde of bekende persoon in 'n lykdig. Tradisioneel was die dekorum in
hierdie soort gedig om nie die oorsaak van die dood te vermeld nie.
AVBOB se webruimte vir
doodsdigte of lykdigte is tydig. Ons leef in 'n land waar moord op mense met 'n
besondere hoë insidensie. Die onlangse wreedaardige kaping en moord op die
Matie-student Hannah Cornelius het 'n hele gemeenskap in rou gedompel.
Besoekers sal dus nuwe verse kan
aftrek rondom die dood van 'n geliefde, ouer, kind of familielid.
Twee dokumentêre oor die poësie
is onlangs voltooi waarin digters gevra word of poësie nog ’n plek en betekenis
in ons tyd het. Bekende digters soos Antjie Krog, Johann de Lange, Daniel Hugo,
Vincent Oliphant, Joan Hambidge en jonger digters soos Hendrik J. Botha,
Juanita Louw, Fourie Botha, Bibi Slippers, o.a. het hieraan deelgeneem.
Dié dokumentêre
program oor die poësie, Ek wou nog sê,
word vanaand om 7:30 op VIA (kanaal 147 op DStv) uitgesaai.
Die aankondiging van AVBOB se
borgskap vir poësie word op Mandela-dag, 18 Julie, aan die pers bekend gemaak.
Die borgskap dek ’n poësieprojek
wat twee dokumentêre programme (een oor Afrikaanse poësie, en een oor die
Engelse poësie), 'n poësiekompetisie vir al elf amptelike tale met 'n spesiale webtuiste (www.avbobpoetry.co.za) waar
goedgekeurde gedigte van deelnemers geplaas sal word, en ook die publikasie van
’n bundel met 100 gedigte wat Augustus 2018 op die herdenking van AVBOB se
100ste bestaansjaar sal verskyn, insluit.
Die poësiekompetise begin op 1
Augustus en sluit einde November 2017. Wat dit veral opwindend maak, is dat al elf
inheemse tale ook hieraan kan deelneem.
Dit is die eerste keer wat só ’n
projek wat al die inheemse tale so representeer, onderneem word.
Daar sal 'n kontantprys vir die
beste gedig in elk van die amptelike taalkategorieë aangewys word – die
toekennings sal as die AVBOB-prys vir Poësie bekend staan.
Wanneer AVBOB volgende jaar 100
word, sal 100 gedigte in 'n bloemlesing gepubliseer word – elke landstaal sal sewe
gedigte hê wat spesiaal in opdrag vir dié bundel geskryf is, 22 gedigte deur
nuwe stemme wat ingeskryf het, en een gedig waaroor daar in hierdie stadium
geen inligting gegee word nie. Elke gedig in dié bundel, met die uitsondering van Engelse
verse, sal met 'n Engelse vertaling opgeneem word.
Hiermee sal jonger digters die
geleentheid kry om naas bekende, gevestigde name gepubliseer te word. Die
webblad sal ná afloop van die kompetisie oop bly en digters kan steeds gedigte
instuur. Dié wat goedgekeur word, sal op die webblad gepubliseer word, en die
digter sal ’n fooi van R300 ontvang. Net nuwe, ongepubliseerde gedigte word op die webblad geplaas. Die gedagte is om ’n databasis te skep waar AVBOB se
kliënte gedigte sal kan lees (en aflaai) wat hulle aanspreek.
Gesien teen die agtergrond van
koerante se "In Memoriam"- en doodsberigte, vervul hierdie wedstryd en
webwerf ’n belangrike funksie.
Poësie artikuleer pyn,
onsekerheid en wanneer ons getref word deur die dood, bring dit vertroosting.
Verskillende bekende digters tree in die dokumentêr op, ouer sowel as jonger,
wat die digkuns as eiesoortige genre onder die loep neem.
Hannah Cornelius (1996 - 2017)
Op 'n foto wagtend
op die Halte na
Ewigheid
kyk jy na links,
na die Stasies
genaamd Angs,
Vernedering,
Onnoembare ...
agtertoe
daar waar die trein
nooit weer
vir jou sal stop
nie. Nimmer,
nee, nooit weer.
Nou op jou soloreis
met geen retoerkaart
ter hand
reis jy na
Aandblom-is-'n-witblom
digby dusketyd
Blommetjie-vergeet-jou-nie.
Louise Viljoen skryf In Literator, November 1995 oor die
tradisie van hierdie soort gedig in navolging van S. F. Witstein se Funeraire poëzie in de Nederlandse
Renassaince (1996) waar dit gaan
om die lof (laus) van die ontslapene, die verdriet (luctus) en aanvaarding van
die dood (consolatio). ( ’n Retoriese analise van die vyf lykdigte in T.T. Cloete se Allotroop | Literator. Besoek 3 Junie 2017).
Valencia Farmer, Sihle Sikoji,
Anene Booysen is enkele name van vroue wat wreedaardig vermoor is. Dan was daar
ook die opsienbare moordsaak met Oscar Pistorius en die dood van Reeva
Steenkamp.
Reeva
Kon jy weet
daardie laaste keer
by die hekke van die Silwer Huis
en Rooi Badkamer
'n sekuriteitsbeampte
sou Heilige Petrus vir jou
speel?
Was daar 'n geel gloed óm
jou gehul, soos Jung beweer,
wanneer ons wetend-onwetend dié
oorgang
in volledige eensaamheid, dus
solo, maak?
Sou jy kon raai dat die
beroemdheid
waarna jy smag jou 'n ereplek
sou gee
in die galery langs JFK en
Marilyn Monroe?
Jou oë gesluit soos Marilyn s'n
in die Brentwood-lykshuis in Los
Angeles;
jou kop oopgeklief nes Jack s'n.
Kon jy dink realiteitstv was net
'n voorspel
tot 'n hofsaak met jou as die
aanwesige-Afwesige?
Foto's geneem, selfs uit 'n
lykshuis geskaai,
verkoop, vervleg, verpand,
versend
met opgeswelde oë asof jy jou
verweer
teen die ongerymde, die vervorming;
ja, selfs teen hierdie gedig,
'n vérdere openbare skending.
(Matriks. Human & Rousseau, 2015).
In die slotstrofe
van"Allofrasie" uit wyle TT Cloete se bundel Allotroop (Tafelberg, 1985) skryf die digter:
Nooit had so baie jou so lief
soos in jou kis nie
al is daar iets onnoemliks wat
ons afweer
en al stuit ons teen jou
entropie. Jy ignoreer
ons maar jy weet nie wat jy
jammerlik mis nie.
Die mistieke groot bruis, die
beroerde gewemel
om jou sonder jou. Sien jou in
die hemel.
Allofrasie beteken
vreemde manier van praat en hierdie gedig aktiveer die impak van die dood as 'n
groot gelykmaker. Kortstondig is almal bewus van hul eie dood en is daar selfs
versoening tussen mense.
Die dood is die
groot gelykmaker.
Die lykdig is ook 'n
klaaglied of lament wat vertroosting bring.
* Ek wou nog sê . . . sal in die volgende tydgleuwe weer op Via uitgesaai word: 18 Julie om 19:30, 19 Julie om 07:30, 20 Julie om 13:30, 22 Julie om 15:30 en 23 Julie om 13:00.
© Joan Hambidge