Die voormalige
regter van die konstitusionele hof, Regter Johann van der Westhuizen, se artikel
(“Dertien gebooie wat Afrikaans kan red”, 17 deser Media24) behoef reaksie. Nie
om die regter se siening van die grondwet nie; daar kan ‘n mens sy
interpretasie eer.
Dit is egter
wanneer hy met voorstelle kom vir die redding vir Afrikaans, dat hierdie
skrywer genoop word tot wederwoord. Die hele kwessie rondom die beskerming van
minderheidstale en tale in die spervuur, is kennelik iets waarvan die regter
onbewus is. Ek was verlede jaar by die Internasionale Kongres vir Vergelykende
Letterkundes (ICLA) in Wenen. Verskeie deelnemers het hul besorgdheid
uitgespreek oor die problematiek, o.a. geleerdes uit Indië. In Afrika is daar
klein statte waar
‘n laaste geslag nog ‘n inheemse taal kan praat. Matthias Brenzinger aan die
Universiteit van Kaapstad doen baie werk om sogenaamde inheemse tale op te teken
en te bewaar.
Ek het oor sy
boek (mede-redakteur Sheena Shah) gekryf, Ouma
Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu. Uitgegee deur CALDi, Universiteit van
Kaapstad.
Sheena Shah
& Matthias Brenzinger met Katrina Esau, Claudia du Plessis en MaryAnn
Prins Vyf mense, waarvan drie susters, is die enigste mense wat nog die
N|uu-taal kan praat en ’n groep akademici het hulle gehelp om ’n ortografie vir
hulle taal te skep. So sal hulle taal en die geskiedenis bewaar bly. (WoordeWat Weeg/ S. Shah & M. Brenzinger - OumaGeelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu (2016). Besoek 21 Julie 2017).
Die
Universiteit van Princeton is eweneens besig met so ‘n bewaringsprojek.
Van der
Westhuizen beweer verder met groot stelligheid:
Filistyns, Moabities en Amelekieties het nie oorleef nie. Hebreeus het – vir eeue sonder ’n land, regering of beskermende regstelsel, deur onder meer harde werk en volgehoue studie.
En dis juis
die punt. ‘n Taal hoef nie uit te sterf as die mense wat dit praat, omgee nie.
Meer nog, ons praat hier van die hoër funksies (soos ‘n wetenskapstaal) en nie
patois nie.
Maar waar ‘n
mens werklik dink die skrywer weet nie waarvan hy praat nie, is wanneer hy hom
ook verder uitlaat oor kanonisering. Koos du Plessis die Hertzogprys vir
poësie? Hy was / is ‘n puik liriekskrywer, maar bepaald nie in die liga van ‘n
Krog of ‘n Opperman nie. Ek verwys die regter na Harold Bloom se The
Western Canon.
Wanneer ‘n
persoon van statuur inbeweeg in komplekse kwessies soos taalpolitiek
(-ideologie) en kanonisering kan hy bepaald nie anders as om net ‘n persoonlike
opinie te gee nie.
Sonder skroom
bely hy:
Ek is skuldig. Ek was betrokke by die Universiteit van Pretoria se besluit om Engels (met uitsonderings) as voertaal te gebruik.Tesame met ’n proses van raadpleging op die kampus wat vir almal oop was en waaruit die EFF en AfriForum geloop het, was ek voorsitter van ’n paneel wat aan die universiteitsraad verslag moes doen.
Ek doseer
Afrikaans aan die UK waar meertaligheid erken word. Toe ‘n gesiene kollega,
Henning Snyman, onlangs oorlede is, het die Monday
Paper my eulogie in Afrikaans gepubliseer.
CALDi aan die
UK is ‘n sentrum vir Afrikatale en die projek vir meertaligheid word deur my
ondersteun – eerder as ‘n siening dat ons almal Engels wil wees en is.
AVBOB is tans
besig met ‘n massiewe projek vir die digkuns.
Daar bestaan
uit twee dokumentêre programme (een oor die Afrikaanse poësie, en een oor die Engelse
poësie) waar daar gepraat word oor die relevansie van die digkuns. Op 1
Augustus word ook ‘n poësiekompetisie gelanseer waaraan sprekers van al elf landstale
kan deelneem. Uiteindelik sal daar ‘n webruimte wees waar mense van alle
taalgroepe ‘n lykdig of troosgedig sal kan aflaai om te help met die verlies
van ‘n geliefde.
En in Augustus
2018, ter herdenking van AVBOB se 100ste bestaansjaar, word daar ‘n bundel met
100 nuwe gedigte deur gevestigde en nuwe stemme gepubliseer, 9 verse in elke
landstaal plus een gedig waarvan die identiteit eers dán bekend gemaak sal word.
En hierdie
representasie van inheemse tale is ‘n eerste in Afrikaans (Woorde Wat Weeg/Nuus | AVBOB borg die poësie op groot skaal. Besoek 21 Julie 2017).
Hierdie projek
bewys hoe kompleks ons samelewing is en dat ons eerder moet fokus op die
verskillende tale in ons land, as om terug te val op ‘n gelykmakende, swak
Engels. Ons het genoeg ge-mea culpa. Dis nou die hoogste tyd om vooruit te
beweeg.
* Ek wou nog sê sal in die volgende tydgleuwe weer op Via uitgesaai word: 22 Julie om 15:30 en 23 Julie om 13:00.
* Ek wou nog sê sal in die volgende tydgleuwe weer op Via uitgesaai word: 22 Julie om 15:30 en 23 Julie om 13:00.
© Joan Hambidge