Ek kom uit die Karoo en ek maak toe vriende met die Paul Roos-seuns en baie
van hulle ouers was professore, en dié ouens se studeerkamers was vir my . . .
Jy kan mos nou sien ek is ’n man vir ’n studeerkamer. André Brink, terloops,
was ook ’n ou vir ’n studeerkamer. Daar is baie kritiek wat jy kan uitspreek
teen die manlike skrywer in sy studeerkamer. Ek weet nie of vroueskrywers
soveel moeite doen om ’n fort te bou nie . . . (Etienne van Heerden/ Die siklusse van slegvoel | Netwerk24. Besoek 30 Junie 2017).
En nou kyk jy na die letterkunde – die lesers is eintlik vroue, oral waar jy kom, sien jy vroue; die meeste van die mense wat klasgee in die letterkunde, is vroue; al hoe meer van jou resensente is vroue. En soos wat dit gebeur, kan jy sien hoe die mag uit die letterkunde verdwyn.
In die argitektuur en die mediese beroepe gebeur dit ook; “hulle sê die
beroep word vervroulik.
En dan sê hulle mans gaan nooit net weg nie, mans vat ook die mag saam met
hulle weg en dan bly daar nou net ’n klomp vrouens oor en skielik daal die
statuur van daai beroep. Om ’n argitek te wees is nie meer daai aangrypende
Fountainhead-ding van die ou dae nie. So hulle gaan word dan spesialiste, die
mans of hulle gaan in geld in. (Antjie Krog/ ‘Vreemd sal die nuwer taal moet lê’ | Netwerk24. Besoek 30 Junie 2017).
Twee skrywers aan die woord. Die een manlik, die ander ‘n vrou.
Twee skrywers aan die woord. Die een manlik, die ander ‘n vrou.
Wat opnuut bewys dat die manlik/vroulik-debat nog lank nie afgehandel is
nie in die letterkunde.
Wanneer ‘n manlike skrywer wonder oor vroueskrywers se studeerkamers, is
dit ‘n relevante genderdebat: die man wonder of die vrou ‘n fort bou, soos hy,
die manlike skrywer. ‘n Fort is immers ‘n manlike ruimte. Is dit bloot ‘n slippage uit die onbewuste, ‘n vraag of
vroue ook so sterk kan en mag voel oor ‘n studeerkamer as ‘n manlike eweknie?
Vroue is lankal nie meer ‘n aanvulling of supplement nie. In Digters van dertig het Opperman indertyd
Elisabeth Eybers gesien as die “vroulike aanvulling tot dertig”. Geen
vroueskrywer is sedert Virginia Woolf se A
Room of One’s Own (1929) ‘n blote studeerkamer-versiering of afstoffer nie.
Hierna sou vroue-filosowe en –skrywers in eie reg stelling inneem: Simone de
Beauvoir tot Hélène Cixous; Jane Gallop tot Shoshana Felman – tot Vito
Spatafore. (Talk/Vito Spatafore - Wikipedia. Besoek 30 Junie 2017).
Antjie Krog wys tereg op die Afrikaanse letterkunde wat deur vroueresensente gedomineer word.
Antjie Krog wys tereg op die Afrikaanse letterkunde wat deur vroueresensente gedomineer word.
Krog meen dat wanneer mans uit beroepe vertrek, neem hulle die mag saam en
die statuur van die beroep daal.
Hiermee verskil ek. Lacan meen immers dat die Orde van die Fallus of mag
ook deur mans begeer word.
Dink ‘n vroueresensent – wanneer ‘n boek geresenseer word – eers aan
gender? Of kan ‘n leser gender-neutraal lees en resenseer?
Of is jou gender altyd ‘n kwessie? Ek dink ‘n resensent behoort ‘n
gender-voorkeur weg te pak en in haarself in die wêreld van die teks in te
verbeel. Word dit goed gedoen vir die opset wat dit aanbied? En selfs al is jy
gesteur deur die manlike meerderwaardigheid of vroulike onderdanigheid. Om te
resenseer, behoort jy vrydenkend te lees en iets te leer van iemand anders se
leed, ervarings of geluk.
Jy wals nie deur ander mense se pyn nie, het Jeanne Goosen op ‘n dag
opgemerk. En dans is die regte kode. Jy dans nie ‘n wals asof dit ‘n one-two-chachacha
is nie. Jy lees ‘n boek op eie terme.
En hier is Antjie Krog weer spot on
wanneer sy verduidelik waarom sy graag ‘n das en pak dra:
Ek dink net ’n suit, ’n pak klere, is een van die slimste dinge wat ontwerp is. Niémand weet of het jy tieties nie. Niémand weet jou boude is groot nie. Niémand weet jy’t ’n pens nie. Niemand weet jy’t knock knees eintlik nie. Níks daarvan nie. En jy kan dieselfde pak klere dra na verskeie dinge toe en elke keer miskien ’n ander das en jy’s núút van voor af. Terwyl ’n vrou as jy óp daai verhoog loop en jy’t ’n rok aan . . . hóé daai bene van jou lyk; hóé jou knieë lyk; hóé jou boude lyk . . . Dan hul hare; dis ’n vreeslike weerloosheid wat ’n vrou moet oorkom met ’n rok of met ’n skirt of selfs ’n broekpak. Maar met ’n pák klere is dáái uitgesort. Dis gehanteer: ‘Kyk in my oë en luister wat sê ek!
En daar het ons die belangrike uiting dat manlike dominansie steeds
oorheers. As jy nie van die verhoog afgekoekeloer wil word nie, dra eerder iets
neutraals. Of ‘n pak klere. Dan is die subliminale boodskap: ek is ‘n Mannin,
nie ‘n Beminde Antarktika nie. Ek is hier om ernstig opgeneem te word as
intellektueel, nie as seksobjek nie.
Hierom verkies ek om tydens poësievoorlesings te sit – in demokratiese
gelykheid met my gehoor. En my hele huis is ‘n studeerkamer – selfs die kombuis
sit vol rakke. En in die badkamer staan ‘n bril met boeke.
© Joan Hambidge