Resensent: Joan
Hambidge
Johan Myburg debuteer met Vlugskrif (1984). Sy volgende bundel heet Kontrafak (1994) en word met die Eugène Marais-prys bekroon. In
2008 verskyn Kamermusiek en so pas: Uittogboek. Dit is ’n komplekse bundel
wat handel oor die geskiedenis, ver en naby, en die programgedig is ’n
herdigting van die bekende sterfgedig van die Romeinse keiser Hadrianus (76-138
n.C.).
Myburg se bundels was nog altyd deurgekomponeer, veral
rondom musiek en die skilderkuns. Dieselfde geld die jongste bundel wat die
leser kan oopmaak op enige plek om die kontrapuntale aard daarvan te kan
raaksien. “Ombra mai fu” (52) is ’n sentrale vers wat dit illustreer. Dit is
die openingsaria van Handel se opera Serse
(1738), wat al deur soveel sangers vertolk is. Oorspronklik gesing deur ’n
castrato en nou veral in moderne tye deur hoë tenore, contralto’s en
mezzosoprane.
Ombra mai fu
di vegetabile,
cara ed amabile,
soave più.
Nooit was die skadu van ’n plant, liefliker, mooier of
soeter as jy . . . (losweg so vertaal).
Dié bundel getuig van baie nadink en lees. Dit word egter
nooit afgeleide kuns nie.
Myburg se vorige bundels het swaar gedra aan ’n T.T.
Cloete-invloed. In hierdie bundel het hy dit genoegsaam verwerk en sy eie stem
gevind. Cloete is steeds daar, maar nou meer in die troop van die apophrades, soos
Harold Bloom dit tipeer in A Map of
Misreading (1975), oftewel die terugkeer van die dooies.
In “Reitzstraat, Potchefstroom” (44) lewer Myburg verslag
van hierdie mentorskap en besef hy hoe belangrik vormbeheer is: “Sedertdien
swymel ek steeds oor die boeket / van tuine en die toorkrag van ’n rymende
eindkoeplet.”
Die digter lewer ’n bundel met ryk tematiek en daar is vele
vorme wat ontgin word, soos prosaverse, stringverse, eksperimente met die
distigon, vierreëlige verse. Daar is lykdigte en reisverse. Ars poeticas en
stemmingsgedigte. Daar word verwys na skrywers soos Marguerite Yourcenar,
Maurice Blanchot; kunstenaars soos Elza Botha en Diane Victor.
Daar is gesprekke en palinodes, onder meer “Nanas de la
nada” (105-107). Dit is gegrond op César Antonio Molina se “Vivir sin ser
visto” (“Lewe sonder om gesien te word”), ’n koerantartikel wat die digter in
Madrid gelees het. Hier word die buitelandskap teenoor die binnelandskap
afgespeel en die reisende digter word immers getref deur die nuutheid of
vreemdheid van ’n ander bestaan, soos verruklik beskryf in die lang gedig oor
Venesië (46) waar die stad gesien word soos ’n borsspeld op die lapel van die see.
Van bo gesien lyk die stad
op ’n druppel soos ’n vis
of is dit ’n sinker.
Die gedigte is middelpuntsoekend en -vliedend
(“Sentripetaal”, 58) en hierom word die hadida uit verskillende hoeke digterlik
en taksonomies belig. Die digter is sowel tuis as ontheemd (46) en in
“Passacaglia” (45) word ’n stuk kunsteorie skitterend verwoord.
Dit is ’n stadige, stylvolle dans van Spaanse oorsprong (uit
die 17e eeu) met vele variasies wat ’n sleutel is tot hierdie bundel met
verskillende weergawes en ’n terugkeer na ’n tuin van herinneringe.
Myburg is ’n gerekende kunskritikus en hierom vind ons dan
vele besinnings oor die beeldende en skilderkuns.
Sy gedigte werk sterk klankmatig en die musikaliteit sluit
aan by Johann Johl se Gewalste woord
(1990).
Die digter aktiveer Cangiante, ’n modus van skilder uit die
Renaissance-tydperk teenoor Unione, Chiaroscuro en Sfumato. Cangiante
(letterlik verandering, van die
Italiaans “cangiare”) aktiveer die afwisseling van emosies én kleure.
In “Spätsommerstag” (42) word die liefde pynlik-navrant
belig. In “Postuum” (60) wonder die spreker of die “ingekiste” tevrede was met
die blomme by die begrafnis?
“Prosopopeia” (95) is weer ’n ander sleutelgedig wat handel
oor Egiptiese doodsrituele, waarin die uittogboek van ’n sterwende via papirus
tot ’n moderne gedig oorvertel word. In die Grieks is dit letterlik
persoonsverbeelding of personifikasie dan.
Die digter as buikspreker wat telkens “objective
correlative” vind om sy eie emosies te maskeer. Hierom vele apokriewe briewe en
gesprekke met historiese figure, soos die skitterende “Apokriewe brief” (61)
van die kardinaal Cisneros aan Gabriel Alonso de Herrera in 1513. Oënskynlik ’n
brief oor boerderye, wat dan weer politieke kommentaar word op boekverbrandings
in onrustige tye. “Kitab al-filaha” (56) is eweneens ’n gedig wat sowel die
landbou as die kuns van skoonheid aanspreek.
In “Deuntjie” (57) staan daar:
My huis is so gehawend
soos dié van ’n Moorse koning:
Buite vrot die pleisterklei
maar binne is my woning.
Dit is ’n ryke, komplekse bundel wat getuig van baie nadink
en lees. Dit word egter nooit afgeleide kuns nie, omdat die digter sy eie
outentieke ervaring daarvan weergee in ’n pragbundel van oor die honderd
bladsye waarin vele tale en kulture beslag kry.
Johan Myburg
Van die Karoo tot Kastilië, van Xerxes tot Gustav Mahler in ’n bundel van “om te leef om te oorleef om oorleef te word”, 70). Dit is ’n bundel van tanatografie, maar terselfdertyd word die lewe besing en gevier.
George Seferis, die diplomaat-digter, gooi hier ’n lieflike
draai:
In Pretoria dans bome met kastanjette, strooi
Jakarandasneeu in die lente. Die res, meen Seferis,
Is saai, ’n grafstad waarin hy lewend toegegooi
Is, ’n skaduryk waarin hy dolend soek na ’n poort. (19)
“Elegie op die wyse van ’n impasse” (77) is ’n sterk
politieke vers wat kommentaar lewer oor die paspoort wat eventueel verstryk.
(Eventueel hier dan nie as moontlik nie, maar uiteindelik.) Afrika sprei oop
soos ’n kassaweblaar.
Dit is ’n eerste lesing wat deur dieper besinnings sal moet
gaan om reg te laat geskied aan Uittogboek.