In sy bespreking van Ruan Fourie se debuutbundel (“Digter nie teen homself
beskerm”, 10 deser) misbruik Tom Gouws die gesiene literator A.P. Grové se
naam. Dit is én bly die goeie reg van ‘n resensent om sy siening oor ‘n boek se
gehalte neer te pen, maar wanneer die resensie in ‘n onsmaaklike “urban legend”
ontaard, moet beswaar aangeteken word.
Ek het professor Grové in 1980 ontmoet toe hy dekaan was aan die UP en ek
daar wou begin studeer op ‘n nagraadse vlak. Ek het hom hoflik en beskaafd
gevind. Daarna het my deur die jare uitstekende verslae oor my bundels geskryf
en ek was ook by geleentheid ‘n gas aan sy huis.
Dit val te betwyfel dat hierdie literator ‘n jong student so ‘n banale
woord sou toevoeg oor sy werk. Selfs al was hy krities oor ‘n bundel was hy
altyd beleefd en intellektueel deurdag. Grové kon ook Latyn lees en ek beskou
sy studie oor Opperman se Komas uit ‘n
bamboesstok as ‘n besondere insigryke werk. Trouens, min kritici het met
soveel eerbied na ‘n digter se werk gekyk as hy. En waar hy oordeelsfoute
begaan het – o.a. oor Breytenbach se debuut – is sy bydrae tot die
literatuurkritiek enorm.
Hy sou bepaald nie die volgende geuiter het nie:
Volgens oorlewering het Breyten Breytenbach ná ’n lesing by Tukkies saam met prof. A.P. Grové vir middagete gestap toe ’n voornemende digter hulle trompop loop en sy gedigte in die gasspreker se hand druk en na sy mening vra. Prof. Grové het die stapeltjie gedigte ferm uit Breytenbach se hand gevat, sy oë vlugtig laat val oor die yl skribbeling. Ná ’n paar sekondes se lees, gee hy dit terug aan die verdwaasde student, kyk hom stip in sy “igtiomorfe oë” en sê sag, dog ferm: “Dis suiwer kak.”
Hoe gaan daardie ou liedjie nou weer? “Vat jou goed en trek Ferreira …”.
Ons het nie sulke potsierlikhede nodig nie.
Die volledige resensie kan aanlyn gelees word. (Digter nie teen homself beskerm | Netwerk24. Besoek 12 Julie 2017).
Op dieselfde dag lees ons ‘n uiters positiewe resensie op die Versindaba
oor Johan Myburg se Uittogboek. (Versindaba » Blog Archive » Resensie/ Uittogboek (Johan Myburg). Besoek 12 Julie 2017).
Ek gaan akkoord met die positiewe resensie, maar die volgende stelling laat
‘n mens tog nadink:
Johan Myburg is ʼn digter wat hom langsaam haas – hy word bepaald nie deur ʼn publikasiewaansin gedryf nie.
Is die digter wat lank wag noodwendig “beter” as die digter wat meer
publiseer? Sou Gouws dit op Breytenbach, Johann de Lange of Daniel Hugo, o.a.
van toepassing wou maak?
Dit neem ons terug na die “intentional fallacy” en “affective fallacy” van
Wimsatt & Beardsley. Hierdie twee New Critics het ‘n punt beet gehad
wanneer dit by letterkundige beoordeling kom.
Wanneer ‘n mens snedige en afbrekende resensies lees – soos oor Ruan Fourie
- dan verlang ‘n mens na literatore wat tekste sien as ‘n “verbal icon” of
“well wrought urn”.
Ongelukkig is die gemiddelde leser van ‘n dagblad onbewus van die netwerke
van rusies en stryde en ambisies – van resensente wat byltjies te slype het met
mede-resensente, keurders of uitgewers – en dan die resensie lees as die Waarheid.
Om iets te weet van die bedoeling van die skrywer of die impak van ‘n teks,
sal die gehalte moet bepaal en dit is ‘n drogredenasie, aldus Wimsatt &
Beardsley. Wat jy bedoel het, moet uit die teks spreek; en die impak (of
verkope) is tog nie ‘n teken van gehalte nie. Dan was Tryna du Toit ‘n groter
skrywer as Wilma Stockenström.
Om lank te wag op ‘n teks wat stadigggggg in die laai stof vergaar is
helaas ook nie ‘n waarborg vir gehalte nie. ‘n Bundel wat lank in die laai lê,
mag ook dateer en as “outyds” aandoen.
Daar is ook iets soos die regte tyd en oomblik vir ‘n bundel. Laat digters
dig soos hulle gebek is. Laat hulle publiseer as hulle iets bydra.
© Joan Hambidge