Cas Wepener. Dubbelfoto. Protea Boekehuis, 2013. ISBN: 9781869199678
Resensent: Joan Hambidge
Literatore wat gereeld resenseer sou met groot eenstemmigheid om die ronde tafel van die literatuur kon sit: daar word tans te veel boeke gepubliseer en wie koop dit? Stap by ‘n gesogte boekwinkel in en jy vind niks wat boeiend is nie. Dit staan dalk eerder by tweedehandse boekwinkels. So ‘n jaar terug het ek vir RSG ‘n boekeprogram hanteer en ek kon nie voorbly met die swak en middelmatige boeke wat in bokse voor my deur geland het nie. Hierom bestel ‘n mens eerder via die internet ordentlike boeke. Uitgewers bely: goedkoop om ‘n boek te publiseer, duur om te bemark.
Cas Wepener se Dubbelfoto is ‘n kortkunsdebuut wat op die agterblad beskryf word as ‘n “glansende toevoeging tot die kortverhaalskat in Afrikaans”.
Ons verneem van ‘n boeiende leeservaring en dat dieselfde storie uit verskillende oogpunte vertel word. Verder gee verhale nie sommer hulle geheime alte maklik prys nie.
Sluit dit aan by die nuwe tendens om boeke ten alle koste te bemark?
As resensent glo ek: gun elke diertjie sy meninkie.
*
Vir my was hierdie verhale bloot anekdoties, optekeninge, opgedra aan Drienie “’n storiemens”. Maar dan soek ek, wel, ‘n storie. ‘n Storie soos by Tsjekof of O'Henry. Of Alice Munro.
Die motto uit Roland Barthes se Camera lucida rig die verhale: Barthes verwys immers na die punt wat die foto moet maak en die studium of komposisie. Inderdaad speel verhale op mekaar in – o.a. die Bentwood-stoeltjie is ‘n herhalende motief in die bundel. Dit word ook afgedruk by die begin van elke verhaal.
Die bundel bly in gebreke om die diepgang van Duiwel-in-die-bos te ewenaar in die herhaling van motiewe of as eenheidsbundel.
Die eerste verhaal “Memento mori” mag dalk gekanoniseer word in De Vries se kortverhaalbloemlesing of deur Aucamp in Die blote storie behandel word.
Ongelukkig is die meeste verhale wat hierdie leser betref beslis nie ‘n glansende toevoeging tot ons sogenaamde kortverhaalskat nie. Op hierdie gebied is daar wérklike meesters en die meeste verhale is gawe vertellinge of stories, maar helaas nie groot nie.
Oor familieportrette het ons al by Aucamp iets substansieels gevind en by Koos Prinsloo iets wat jou lank bybly.
“Memento mori” analiseer die betekenis van die dubbelfoto of dubbelportret. Die verhaal “Die naakte waarheid” verpas egter die geleentheid om seksuele taboes diepgaande te ontgin. Die meeste van hierdie verhale is nog nie genoegsaam verhaal nie. Hierdie verhaal som die problematiek op: ‘n soort selfbewustheid rondom broekies-aftrek en afloer.
*
“En tog is ons almal verbind aan mekaar deur hierdie landskap” (82), word daar opgemerk, maar dit word nie genoegsaam uitgewerk nie. Die dor land (in aansluiting by Van Wyk Louw waartoe ons behoort). Ook die verbintenis tussen lewe en dood (die sogenaamde dubbelfoto) verras nie eintlik nie.
Van platteland tot die stad; van voorgeslagte tot agterkleinkinders. Dit is waarskynlik ‘n verhalebundel vir die meer populistiese mark. Wat bepaald ‘n plek het – maar die agterblad is misleidend en die verhale is nie dwingend genoeg nie.
Die bundel het my wél teruggeneem na Barthes se meesterlike Camera lucida (1980) en die betekenis van foto’s. La chambre Claire heet die Franse titel – en dis presies hoe ‘n vertelling moet wees. Die Engelse weergawe het in 1981 by Hill and Wang in New York verskyn.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]