Marlize Hobbs. Score my ‘n gwai. Human & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 9981 6254 8
Resensent: Joan Hambidge
Vir haar debuut is Marlize Hobbs bekroon met drie pryse: die UJ-prys, Jan Rabie / Rapport-debuutprys en die gesogte Eugène Marais-prys. Die tweede boek heet Score my ‘n gwai en kan as ‘n tweeluik gelees word met die eerste boek Flarde.
Hier vind ons ook flardes of skerwe van ‘n gebroke verteller wat die “naked I” aan die leser voorstel. Miesa en Siena Maamogwe is die twee vertellers. Die boek vertel die verhaal van molestering, senu-ineenstortings, lesbiese identiteit, kinderaanneming, outisme, politieke geweld en die ellendes van die ou-Suid-Afrika. Die boek is in ‘n bykans telegramstyl aangebied en die leser moet self invul wat gebeur tussen oorgange. ‘n Mens dink onwillekeurig aan William Faulkner se As I lay dying en dan natuurlik Sy kom met die sekelmaan daardie onvergeetlike, grootse biegroman van Hettie Smit met sy ek/alter ego aanbod.
Dit is egter ‘n moderne liefdesverhaal, want Miesa is getroud met ‘n Facebook-liefde, Jasmyn. Die verhaal lewer deurgaans kommentaar oor die belang van skryf en die impak wat dit het op die “ek”: as verlossing, maar ook as iets wat ‘n noodsaak of dwang word.
Die vertellende ek is dus ‘n subjektiewe “ek” met ‘n soekende identiteit. Háár identiteit is onlosmaaklik verbind aan haar antagonis, Siena wie se dood haar raak. Dog hulle verbintenis kan nie opgehef word nie en deur die vertelling in woorde word dit ook verewig.
*
Daar is sentrale passasies wat die teks oopmaak vir die leser soos:
“Wanneer Siena gaan, is my huis stil en loer daar ‘n spookkind deur die tralievensters na my. Ek kyk op in haar oë en haat die spieëls daarvan. Dit swets terug in myne: fokfokfok. Die spookkind sweef effe bo die grond soos ‘n trourok se sleep op water, ek sien die beeld in my gedagtes. Sy het nog nooit met my gepraat nie, ek het nog nooit probeer om met haar te praat nie, sy volg my net soos ‘n skaduwee, asof sy aan my enkels vasgeheg is. Al staan sy ver, bly sy naby. Al sien ek haar soms nie, is sy daar. Ek weet altyd van haar”, is ‘n sentrale passasie (p. 57).
Ook die volgende passasie is belangrik:
“Ek is 1979 skool toe. Laerskool Louwna met vyftig leerlinge en drie onderwysers. Sub A tot standard 1 was in dieselfde klas. Ek het dus vroeg reeds die volgende jare se werk geken en verstaan. Skool het my verveel, behalwe storietyd. Dit was heerlik! En Juffrou Cathy het geweet hoe om ‘n storie te vertel, sodat ons regop gesit en luister het. Sy het vir ons Brolloks en Bittergal van C.J. Langenhoven gelees. Ek onthou nou nog hoe ek in die verbeeldingswêreld daarvan ontsnap het” (p. 129).
Vir die speurende leser is hier dus interessante aspekte rondom spieëls en verbeelding. Ook rondom die konstruksie van die “ek” as persoon met geweldige uitdagings en probleme en vir wie verhale die enigste ruimte van verlossing is.
*
‘n Mens is ‘n mens deur ander mense, lui die Tswana-spreuk as motto in hierdie boek. Dit is wat die verhaal probeer vergestalt met skerp en aangrypende vinjette – soos ‘n selfmoordpoging, die jag van springhase, geweld op swart mense op plase, om ‘n paar momente uit te sonder. Vir my gevoel moes die roman (of vertelling) nog ‘n keer herskryf geword het om werklik die volle impak te kon ontgin.
Dit is jammer, juis omdat daar ‘n paar wonderlike oomblikke is wat die leser sal bybly. Ongelukkig is daar egter ook passasies of skryfsels wat so clichématig en sentimenteel – op ander kere selfs kru – is dat dit die indruk laat van “work-in-progress”.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]