Saturday, September 28, 2013

D. J. Opperman-gedenklesing 2013

Joan Hambidge, Ronel de Goede, Lina Spies, Ingrid Winterbach, Helize van Vuuren,  
Louise Viljoen, en Marlene van Niekerk. Foto: Mariheca Otto

Donderdagaand, 26 September, het Helize van Vuuren die D. J. Opperman-gedenklesing gelewer. Die onderwerp: D. J. Opperman se laatwerk

Dit was 'n inspirerende lesing oor die betekenis van laatwerk en Van Vuuren, 'n ingeligte en deurwinterde literator,  het Opperman se "Vuurbees" op 'n briljante en sinryke wyse ontleed. Van Vuuren het deur die jare veral bekendheid verwerf vir haar kennis van rotskuns, en haar tekstuele speurtogte, onder meer rondom verwysings in Tristia en Komas uit 'n bamboesstok.
*

Die vuurbees
'n Paar punte:

Van Vuuren het belangrike aspekte van Celan se ondeurdringbare verse vir die leser "oopgemaak". Sy het Lacoue-Labarthe en Szondi gebruik om die komplekse leesproses te verduidelik.

Sy betrek Said se On late style, Adorno en Clark om laatwerk te verduidelik en Komas uit 'n bamboesstok vir die toehoorder op 'n ander manier te bekyk. By Opperman is die laatwerk egter nie pessimisties nie - hier beweeg hy weg van die pessimisme wat "laatwerk" kenmerk. Daar is egter in Dolosse egter sprake van die katabasis of afbeweeg in die hel.

Op 'n briljante wyse analiseer sy die Hertzog-prys-debakel toe Tristia bó Dolosse bekroon is en die opmerkings van Lindenberg oor lg. Hoe belaglik blyk dit na al die jare om hierdie twee tekste teen mekaar af te speel.

Sy verwys ook na Picasso en die motief van Pompeï en Dionisiese orgies, die teruggaan na neolitiese kunsvorme en die reis deur miljoene jare se geskiedenis van die mensdom  in Opperman se Dolosse


Lascaux

Ons sien ook 'n video van Lascaux en Altamira om die grottonele te verduidelik - Van Vuuren op haar beste!

Sy betrek ook Jacques Perk se gedigtesiklus oor die grottte van Han - 'n reeks waarvan D. J. Opperman beslis kennis geneem het.

Die gesprek met Blum en natuurlik,  Wilma Stockenström, word eweneens onder die loep geneem:

“Wat ek met berge gemeen het” (Monsterverse 1984:32):

Grot is ek: bewaarder van geslagte
se skreeuende gebeentes en hopies klip.
Grot ek: die berghaan se klankversterker.
Die berghaan draal. Hy sleep skalks
sy klein stompstertskadu deur my,
en met die skaduprent op my tong

stamel ek my ganse leegheid.

Opperman het inderdaad die grotte van Han besoek.

Die Laatfase by Opperman staan egter in die teken van anabasis - 'n positiewe proses.

Ook het Van Vuuren kommentaar gelewer - n.a.v. 'n besoek aan die ICLA-kongres aan die Sorbonne - oor die impak van BDE of byna-dood-ervarings.
*
Die opkoms was uitstekend en met vraetyd het die misverstane debat oor Opperman en die filosofie opnuut aan die orde gekom: Opperman -  hier het ekself en Lina Spies beklemtoon - was nie teen die filosofie nie. Hy het egter as mentor jong studente aangeraai om met hul sintuie te werk: sintuie is werktuie. Gaan lees Kannemeyer se biografie gerus vir die bewys as jy nie die voorreg had om dit in die laboratorium te hoor nie!

Opperman het immers oor etlike filosofiese onderwerpe gedig.

Dit is goed om ‘n uitstekende literator en akademikus aan te hoor by ‘n gesogte lesing.


Prof. Helize van Vuuren


(c) Joan Hambidge