Deborah Steinmair. Wenkbrou. Human & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 7981 5775 9.
Resensent: Joan Hambidge
Wenkbrou van Deborah Steinmair word tipeer as ‘n raaiselroman. Dit is die derde een in ‘n reeks wat Hettie Scholtz tereg soos volg tipeer: “’n Skrywer met ‘n goeie oog en ‘n heerlike sin vir humor”.
Kortliks word die verhaal uitstekend soos volg bemark: “In hierdie roman betree die leser weer saam met die eksentrieke Aga en Jesse (met wie ons in Die Neus kennis gemaak het) ’n vreemde wêreld, dié van die amper Amish-agtige sekte in die Oos-Vrystaat. Wanneer Jesse verneem dat die kleinseun van moeder Motle, hoof van die Susters en lewenslange vriendin van haar ouma, vermis en vermoedelik vermoor is, besluit sy en Aga om daar te gaan ondersoek instel. Hulle maak kennis met die groep nonne en die patriargale Volgelinge wat leef volgens die ouderwetse geskrifte van hul menslike Herder. En, soos mens kan verwag by hierdie skrywer se unieke, heerlike vorm van speurverhaal, is dit nie lank voor hulle ’n rits rare, fantastiese ervarings beleef nie. Hulle word weer eens bygestaan deur deur die rowwejack dude, Claude. Dié slag met die verdere hulp van sy nuwe vriendin, die wit sangoma Stasi Soldatos. Satiries, lig, vars.”
Die leser word etlike sleutels gegee om hierdie boek te begryp. Op bladsy 163 word die heldin voorgestel asof sy in ‘n fotoverhaal optree en voortdurend word ‘n gebeurtenis of insident vergelyk met ‘n bekende film of reeks soos Murder she wrote of televisieproduksies soos Noot vir Noot. Daardie fotoverhale skep ‘n bepaalde leesstrategie: ‘n mens dink onvermydelik aan Mark Condor waar die bose altyd oorwin word en die karakters toneelspeel met hoofletters. Die roman eindig dan ook met ‘n ~.
In die eerste hoofstuk word wenkbroue vergelyk met Mr Bean se twee uiters beweeglike harige wurms op sy voorkop (8). En verder verneem ons ‘n wenkbrou is ‘n kommunikasiehulpmiddel. Mr Bean is die kode hier: Mr Bean goes to America (1997) is waarskynlik die waansinnige interteks in die spel met kodes en die oplos van die raaisel! Daardie rolprent waar iemand soos Burt Reynolds as Generaal ‘n kunsuitstalling open, wys presies hoe humor werk. Boonop onthou ons almal die grappe oor Reynolds se pruik. Die gelanterfanter rondom die diefstal van Whistler’s Mother en die soeke na die oorspronklike kunswerk is die raaisel wat opgelos moet word. En aan die basis van die speurverhaal – waarvan die grootste die drama Oedipus Rex – is die raaisel met die leser (of toeskouer) as speurder.
Steinmair se boek is ‘n paper chase, ‘n verwysing na tekste en kodes. Ook ‘n ouktoriale roman met sy hofies wat die teks begelei en verpak, hoofstuk vir hoofstuk, selfs met aanhalings uit die Bybel: vir die teoretiese leser is daar via Umberto Eco se The role of the reader vele “inferential walks” te make. ‘n Mens narkotiseer* en oordryf saam met die skrywer wat kortom ook die genre van die speurverhaal parodieer. Angela Lansbury en so. En kommentaar lewer op die groot aantal speurverhaalskrywers hier te lande en die sukses van vroueskrywers binne die genre, waarvan Agatha Christie die koningin bly.
Die ouktoriale aanwesigheid dui op die skrywer wat die gegewe manipuleer en vir ons orden. Agter alles skuil ‘n outeur as regisseur. Dit vorm ook deel van ‘n reeks met karakters wat bepaalde rolle vertolk.
Hier word inisiasiesterftes, die Blou Rokke en die verdwene onskuld van die platteland belig.
Miskien kort die roman meer tekstuur? Maar gelees binne die tradisie van die Japannese manga wil dit waarskynlik – nes Louis de Villiers se roman uit 2012, Karmapolisie ontmoet die Bokke- die oppervlak-verhaal beklemtoon. Hieroor het ek uitgebreid geskryf (Louis de Villiers - Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke, 2012).
Hierdie skrywer is vir haar debuut Marike se laaste dans in 2011 bekroon met die Jan Rabie Rapport-prys vir ‘n debuut en met hierdie reeks verdien sy haar spore.
Sy sal bepaald ‘n paar wenkbroue lig met haar aweregse humor en debunking van ernstige kwessies. En ja, Die geheim van Nantes is ook hier: “Die tantes van Nantes en al wat verwant is die veg om die besit van die plaas” wat ons neem na Al Debbo. Hierom dink ek Mr Bean is ‘n belangrike interteks!
Vir die speurende leser is daar tersaaklike heenwysings na die Bybel en allerlei relevante intertekste.
Ja, alles kom tot ruste in die teken van die tilde: ~.
* Volgens Umberto Eco, in The role of the reader, is die rol van die leser om soms tekstuele karakteriserings en gebeure aan te vul (“blowing up”, soos hy dit stel), of af te skaal, te verminder, om dit te “narkotiseer”. (Anthony C. Thiselton, Thiselton on Hermeneutics: The Collected works and new essays onAnthony Thiselton. Ashgate Publishing Ltd, 2006. p. 499)
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]