Henning Mankell. A Treacherous Paradise. Random House, 2013. ISBN 9781846556241
Resensent: Joan Hambidge
Henning Mankell moet geloof word om sy uitmuntende Wallander-reeks. ’n Effens verloopte Kenneth Branagh speel die hoofrol in die TV-verwerking. Die skrywer is ook ’n gevierde spanningsverhaalskrywer en sy sogenaamde atmosferiese romans wat hulle dikwels in Afrika afspeel, het hom eweneens gewild gemaak. A Treacherous Paradise is op die werklikheid gegrond.
Dit handel oor ’n verdwene vrou wat ’n bordeel in die ou Lourenço Marques bestuur en volgens argiewe belasting betaal het. Maar sy het verdwyn en om hierdie gegewe bou die skrywer sy verhaal uit.
Die verhaal is inderdaad atmosferies, die pas beweeg flink van hoofstuk na hoofstuk. Die nuttige glossarium agterin verhelder Portugese begrippe.
Hoe mense kan wegraak met net ’n dagboek of bloot ’n belastingopgawe as die enigste bewys van hul lewe, stig hierdie verhaal aan vir die werklike outeur. Vir die leser is dit die besonder aangrypende verhaal van ’n vrou uitgelewer aan die ervarings van ’n skeepsreis, die dood van ’n man en haar besluit om die skip te verlaat en in ’n nuwe ruimte haar voete te vind. Hier word Hanna Lundmark, die voormalige kok op ’n stoomskip, baas van die bordello en ontmoet sy vreemde karakters.
Stereotipes oor rasse word aangebied, maar telkens ondermyn in die snel-bewegende verhaal. Juis omdat Hanna uit ’n armoedige agtergrond kom, kan sy die ellendes van die swart mense begryp in ’n verhaal gesitueer in 1904.
Dit is ’n reis- of peregrinasieverhaal. Die uiterlike reis van die armoedige bestaan in Swede na ’n verblyf op ’n stoomskip tot Lourenço Marques word gesinkopeer met die innerlike reis. Dit is ’n boek oor ongelooflike eensaamheid en verlange na geborgenheid soos wat Hanna dit as arm kind geken het. Sy hou ’n dagboek waarin sy haar ervarings opteken.
Die kern van die verhaal is die binnespraak van Hanna: “Perhaps the big secret was the realization that you never knew what was in store for you? If you made the break and left behind everything that was known and familiar?”
Die Ana Branca en die Ana Negra word goed teenoor mekaar geplaas. Hoe sy as wit vrou verander in die nuwe wêreld en dan verdwyn.
Rassisme, kolonialisme, die geskiedenis van skeepvaart, argivale navorsing, feministiese agentskap, prostitusie – en ook psigoanalise – word goed vermeng in ’n genotvolle verhaal. Jammer die voorblad van die Suid-Afrikaanse uitgawe skep die indruk van ’n vliegtuigroman!
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]