Sunday, October 30, 2022

Resensie | Johann de Lange & NCP Golele (Reds) - I wish I’d said...Vol. 5 | Naledi, 2022

I wish I'd said...Vol. 5, Naledi, 2022. 336pp (Sagteband), R240.00. ISBN: 9781776172412

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Johann de Lange, die bekroonde Afrikaanse digter en Professor Nxalati Charlotte Priscilla Golele, die voorsitter van Pan Suid-Afrikaanse taalraad én ‘n bekende navorser binne Afrika-tale, is die twee hoofredakteurs van die jongste AVBOB-poësie projek. Volume 5 het sopas verskyn.

 

In die elf amptelike tale, elk met sy eie verskillende taal- en kulturele kodes, word die dood besê en beskryf. Die digkuns kan iemand wat deur ellende van verlies gaan, uiteindelik dra. ‘n Nege-jarige digter en ouer digter van 83. Bekend en onbekend. Geskryf in die donker op ‘n bedjie (by ‘n kers) of met ‘n komputer. Verskillende style vind ons: van die praatvers tot die meer hermetiese vers.


Elke digter vertolk die funeraire gedig (ook genaamd die treurlied, die lament, die elegie of lykdig) eiesoortig.

 

Die matelose magteloosheid teen die impak van die dood en die gevoel van ek-wou-nog-sê, is oorbekend aan hierdie soort vers.

 

Die decorum van die lykdig (soos Witstein dit uitwys) met die 'prooemium' (inleiding) en 'n uitskel oor die doodsoorsaak (vituperatio)  – met lof (laus) as dit ‘n beroemde persoon was en die ander strategieë is ook hier soos die 'iacturae demonstratio', 'luctus','adhortatio', 'causa' en 'consolatio'.

 

Maar veral die gedig as consolatio (troos) is een van die belangrikste kenmerke wat ons vind in hierdie ryk geskakeerde bloemlesing. Die Afrika-spreekwoord is hier ter sake: “Death is like a robe everyone has to wear” wat op die buiteflap staan neffens Susan Sontag se bekende uitspraak:” Life is a movie. Death is photograph.” Afrika teenoor Westerse kodes is opvallend.

 

In Afrikaans staan daar belangrike lykdigte opgeteken: van Totius tot Opperman; van Johann de Lange tot Krog. Of digters wat dig oor mede-digters se vertrek (hier Hendrik J. Botha oor Gisela Ulyatt. In vorige bloemlesings was daar gedigte vir Jaco Botha, die skrywer).

 

In sy inleiding wys De Lange daarop hoe Covid elke vesel en aspek van ons lewe verander het. En steeds bly verander en hoe vrees en isolasie ‘n impak gehad het. Sopas het Michèle Betty se Dark Horse (Dryad Press) verskyn waarin die selfdood van die vader en die effek op sy familie ondersoek word in sterk gedigte.

 

En die digkuns registreer al die fasette van hierdie verlies. Daniel Hugo is die Afrikaanse, en Douglas Reid Skinner die Engelse redakteurs. ‘n Bonus is die opname van die San en Khoi verse en dat die Afrika tale eweneens in Engels beskikbaar is. “Death, you are so cruel”, dig Malefu Cynthia Sello (173) wat terugpraat met Zandra Bezuidenhout se vers “Geen verbinding” (8):

 

Die dag word lank en koud,

en stil soos jy. (8)

 

Die gedig as consolatio of troos word verbeeld in Hendrik J. Botha se “Soms is wonde drome” oor die digter Gisela Ulyatt (1977 – 2020). Hy beskryf daardie plek waar “wonde droom / en drome nie verwond nie” (4).


Alles wat verlore gaan, sal vlerke kry en in drome terugkeer …

 

Herinneringe beteken dat ons nog die persoon kan oproep soos Clinton V. du Plessis dit pynlik en aangrypend verwoord in sy wengedig:

 

Leemte

 

25 jaar gelede: jou vertrek

steeds verlang ek om weer

kniehoogte neffens jou te stap

die stil sekerte van jou aanraking op my hoof

 

ek, kaalvoet, kortbroek

my hand in joune as ons ’n straat sou kruis

hierdie land was ’n ander plek, Pa

ons stoor nou drome in trommels in buitekamers

die bome wortel krake in die oprit langs ons huis

tog onthou ek jou, soos die omslag van ’n spesiale boek

 

ek het ’n skildery van jou ou foto laat maak,

geraam, jy pryk op die lys, bo die kaggel

dwarsdeur hierdie winter gloei die kole

maak ons verbete warmte, maar

hierdie huis is ’n ander plek, Pa

 

en ek?

Ek is ’n stoker, sonder lokomotief

’n roepman, sonder skofkaarte

’n kondukteur op ’n spooktrein

’n vergete passasier op ’n koue donker plein.

 

Ek wag vir jou, met jou jas en my tas.

 

“Pack up the moon / and dismantle the sun” staan dit in Auden se lament. En Paula Meehan ervaar die dood van haar kind as so pynlik dat sy liefdesnag wil kanselleer toe die kind verwek is. (sien Endnote).

 

 

II

 

Hierdie bloemlesing gee ‘n beeld van Suid-Afrikaanse gedigte in verskillende tale (oorspronklik en vertaal) en die dosent sowel as ‘n besoeker aan die land kry ‘n waardevolle blik op die aard van die inheemse digkuns.

 

Ook is die kwessies universeel: die ek-wens-ek-het-gesê of die gevoel van magteloosheid soos Rabelani Mutsatshi bely: die “song of regret”.

 

Die digter as weeskind wanneer die ouers sterf wat die digter, ironies genoeg, beter kan sien ná die vertrek.

 

Of die wonde (“Scars”) soos Prisca Nkosi dit stel wat die dood laat.

 

In “Hope” van Molebatsi Joseph Bosilong word die Covid-virus direk aangespreek.

 

En die meester van die digkuns Jonty Driver skryf in “La Tour des Anglais” spreek digters aan wat selfdood gepleeg het. Almal in die “glare of Giant Despair”.

 

En die wrang slot van Ingrid de Kok se “Things I once loved” draai alles op die kop in die ironiese slot:


And what’s it about regrets?

 

I can’t give them up

Still need their sandpaper.

 

En hierdie bundel werk inderdaad met adhortātiō:

exhortation

encouragement

(rhetoric) An exhortation intended to win the consent or desire of the audience.

(adhortatio – Wiktionary. Besoek 28 Oktober 2022)


Hierdie leser was deurgaans bewus van die enorme werk wat dit moes gekos het om hierdie bloemlesing saam te stel en wenners te kies uit die ryk skat van die digkuns.


 

 Endnote:

 

Twee klassieke lykdigte:

 

Child Burial

Paula Meehan

 

Your coffin looked unreal,

fancy as a wedding cake.

 

I chose your grave clothes with care,

your favourite stripey shirt,

 

your blue cotton trousers. 

They smelt of woodsmoke, of October,

 

your own smell there too.

I chose a gansy of handspun wool,

 

warm and fleecy for you. It is

so cold down in the dark.

 

No light can reach you and teach you

the paths of wild birds,

 

the names of the flowers,

the fishes, the creatures.

 

Ignorant you must remain

of the sun and its work,

 

my lamb, my calf, my eaglet, 

my cub, my kid, my nestling,

 

my suckling, my colt. I would spin 

time back, take you again

 

within my womb, your amniotic lair,

and further spin you back

 

through nine waxing months 

to the split seeding moment

 

you chose to be made flesh, 

word within me. 

 

I'd cancel the love feast

the hot night of your making.

 

I would travel alone

to a quiet mossy place,

 

you would spill from me into the earth

drop by bright red drop.


*


Stop all the clocks, cut off the telephone

W.H. Auden

 

Stop all the clocks, cut off the telephone, 

Prevent the dog from barking with a juicy bone, 

Silence the pianos and with muffled drum

Bring out the coffin, let the mourners come. 

 

Let aeroplanes circle moaning overhead 

Scribbling on the sky the message He Is Dead, 

Put crepe bows round the white necks of the public doves, 

Let the traffic policemen wear black cotton gloves. 

 

He was my North, my South, my East and West, 

My working week and my Sunday rest, 

My noon, my midnight, my talk, my song; 

I thought that love would last for ever: I was wrong. 

 

The stars are not wanted now: put out every one; 

Pack up the moon and dismantle the sun; 

Pour away the ocean and sweep up the wood; 

For nothing now can ever come to any good. 


 

Bronne:

 

S.F. Witstein in Funeraire poëzie in de Nederlandse renaissance: enkele funeraire gedichten van Heinsius, Hooft, Huygens en Vondel (Utrecht, 1969) ondersoek die retoriese strategieë in die lykdig.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, October 24, 2022

Resensie | Anton Prinsloo e.a. – Spreekwoorde en ander segswyses | Pharos, 2022

Anton Prinsloo, Leon de Stadler en Amanda de Stadler – Spreekwoorde en ander segswyses. Pharos, 2020. ISBN: 9781868902194  

Resensent: Joan Hambidge

 

Om taal- of woordeboeke saam te stel, is uiters belangrike werk. Die boek word bemark as gesaghebbend, gerekend en betroubaar. Hiermee moet ‘n mens volledig akkoord gaan.

 

Hierdie naslaanbron van wyle Anton Prinsloo en die egpaar De Stadler is ‘n absolute moet vir elke skrywer, taalpraktisyn en onderwyser. 

 

En taal verander en pas aan. So vertel my buurvrou my dat die Afrikaanse ekwivalent van Not my monkey, not my circus is glo Nie my hol nie, nie my drol nie. Ons wil nie nou ongegeneerd of ongelik wees nie, maar onse taal sit vol van die ongeskikte en vuige uitdrukkings (313).

 

Ongelik letterlik ongelek. ‘n Beer wat nie deur sy ma glad gelek is nie.

 

Of soos die Boere-spreekwoord lui: dis soos ‘n poep in ‘n hysbak. Jy kan nie ontsnap uit die situasie nie. En ons idiome is dikwels op die man af. Soos jou staldeur staan oop (raai!).

 

Hierdie leser lees en bestudeer woordeboeke en grammatika-boeke. Een van Afrikaans se belangrikste digters Boerneef, was ‘n woordeboekman. Ons ken sy werk in die Tweetalige Woordeboek en sy skitterverse in Vlettervlie en Koesnaatjie en Op my Flottina. Wyle Annette Snyman die digter van Klein rondreis (1981) het taalkundige kwessies doseer aan die hand van Boerneef-gedigte in 1975 in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy was die eggenote van die semantikus, wyle Henning Snyman wat op sy beurt implikasie in ‘n gedig kon rááklees.

 

Hierdie resensie wil nie onderhands wees nie, maar eerder onderstreep hoe belangrik hierdie Pharos-publikasie is. Dikwels word woorde verduidelik aan die hand van Nederlands of selfs fabels. Oorlams (skelm) word herlei na Van Riebeeck se dagboek (323). So alvorens ek ‘n oorkonkel kry oor hierdie woord wat tans as kwetsend of rassisties beskou word, gaan lees gerus presies waar dit sy oorsprong had: iemand wat lank terug na die Ooste gegaan het en dus baie ervaring opgedoen het …

 

Ouwywepraatjies (330) is vandag neerhalend vanuit ‘n genderposisie. Maar hokaai: ons kan nie die taal met Jik skoonmaak nie. Sekere woorde is deel van ons geskiedenis, soos in die haaneier trap. (Jammer manne). En natuurlik bly die vraag altyd: het die sogenaamde cancel culture ons dalk so oorsensitief gemaak dat ‘n mens dikwels bang is om ‘n ou Afrikaanse gedig te behandel, omdat iemand ge-trieger kan word?

 

Moet my asseblief nie katkiseer nie, maar taal beweeg, transformeer, verander en dis wat hierdie boek presies uitwys. En ‘n mens kan helaas nie die oseaan in ‘n visbak sit nie. Of die oseaan leegdrink nie. Die knoop sit aljimmers aan die einde van die riem. So vergewe dat my assosiasies jou, liewe leser, dwing om in my kielsog te vaar.

 

Alle grappies op ‘n stokkie.

 

Sekere woorde is sosiaal of lekties gekodeer. Ander is aan alle sprekers bekend. Opwindend om te ontdek hoeveel woorde se oorspronge jy nie mee bekend is nie. Soos: kier. Op ‘n kier is effens oop. (‘n Kier is die smal opening tussen ‘n deur wat nie heeltemal toe is nie, en die kosyn.) 

 

En opnuut die verskil tussen braaf en dapper. En terloops, ‘n mens praat nie van tou in die huis van die gehangde nie.

 

Die handige indeks help enorm in die soektog na die Engelse ekwivalente of verklarings. En die Bybelverwysings onderstreep hoeveel van onse spreekwoorde ontleen is aan die Bybel.

 

Daar is 10 765 idiome en uitdrukkings met 1400 nuwes bygewerk. Wat ‘n enorme prestasie.


Dit wil gedoen wees. ‘n Voetval vir hierdie samestellers. En aanvaar my lofrede voetstoots.


En veral is hierdie boek vir al die windorrels in Afrikaans wat stunning en amazing gebruik, terwyl daar heerlike woorde in Afrikaans bestaan. En nou: mag woorde heerlik wees? A, moet dit smaak of proe?


Hiep-hiep hoera.

 

Gedig | Joan Hambidge - Verjaarsdagvers vir Antjie

Vir Antjie Krog 

Met beurtkrag ‘n verjaarsdagvers vir jou:

 

die wasmasjien dreun in die agtergrond 

soos ‘n trekker in die Vrystaat

deurmekaar geslinger; 

die koffiemasjien klik weer 

aan, onverwags, lesend (ek) aan 

“land van genade en verdriet”.

 

Siklies jou verse wat alles 

van vrouwees, nee menswees karteer.

Jy skryf omdat jy woedend is glo;

tog lees ek jou verse as oop en teer:

aards en sonder fieterjasies, soos jy.

 

Op ‘n keer skryn ‘n pleister om jou vinger

nadat ‘n mes vlym met ‘n beesslagting 

op julle familieplaas genaamd Middenspruit.

Op ‘n ander keer gee jy suurlemoene

uit jou tuin aan vir my en ‘n doring

laat bloed onverpoosd spruit.

 

Hou jou wapens blink, leer jy ons.

Nes jou “classy” heldin Eybers,

ont-grens jy alles in jou unieke stem 

oor die intieme aard van die digkuns …

Jou grootste liefdesverhouding bly

met die poësie: maklik, moeiteloos, makelloos, 

matig, minsaam vermy die dogter van Jefta.

 

“Mens funksioneer net wanneer jy dig”.

Die ongehoorde soort word hoorbaar

verklank in jou eiesoortige, dwingende,

verslawende verse: van begin tot einde jý.

Mannin en Lady Anne; sommer net Anna Krog,

‘n digter sonder enige voorgee of bedrog.  

 

Monday, October 10, 2022

Resensie | Saskia de Coster – Nagouers (vertaal deur Wium van Zyl) | Naledi, 2022

Saskia de Coster – Nagouers (vertaal deur Wium van Zyl). Naledi, 2022. ISBN 9781776172344, Sagteband, 392pp

Resensent: Joan Hambidge

 

Nagouers is ‘n roman van die Vlaamse skrywer Saskia de Coster, vertaal deur die Afrikaanse literator en skrywer Wium van Zyl. Hierdie vlot geskrewe roman belig die verhaal Saskia en Juli se nie-biologiese ouerskap.


Al die spanninge en genderpolitiek van so ‘n stap word in hierdie roman ondersoek. Juli wil self die kind dra en so word Karl, ‘n gay-Kanadese vriend, deel van die kontrak. In my kenniskring het hierdie leser al die onsekerhede en woelinge rondom só ‘n besluit beleef.


Dikwels wanneer ‘n persoon as surrogaat of skenker optree, tree daar ‘n ander dinamiek na vore met die kind se geboorte: besitlikheid, jaloesie en familieprobleme. Ook ambivalensie.


Karl se moeder is die spreekwoordelike stok in die wiel en tydens ‘n besoek aan haar op die eiland Portes (aan die Kanadese Weskus), word al die spanninge tussen die moderne wêreld en ‘n verstokte hippie-gemeenskap uitgewerk. Daar is ook Indiane. ‘n Teksboekvoorbeeld vir Claude Lévi-Strauss en antropoloë. Die Klahoose word hier ingewerk wat verdere dinamiek in die teks wakkermaak.


Dit is ‘n juweel van ‘n roman wat handel oor ‘n uiters komplekse genderkwessie, maar dit is ironies-sardonies geskryf met verwysings na sprokies (soos Repelsteeltjie) en argetipes. Trygve- teenoor die Loch Ness-monster. Antwerpen teenoor Kanada. Normaal teenoor “aweregs”.


Die humoristiese aanslag is lieflik. Met onder andere ‘n verwysing na Jack Nicholson se skryfwaansin in The Shining, die film van Kubrick (1980), gebaseer op Stephen King se roman van 1977. ‘n Belangrike verwysing wat isolasie en gemoedsversteuringe na vore bring. En raai hoekom is die seuntjie se naam Saul.


Daar word gespot met verskeie clichés soos die “innerlike kind” en hoe families funksioneer, word eweneens onder die loep geneem. Ekshibsionisme is maar alte dikwels die gay-persoon se verweer teen vermindering, aldus Roland Barthes. DA Miller wys dit uit in Bringing Out Roland Barthes (University of California Press, 1993).


Die kwessie van randeiertjies (199) en ouers wat kommentaar lewer op ‘n kind wat so is, soos die Nederlanders gay-mense noem, word goed ontgin.


Skielik verander die aanslag in iets grimmigs met die ontdekking van Karl se verlede. Onthutsing by die verteller. Was sy om die bos gelei deur haar “friend crush” of is dit die gemeenskap wat veroordelend en afwysend is?


Notaboek teenoor ek/sy; dialoog asof in ‘n drama; In die bed teenoor buite gee ‘n kaleidoskopiese vertelperspektief op ‘n besoek aan die eiland met ‘n wete dat die onderbewuste klewerig is (93).


Die roman sit vol pragtige prosa en daar word besin oor die verskil tussen met die hand skryf en op ‘n rekenaar. ‘n Mens dink immers langer wanneer jy iets in ‘n notaboek opskryf.


Hiedie leser was werklik spyt toe die roman klaargelees is. Dit is veerlig geskryf, maar onder draai die primordiale duiwels rond.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld) 

Sunday, September 25, 2022

Rubriek | Pryse en pryse | 2022


Daar is alweer pryse en kortlyste binne die Afrikaanse letterkunde. Bekroningstyd en ‘n mens wonder oor weglatings: soos waarom was Willem Anker se Skepsel nie op die kortlys vir die Hertzogprys nie en wáár is Ingrid Winterbach vir die Kyknet-Rapport-kortlys?

Hierdie leser was al op beoordelingskomitees; hierdie skrywer was al aan die ontvangkant van bekronings en nie-bekronings.

 

Deur die jare het die volgende waarhede na vore gekom. ‘n Prys is gelyk aan ‘n komitee met ‘n kollektief soos die modes van die dag, die smaak of voorkeure van ‘n komitee, die onderliggende politieke of sosiale eise van die dag en die impak wat ‘n boek het op ‘n leesgemeenskap.

 

Sonder om enige komitee of skrywer te na te kom: ‘n blitsverkoper soos Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie het pryse ingepalm. Tereg. Want dit was die spreekwoordelike geur-van-die-maand. Dit was die regte boek vir die regte oomblik …

 

Ons onthou algar hoe woedend Salman Rushdie was toe J.M. Coetzee se Disgrace die Booker gewen het bó The ground beneath her feet. Coetzee se roman het iets van ‘n komplekse wêreld vertolk en vandag wannneer ons terugkyk, weet ons: die beoordelaars was reg.

 

Moes Rushdie die bekroningsaal verlaat het? Moes hy die deur toegebliksem het? 

 

Dit was sy besluit.

 

Uiteraard belê ‘n skrywer baie tyd, emosionele energie en navorsing in ‘n boek en voel waarskynlik in die wiek geskiet as die prys verbygaan. ‘n Prys is egter ‘n bonus. Dit kom niemand toe nie.

 

En as ‘n skrywer by die oorhandiging van die prys ‘n komitee wil kritiseer, mag dit.

 

Jare terug is John Miles se Kroniek uit die doofpot bekroon bó Anna M. Louw.

 

Dit was die M-Net-aand in die spoggerige Bay-hotel in Kampsbaai. 1992.

 

Hierdie skrywende leser was op die paneel en tereg is Miles weens die Zeitgeist bekroon. Ook met die CNA- en die Helgaard Steyn-pryse. ‘n Boek wat gebaseer is op die werklikheid en soos Disgrace op ‘n sober wyse die reis van Tumelo John Moleko vertel, ‘n polisieman. Wanneer hy aangerand word en ‘n klag indien teen ‘n senior wit kollega, verander sy lewe dramaties.

 

Die verlies aan sy pos en soeke na ‘n regverdige oplossing, kom hom duur te staan.

 

Die leser weet waarop alles gaan afstuur. Die oud-Suid-Afrika waar mense stilgemaak is. Die roman is vertaal in Nederlands, Engels, Frans, Hongaars en Duits.

 

Die roman van Louw toe was Wolftyd.

 

Die skrywer van die briljante Kroniek van perdepoort (1975).

 

Dit val nie betwyfel dat Wolftyd uitstekend geskryf is nie, maar in die tydsgees en die kwessie van ‘n liefdelose huwelik en ‘n man wat in Duitsland grootgeword het, was nie waarna die komitee op soek was indertyd nie.

 

Hierna skryf sy Vos (1999), ‘n pakkende vertelling wat handel oor primordialiteit en ‘n onderhandeling tussen Vos en Hans Bokpoot, die reënmaker, wat dan op die voorwaardes van die “bose” net vir sy plaas reën bring in die dorre Noordweste van 1932. 

 

‘n Voorkennis van Eugène N. Marais se Dwaalstories en “Die dans van die reën”. Met poltergeeste en ‘n verwysing na Faust.

 

Dominee Kossies gryp in om die bose magte stil te kry wat hul wreek op Vos. Die volledige resensie: Woorde Wat Weeg | Anna M. Louw - Vos (1999) | 2013. Besoek 21 Augustus 2022.

 

Wyle Henning Snyman het tereg Vos en Wonderboom van Lien Botha in tandem gelees: LitNet Akademies-resensie-essay/ Wonderboom deur Lien Botha - LitNet. Besoek 21 Augustus 2022.

 

Louw was ontstig oor daardie bekroningsaand, maar sy het aanhou skryf en weer gepubliseer.

 

Iewers is bekronings soos oorstromings. Verwoestend vir die skrywer wat oorgesien word (tydelik), maar sit maar weer die skryfdakke op. 

 

En moenie probeer bepaal wie is teen of vir jou en of hierdie een eties was om op twee stoele te sit, al dan nie.

 

Jy mors kosbare skryftyd.

 

En gaan lees Marni Bonthuys en Ronel Foster se insiggewende artikel oor pryse en kanonisering op Litnet: Literêre pryse/ ’n Oorsigtelike bespreking met voorbeelde uit die Afrikaanse literêre veld - LitNet. Besoek 21 Augustus 2022.

 

Pryse kanoniseer en het sekerlik simboliese kapitaal, maar onthou Van Melle se Bart Nel (1936) wat oorgesien is. En ons ag almal dit vandag as ‘n klassieke roman bó sy tydgenote en bekroondes.

 

Van Bruggen en Malherbe, onder andere.

 

Party skrywers is voortydig stilgemaak deur pryse en Samuel Beckett was onrustig hieroor toe hy die Nobelprys ontvang het. J-P Sartre het dit van die hand gewys, omdat hy gevoel het dit sou die impak van sy werk verminder.

 

En as en wanneer jy wen: dis ‘n gelukskoot; take the money and run.

 

© Joan Hambidge

 

Tuesday, September 13, 2022

Resensie | Pieter Stoffberg – Tenk | Penguin, 2022

Pieter Stoffberg – Tenk. Penguin, 2022. ISBN 978 1 4859 0488 5 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Dit het vele films en boeke geneem om die impak van die Viëtnam-oorlog weer te gee. Van daardie wond sal die VSA waarskynlik nooit herstel nie. 

 

The Deer Hunter (1978 van Michael Cimino), Apocalypse Now (1979 van Francis Ford Coppola), Platoon (1986 van Oliver Stone), Hamburger Hill (1987 van John Irvin), Born on the Fourth of July (1989 van Oliver Stone)…

Op ‘n reis deur Viëtnam staan die vliegtuie nog as bakens. Om die oorlog te gedenk? Wanneer jy die landskap besoek, weet jy waarom die Yanks verloor het in hierdie meedoënlose landskap (Woorde Wat Weeg / Viëtnam – ‘n digterlike reisverslag. Besoek 12 September 2022).

 

Ook hier te lande skryf roman- en kortverhaalskrywers al vir jare oor die impak van die grens- en Angola-oorloë. 

 

Koos Prinsloo, Victor Munnik, Etienne van Heerden, Alexander Strachan (‘n Wêreld sonder grense), om enkele name uit te sonder, het hierdie sinnelose oorlog beskryf.

 

Tenk van Pieter Stoffberg is ‘n roman wat die Angola-oorlog onder die oog neem. Dis ‘n roman wat ‘n mens meesleur. Daar is verskillende verhale wat saamgevleg word. ‘n Jong man wat sy vriend se motor leen om sy swanger meisie te besoek en die troue moet afstel weens die oorlog.

 

Vrese en verlangens huis toe. Emosies afgewissel met keiharde beskrywings van wat gebeur wanneer ‘n tenk ontplof. Hierom word tande ge-X-traal, want dit is as’t ware al wat oorbly ná die ontploffing. Die gedwonge oorlog het jong mans se lewens ontwrig. 

 

Die politieke en sosiale letsels is nog steeds waarneembaar.

 

So word die boek bemark:

1987. ’n Konvooi vegvoertuie is op pad na Angola om oorlog te maak. Vir die eerste keer is Suid-Afrikaanse tenks deel van die opmars om die Rooi Gevaar te stuit.

Kommandant Leon Marais dra nie net die las as bevelvoerder nie, maar bots ook met sy direkte hoof. Boonop word die indruk geskep dat hy nie by die reëls hou nie wanneer dit kom by krygsgevangenes.

 

Tenkbemanningslid Abrie Ahlers worstel met sy eie probleme. Sal hy sy belofte kan nakom om betyds terug te wees die om met sy sewentienjarige swanger meisie te trou? Sal hy enigsins terugkom? En hoekom lieg hy oor die dood van sy pa?

 

Die insypelaar, majoor Cassie van der Merwe, moet in gevaarlike omstandighede te voet op die vyand spioeneer, en Pietie de Villiers, die jong dokter sonder enige weermagopleiding, word getaak om ’n mediese pos in ’n vyandelike gebied te beman.

 

Sersant Pierre Wessels praat ’n beangste dienspligte moed in en dra ’n gewonde 32-makker na veiligheid onder swaar bombardement. Motorwerktuigkundige Lappies Labuschagne moet al sy vernuf as soldaat inspan om met ’n mankolieke Ratel ’n gedugte Russiese tenk aan te vat.

 

Dit is van die grootste veldslae met Suid-Afrikaanse tenks in Angola. Daar is soldate wat sterf en vermink word. Ander breek onder die spanning. Almal keer terug met wonde in hul gemoed.

 

Dit is Operasie Modulêr. Dit het alles gebeur.

Die roman is uiteraard gebaseer op die werklikheid, maar werk romanmatig soos Norman Mailer se bekende The Naked and the Dead (1948). By Mailer vind alles plaas op die fiktiewe eiland Anopopei (South Pacific), maar die leser lees die werklike oorlog in.

 

 

II

 

Een van die grootste oorlogfilms, wat fokus op die wonde van die oorlog, is uiteraard Born on the Fourth of July.  Ron se beserings in die oorlog lei tot ‘n lewe in ‘n rolstoel. Die persoonlike ellende (‘n aanval op inwoners wat per ongeluk as die vyand gesien word), word met die politieke dimensie gesinchroniseer: JFK (in Ron se jeug), later Nixon se toespraak teenoor Ron wat ‘n boodskap lewer oor die gevare van oorlog. Alles puik vertolk deur Tom Cruise en gebaseer op die lewe van Ron Kovic wie se outobiografie die basis vorm van hierdie rolprent.

 

Die werklike outeur Stoffberg verwys ook na films in sy teks (165).

 

In hierdie film is die werklikheid die uitgangspunt. In Tenk erken die skrywer in sy nawoord dat hy met verskillende mense onderhoude gevoer het. Ons word ook voorsien van ‘n literatuurlys. Met ‘n handige Woordelys agterin, enige taalkundige se droom.

 

Op die promosiebiljet word die werklike tenk beskryf en dat Majoor Dana Swanepoel van die Pantsermuseum in Bloemfontein die drie vooraansigfoto’s geneem het.

 

Tenk is ‘n vernuftige vervlegging van fiksie en feit. Die troostelose Angolese oorlog met Magnus Malan se erkenning op 11 November 1987 dat ons oorlog maak. Toe woonagtig in die Noorde van die land onthou hierdie leser hoe ‘n vader, ‘n prokureur in die dorp, sy jong seun begrawe het in ‘n uniform.

 

Private ellendes word afgewissel met die politieke en sosiale werklikhede van oorlog: jong mans wat teen hul sin of wil opgekommandeer word; vlieë; malaria; rusies; diarree; boeliebief as stapelvoedsel; verlange huis toe; ‘n kapelaan wat probeer raad gee; pynlike gesinsellendes wat in die tyd van konflik uitborrel.

 

Die Hubo- en Vimpulorivier. ‘n Jong soldaat, oormoeg, word per ongeluk deur sy eie manskappe doodgery, die voorste kanontrekker (188).

 

Daar is helder beskrywings soos dat die lawaai, die stank van diesel, kordiet en sweet; so surrealisties is soos ‘n Salvador Dali-skildery (180).

 

Die geweldige spanning van die oorlog word beskryf in ‘n toilettoneel, terwyl die mortiere om die soldate se koppe verbyvlieg (174).

 

Die militêre aspekte word met absolute presisie beskryf – kyk onder andere na bladsye 51, 66, 121 en 142. En tande wat ge-x-ray word sodat jy nadoods uitgeken kan word (23).

 

Hierteenoor ‘n liefdesbrief op bladsy 108 wat aan die hart ruk.

 

Jonas Savimbi. Katima Mulilo. 

 

Die inhoudsopgawe verskaf ‘n lys van prominente karakters en hiermee weet die leser dan die vertellende instansie ‘n ouktoriale verteller is soos die regisseur van ‘n komplekse film.

 

Dit is ‘n puik, afgeronde roman wat hierdie leser stadig en met etlike kanttekeninge gelees het.

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

 

Sunday, September 11, 2022

Bekendstelling | Joan Hambidge – Sanctum | 3 September 2022


My hande
 

My hande word by nabaat

al hoe duideliker omlyn

soos my moeder s’n.

Skerp are, slanke vingers

met artritisknobbels.

 

Hoe verlang ek nie nou na haar

hande, koesterend en troostend,

wat ’n hoofpyn soos ’n kreukel

kon uitstryk of ’n onrustigheid

van die hart kon wegmasseer nie.

 

Die delta-are op my hande

gloei soos hare met daardie laaste

 

handgee met my hart toe op breekpunt:

sy, in ’n lykskleed sonder kreukel of vou.

 

(Konfessies, kaart en konterfeitsels, 2021).

 

 

I

 

Onder die bekwame leiding van die digter en uitgewer Fourie Botha is Sanctum Saterdagoggend bekend gestel by Oude Leeskamer op Stellenbosch naby die Moederkerk en oorkant die Engele Fabriek.

 

22 besoekers, waaronder Ingrid Winterbach, S. J. Naudé, Willem Anker, Alfred Schaffer was daar. My bure aan wie die boek opgedra is en hul kind. Wilhelm Jordaan en professor Andries Visagie het ook  bygewoon. Soos dr Ronel Retief en professor Amanda Gouws. Die digter en uitgewer Michèle Betty en die digter Sally-Ann Murray was ook toehoorders. En die literator Adèle Nel. En Marida Swanepoel indertyd van Kyknet … e.a.

 

Die hand op die voorblad verwys na Henk Serfontein se installasie van vrouedigters se hande in 2018 (Henk Serfontein se nuwe solo-uitstalling, Handskrif: 'n onderhoud | Litnet. Besoek 5 September 2022).

 

Hande fassineer my en ek het geweldig baie boeke bestudeer oor palms en hoe jou palm se lyne verklap wie jy is. In ‘n gedig “Pyn het glo geen vervaldatum” verwys ek dan ook na Job 37: 7:

 

“Die hand van elke mens verseël Hy, sodat alle mense sy handewerk kan leer ken.”

 

Hierdie handleiding (tweedehands, sic!) gekoop op Harvard Square.

 

Hande, vuishoue, die hand van God (Diego Maradona) en die illusie dat die gedig spontaan en dus uit die hand gebeur, word hier ondersoek.

 

 

II

 

Die bekende teoretikus, Frank Lentricchia se opmerking dat sy moeder wat in ‘n fabriek moes werk, sy siening van die letterkunde beïnvloed het. Van die “well-wrought urn” tot ‘n dialektiese proses.

 

Sy had groot manshande en sy het haar afgesloof sodat hy universiteit toe kon gaan.

 

“You must go to university no matter what … Look at these hands: they’re a man’s hands.”

 

Sy ouers was tweede-generasie Italianers uit die Suide waar mense deur die sisteem uitgebuit is. In die VSA werk sy moeder vir General Electric.

 

En hierom, beweer Frank Lentricchia, kan hy nie Wallace Stevens lees soos Kenneth Burke of Harold Bloom of Derrida nie. Hy kan nooit sy werkersklasagtergrond verraai nie.

 

Hy skryf dan ook oor die ellips as die sogenaamde “poetry of silence”.

 

Dit is alles te lese in die onderhoud met Imre Salusinszky se Criticism in Society (Methuen, 1987: 203). 

 

Huitain

 

Ek ruik vanoggend weer harpuis –

jou goedgemikte uitklophou

toe ek papier tref ná jou vuis;

met twee dekades se onthou.

 

Jy’t my in die hoek neergesit;

liefdesmart word toe skryfgevit:

lees jý by nabaat met berou?

Digters dig nie meer uit die vuis.

 

 

III

 

Die bundel het tydens die eerste inperking onstaan toe my reis na die buiteland gefnuik is. Fourie het hierop gefokus en die reis na die buiteland het toe ‘n binnereis geword.

 

“Die groot Tempel, die aktiewe Woord” uit Tristia het die rigtingwyser geword met erkenning ook aan Opperman, Eybers, Boerneef, Olga Kirsch – en verder terug in die tyd: Leipoldt en I.D. du Plessis.

 

In hierdie bundel word nuwe vorme ondersoek soos die Stichos, Redondila, Kautata, en dies meer.

 

Temas is dieselfde: familieskap (veral die verhouding met die ouers), die familieskap van die digkuns, lykdigte, die liefde, die dood (hierom ‘n handvol lykdigte oor figure wat onlangs vertrek het) en ekfrastiese verse (Velázquez). En vertalings van Sylvia Plath en Kavafy.

 

Dit was dan Fourie Botha wat sy hand netjies oor alles gehou het en ten slotte was Alfred Schaffer se vraag insigryk: waarom bly jy dig? Waarom nie opgehou by bundel drie of vier nie?

 

Waarskynlik omdat die uwe met elke bundel nuwe tegnieke ontdek en dieselfde kwessies vanuit ‘n ander hoek beskou? Omdat ek by Henning Snyman en Ina Gräbe veel bly leer oor hoe jy digterlike taal moet benader. Soos by Cuddon in sy woordeboek van literêre terme en teorie.

 

Ek was bevoorreg om klas te kry by die taalkundige en digter Annette Snyman wat vir ons as jong studente in Afrikaans en Nederlands (circa 1976) Boerneef oopgemaak het. Digter van die bundel Klein rondreis wat in 1981 verskyn het, eggenoot van Henning Snyman.

 

Op die dag wat ek ‘n brief ontvang het van haar in St. Petersburg-sonder-sneeu, was haar dood in die pers aangemeld. My eerste pos in die literatuurwetenskap en Annette wat my sterkte toewens.

 

Dalk om meer te wete te kom van die metaforiese transaksie van die digkuns of die “beproefde patologie van die poësie” soos Eybers dit tipeer?

 

Nou skryf ek aan Asindeton.

 

En goddank het die uwe al die biljette oor tempels en kerke en katedrale uit vreemde lande bewaar.

 

 

IV 

 

Opruiming 20

 

Soos Auden leer

ontstaan ‘n gedig

op ‘n óntoepaslike tyd

geen spesiale uur

vir dié stil bedryf.

 

Terwyl die potlood

draal oor papier

soos beelde stadig,

onseker ingebreek word:

 

twee nessies bou ‘n vink

een leeg, een beset

sketter ‘n boodskap

oor ‘n inbraak

 

onder in die gebou

terwyl sirenes loei,

vlieg die vinke weg

in Frank Lentricchia se

a poetry of silence.

 

Ellipties hierdie naakte

konfrontasie, ‘n anagogie?

Kermode of onse Frank,

weet dit is ‘n anti-tese:

een leeg, een beset …

 

 


© Joan Hambidge