Sunday, September 25, 2022

Rubriek | Pryse en pryse | 2022


Daar is alweer pryse en kortlyste binne die Afrikaanse letterkunde. Bekroningstyd en ‘n mens wonder oor weglatings: soos waarom was Willem Anker se Skepsel nie op die kortlys vir die Hertzogprys nie en wáár is Ingrid Winterbach vir die Kyknet-Rapport-kortlys?

Hierdie leser was al op beoordelingskomitees; hierdie skrywer was al aan die ontvangkant van bekronings en nie-bekronings.

 

Deur die jare het die volgende waarhede na vore gekom. ‘n Prys is gelyk aan ‘n komitee met ‘n kollektief soos die modes van die dag, die smaak of voorkeure van ‘n komitee, die onderliggende politieke of sosiale eise van die dag en die impak wat ‘n boek het op ‘n leesgemeenskap.

 

Sonder om enige komitee of skrywer te na te kom: ‘n blitsverkoper soos Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie het pryse ingepalm. Tereg. Want dit was die spreekwoordelike geur-van-die-maand. Dit was die regte boek vir die regte oomblik …

 

Ons onthou algar hoe woedend Salman Rushdie was toe J.M. Coetzee se Disgrace die Booker gewen het bó The ground beneath her feet. Coetzee se roman het iets van ‘n komplekse wêreld vertolk en vandag wannneer ons terugkyk, weet ons: die beoordelaars was reg.

 

Moes Rushdie die bekroningsaal verlaat het? Moes hy die deur toegebliksem het? 

 

Dit was sy besluit.

 

Uiteraard belê ‘n skrywer baie tyd, emosionele energie en navorsing in ‘n boek en voel waarskynlik in die wiek geskiet as die prys verbygaan. ‘n Prys is egter ‘n bonus. Dit kom niemand toe nie.

 

En as ‘n skrywer by die oorhandiging van die prys ‘n komitee wil kritiseer, mag dit.

 

Jare terug is John Miles se Kroniek uit die doofpot bekroon bó Anna M. Louw.

 

Dit was die M-Net-aand in die spoggerige Bay-hotel in Kampsbaai. 1992.

 

Hierdie skrywende leser was op die paneel en tereg is Miles weens die Zeitgeist bekroon. Ook met die CNA- en die Helgaard Steyn-pryse. ‘n Boek wat gebaseer is op die werklikheid en soos Disgrace op ‘n sober wyse die reis van Tumelo John Moleko vertel, ‘n polisieman. Wanneer hy aangerand word en ‘n klag indien teen ‘n senior wit kollega, verander sy lewe dramaties.

 

Die verlies aan sy pos en soeke na ‘n regverdige oplossing, kom hom duur te staan.

 

Die leser weet waarop alles gaan afstuur. Die oud-Suid-Afrika waar mense stilgemaak is. Die roman is vertaal in Nederlands, Engels, Frans, Hongaars en Duits.

 

Die roman van Louw toe was Wolftyd.

 

Die skrywer van die briljante Kroniek van perdepoort (1975).

 

Dit val nie betwyfel dat Wolftyd uitstekend geskryf is nie, maar in die tydsgees en die kwessie van ‘n liefdelose huwelik en ‘n man wat in Duitsland grootgeword het, was nie waarna die komitee op soek was indertyd nie.

 

Hierna skryf sy Vos (1999), ‘n pakkende vertelling wat handel oor primordialiteit en ‘n onderhandeling tussen Vos en Hans Bokpoot, die reënmaker, wat dan op die voorwaardes van die “bose” net vir sy plaas reën bring in die dorre Noordweste van 1932. 

 

‘n Voorkennis van Eugène N. Marais se Dwaalstories en “Die dans van die reën”. Met poltergeeste en ‘n verwysing na Faust.

 

Dominee Kossies gryp in om die bose magte stil te kry wat hul wreek op Vos. Die volledige resensie: Woorde Wat Weeg | Anna M. Louw - Vos (1999) | 2013. Besoek 21 Augustus 2022.

 

Wyle Henning Snyman het tereg Vos en Wonderboom van Lien Botha in tandem gelees: LitNet Akademies-resensie-essay/ Wonderboom deur Lien Botha - LitNetBesoek 21 Augustus 2022.

 

Louw was ontstig oor daardie bekroningsaand, maar sy het aanhou skryf en weer gepubliseer.

 

Iewers is bekronings soos oorstromings. Verwoestend vir die skrywer wat oorgesien word (tydelik), maar sit maar weer die skryfdakke op. 

 

En moenie probeer bepaal wie is teen of vir jou en of hierdie een eties was om op twee stoele te sit, al dan nie.

 

Jy mors kosbare skryftyd.

 

En gaan lees Marni Bonthuys en Ronel Foster se insiggewende artikel oor pryse en kanonisering op Litnet: Literêre pryse/ ’n Oorsigtelike bespreking met voorbeelde uit die Afrikaanse literêre veld - LitNet. Besoek 21 Augustus 2022.

 

Pryse kanoniseer en het sekerlik simboliese kapitaal, maar onthou Van Melle se Bart Nel (1936) wat oorgesien is. En ons ag almal dit vandag as ‘n klassieke roman bó sy tydgenote en bekroondes.

 

Van Bruggen en Malherbe, onder andere.

 

Party skrywers is voortydig stilgemaak deur pryse en Samuel Beckett was onrustig hieroor toe hy die Nobelprys ontvang het. J-P Sartre het dit van die hand gewys, omdat hy gevoel het dit sou die impak van sy werk verminder.

 

En as en wanneer jy wen: dis ‘n gelukskoot; take the money and run.

 

© Joan Hambidge