Vir Antjie Krog
Met beurtkrag ‘n verjaarsdagvers vir jou:
die wasmasjien dreun in die agtergrond
soos ‘n trekker in die Vrystaat
deurmekaar geslinger;
die koffiemasjien klik weer
aan, onverwags, lesend (ek) aan
“land van genade en verdriet”.
Siklies jou verse wat alles
van vrouwees, nee menswees karteer.
Jy skryf omdat jy woedend is glo;
tog lees ek jou verse as oop en teer:
aards en sonder fieterjasies, soos jy.
Op ‘n keer skryn ‘n pleister om jou vinger
nadat ‘n mes vlym met ‘n beesslagting
op julle familieplaas genaamd Middenspruit.
Op ‘n ander keer gee jy suurlemoene
uit jou tuin aan vir my en ‘n doring
laat bloed onverpoosd spruit.
Hou jou wapens blink, leer jy ons.
Nes jou “classy” heldin Eybers,
ont-grens jy alles in jou unieke stem
oor die intieme aard van die digkuns …
Jou grootste liefdesverhouding bly
met die poësie: maklik, moeiteloos, makelloos,
matig, minsaam vermy die dogter van Jefta.
“Mens funksioneer net wanneer jy dig”.
Die ongehoorde soort word hoorbaar
verklank in jou eiesoortige, dwingende,
verslawende verse: van begin tot einde jý.
Mannin en Lady Anne; sommer net Anna Krog,
‘n digter sonder enige voorgee of bedrog.