Anton Prinsloo, Leon de Stadler en Amanda de Stadler – Spreekwoorde en ander segswyses. Pharos, 2020. ISBN: 9781868902194
Resensent: Joan Hambidge
Om taal- of woordeboeke saam te stel, is uiters belangrike werk. Die boek word bemark as gesaghebbend, gerekend en betroubaar. Hiermee moet ‘n mens volledig akkoord gaan.
Hierdie naslaanbron van wyle Anton Prinsloo en die egpaar De Stadler is ‘n absolute moet vir elke skrywer, taalpraktisyn en onderwyser.
En taal verander en pas aan. So vertel my buurvrou my dat die Afrikaanse ekwivalent van Not my monkey, not my circus is glo Nie my hol nie, nie my drol nie. Ons wil nie nou ongegeneerd of ongelik wees nie, maar onse taal sit vol van die ongeskikte en vuige uitdrukkings (313).
Ongelik letterlik ongelek. ‘n Beer wat nie deur sy ma glad gelek is nie.
Of soos die Boere-spreekwoord lui: dis soos ‘n poep in ‘n hysbak. Jy kan nie ontsnap uit die situasie nie. En ons idiome is dikwels op die man af. Soos jou staldeur staan oop (raai!).
Hierdie leser lees en bestudeer woordeboeke en grammatika-boeke. Een van Afrikaans se belangrikste digters Boerneef, was ‘n woordeboekman. Ons ken sy werk in die Tweetalige Woordeboek en sy skitterverse in Vlettervlie en Koesnaatjie en Op my Flottina. Wyle Annette Snyman die digter van Klein rondreis (1981) het taalkundige kwessies doseer aan die hand van Boerneef-gedigte in 1975 in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy was die eggenote van die semantikus, wyle Henning Snyman wat op sy beurt implikasie in ‘n gedig kon rááklees.
Hierdie resensie wil nie onderhands wees nie, maar eerder onderstreep hoe belangrik hierdie Pharos-publikasie is. Dikwels word woorde verduidelik aan die hand van Nederlands of selfs fabels. Oorlams (skelm) word herlei na Van Riebeeck se dagboek (323). So alvorens ek ‘n oorkonkel kry oor hierdie woord wat tans as kwetsend of rassisties beskou word, gaan lees gerus presies waar dit sy oorsprong had: iemand wat lank terug na die Ooste gegaan het en dus baie ervaring opgedoen het …
Ouwywepraatjies (330) is vandag neerhalend vanuit ‘n genderposisie. Maar hokaai: ons kan nie die taal met Jik skoonmaak nie. Sekere woorde is deel van ons geskiedenis, soos in die haaneier trap. (Jammer manne). En natuurlik bly die vraag altyd: het die sogenaamde cancel culture ons dalk so oorsensitief gemaak dat ‘n mens dikwels bang is om ‘n ou Afrikaanse gedig te behandel, omdat iemand ge-trieger kan word?
Moet my asseblief nie katkiseer nie, maar taal beweeg, transformeer, verander en dis wat hierdie boek presies uitwys. En ‘n mens kan helaas nie die oseaan in ‘n visbak sit nie. Of die oseaan leegdrink nie. Die knoop sit aljimmers aan die einde van die riem. So vergewe dat my assosiasies jou, liewe leser, dwing om in my kielsog te vaar.
Alle grappies op ‘n stokkie.
Sekere woorde is sosiaal of lekties gekodeer. Ander is aan alle sprekers bekend. Opwindend om te ontdek hoeveel woorde se oorspronge jy nie mee bekend is nie. Soos: kier. Op ‘n kier is effens oop. (‘n Kier is die smal opening tussen ‘n deur wat nie heeltemal toe is nie, en die kosyn.)
En opnuut die verskil tussen braaf en dapper. En terloops, ‘n mens praat nie van tou in die huis van die gehangde nie.
Die handige indeks help enorm in die soektog na die Engelse ekwivalente of verklarings. En die Bybelverwysings onderstreep hoeveel van onse spreekwoorde ontleen is aan die Bybel.
Daar is 10 765 idiome en uitdrukkings met 1400 nuwes bygewerk. Wat ‘n enorme prestasie.
Dit wil gedoen wees. ‘n Voetval vir hierdie samestellers. En aanvaar my lofrede voetstoots.
En veral is hierdie boek vir al die windorrels in Afrikaans wat stunning en amazing gebruik, terwyl daar heerlike woorde in Afrikaans bestaan. En nou: mag woorde heerlik wees? A, moet dit smaak of proe?
Hiep-hiep hoera.