Tuesday, September 13, 2022

Resensie | Pieter Stoffberg – Tenk | Penguin, 2022

Pieter Stoffberg – Tenk. Penguin, 2022. ISBN 978 1 4859 0488 5 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Dit het vele films en boeke geneem om die impak van die Viëtnam-oorlog weer te gee. Van daardie wond sal die VSA waarskynlik nooit herstel nie. 

 

The Deer Hunter (1978 van Michael Cimino), Apocalypse Now (1979 van Francis Ford Coppola), Platoon (1986 van Oliver Stone), Hamburger Hill (1987 van John Irvin), Born on the Fourth of July (1989 van Oliver Stone)…

Op ‘n reis deur Viëtnam staan die vliegtuie nog as bakens. Om die oorlog te gedenk? Wanneer jy die landskap besoek, weet jy waarom die Yanks verloor het in hierdie meedoënlose landskap (Woorde Wat Weeg / Viëtnam – ‘n digterlike reisverslagBesoek 12 September 2022).

 

Ook hier te lande skryf roman- en kortverhaalskrywers al vir jare oor die impak van die grens- en Angola-oorloë

 

Koos Prinsloo, Victor Munnik, Etienne van Heerden, Alexander Strachan (‘n Wêreld sonder grense), om enkele name uit te sonder, het hierdie sinnelose oorlog beskryf.

 

Tenk van Pieter Stoffberg is ‘n roman wat die Angola-oorlog onder die oog neem. Dis ‘n roman wat ‘n mens meesleur. Daar is verskillende verhale wat saamgevleg word. ‘n Jong man wat sy vriend se motor leen om sy swanger meisie te besoek en die troue moet afstel weens die oorlog.

 

Vrese en verlangens huis toe. Emosies afgewissel met keiharde beskrywings van wat gebeur wanneer ‘n tenk ontplof. Hierom word tande ge-X-traal, want dit is as’t ware al wat oorbly ná die ontploffing. Die gedwonge oorlog het jong mans se lewens ontwrig. 

 

Die politieke en sosiale letsels is nog steeds waarneembaar.

 

So word die boek bemark:

1987. ’n Konvooi vegvoertuie is op pad na Angola om oorlog te maak. Vir die eerste keer is Suid-Afrikaanse tenks deel van die opmars om die Rooi Gevaar te stuit.

Kommandant Leon Marais dra nie net die las as bevelvoerder nie, maar bots ook met sy direkte hoof. Boonop word die indruk geskep dat hy nie by die reëls hou nie wanneer dit kom by krygsgevangenes.

 

Tenkbemanningslid Abrie Ahlers worstel met sy eie probleme. Sal hy sy belofte kan nakom om betyds terug te wees die om met sy sewentienjarige swanger meisie te trou? Sal hy enigsins terugkom? En hoekom lieg hy oor die dood van sy pa?

 

Die insypelaar, majoor Cassie van der Merwe, moet in gevaarlike omstandighede te voet op die vyand spioeneer, en Pietie de Villiers, die jong dokter sonder enige weermagopleiding, word getaak om ’n mediese pos in ’n vyandelike gebied te beman.

 

Sersant Pierre Wessels praat ’n beangste dienspligte moed in en dra ’n gewonde 32-makker na veiligheid onder swaar bombardement. Motorwerktuigkundige Lappies Labuschagne moet al sy vernuf as soldaat inspan om met ’n mankolieke Ratel ’n gedugte Russiese tenk aan te vat.

 

Dit is van die grootste veldslae met Suid-Afrikaanse tenks in Angola. Daar is soldate wat sterf en vermink word. Ander breek onder die spanning. Almal keer terug met wonde in hul gemoed.

 

Dit is Operasie Modulêr. Dit het alles gebeur.

Die roman is uiteraard gebaseer op die werklikheid, maar werk romanmatig soos Norman Mailer se bekende The Naked and the Dead (1948). By Mailer vind alles plaas op die fiktiewe eiland Anopopei (South Pacific), maar die leser lees die werklike oorlog in.

 

 

II

 

Een van die grootste oorlogfilms, wat fokus op die wonde van die oorlog, is uiteraard Born on the Fourth of July.  Ron se beserings in die oorlog lei tot ‘n lewe in ‘n rolstoel. Die persoonlike ellende (‘n aanval op inwoners wat per ongeluk as die vyand gesien word), word met die politieke dimensie gesinchroniseer: JFK (in Ron se jeug), later Nixon se toespraak teenoor Ron wat ‘n boodskap lewer oor die gevare van oorlog. Alles puik vertolk deur Tom Cruise en gebaseer op die lewe van Ron Kovic wie se outobiografie die basis vorm van hierdie rolprent.

 

Die werklike outeur Stoffberg verwys ook na films in sy teks (165).

 

In hierdie film is die werklikheid die uitgangspunt. In Tenk erken die skrywer in sy nawoord dat hy met verskillende mense onderhoude gevoer het. Ons word ook voorsien van ‘n literatuurlys. Met ‘n handige Woordelys agterin, enige taalkundige se droom.

 

Op die promosiebiljet word die werklike tenk beskryf en dat Majoor Dana Swanepoel van die Pantsermuseum in Bloemfontein die drie vooraansigfoto’s geneem het.

 

Tenk is ‘n vernuftige vervlegging van fiksie en feit. Die troostelose Angolese oorlog met Magnus Malan se erkenning op 11 November 1987 dat ons oorlog maak. Toe woonagtig in die Noorde van die land onthou hierdie leser hoe ‘n vader, ‘n prokureur in die dorp, sy jong seun begrawe het in ‘n uniform.

 

Private ellendes word afgewissel met die politieke en sosiale werklikhede van oorlog: jong mans wat teen hul sin of wil opgekommandeer word; vlieë; malaria; rusies; diarree; boeliebief as stapelvoedsel; verlange huis toe; ‘n kapelaan wat probeer raad gee; pynlike gesinsellendes wat in die tyd van konflik uitborrel.

 

Die Hubo- en Vimpulorivier. ‘n Jong soldaat, oormoeg, word per ongeluk deur sy eie manskappe doodgery, die voorste kanontrekker (188).

 

Daar is helder beskrywings soos dat die lawaai, die stank van diesel, kordiet en sweet; so surrealisties is soos ‘n Salvador Dali-skildery (180).

 

Die geweldige spanning van die oorlog word beskryf in ‘n toilettoneel, terwyl die mortiere om die soldate se koppe verbyvlieg (174).

 

Die militêre aspekte word met absolute presisie beskryf – kyk onder andere na bladsye 51, 66, 121 en 142. En tande wat ge-x-ray word sodat jy nadoods uitgeken kan word (23).

 

Hierteenoor ‘n liefdesbrief op bladsy 108 wat aan die hart ruk.

 

Jonas Savimbi. Katima Mulilo. 

 

Die inhoudsopgawe verskaf ‘n lys van prominente karakters en hiermee weet die leser dan die vertellende instansie ‘n ouktoriale verteller is soos die regisseur van ‘n komplekse film.

 

Dit is ‘n puik, afgeronde roman wat hierdie leser stadig en met etlike kanttekeninge gelees het.

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)