Sunday, September 11, 2022

Bekendstelling | Joan Hambidge – Sanctum | 3 September 2022


My hande
 

My hande word by nabaat

al hoe duideliker omlyn

soos my moeder s’n.

Skerp are, slanke vingers

met artritisknobbels.

 

Hoe verlang ek nie nou na haar

hande, koesterend en troostend,

wat ’n hoofpyn soos ’n kreukel

kon uitstryk of ’n onrustigheid

van die hart kon wegmasseer nie.

 

Die delta-are op my hande

gloei soos hare met daardie laaste

 

handgee met my hart toe op breekpunt:

sy, in ’n lykskleed sonder kreukel of vou.

 

(Konfessies, kaart en konterfeitsels, 2021).

 

 

I

 

Onder die bekwame leiding van die digter en uitgewer Fourie Botha is Sanctum Saterdagoggend bekend gestel by Oude Leeskamer op Stellenbosch naby die Moederkerk en oorkant die Engele Fabriek.

 

22 besoekers, waaronder Ingrid Winterbach, S. J. Naudé, Willem Anker, Alfred Schaffer was daar. My bure aan wie die boek opgedra is en hul kind. Wilhelm Jordaan en professor Andries Visagie het ook  bygewoon. Soos dr Ronel Retief en professor Amanda Gouws. Die digter en uitgewer Michèle Betty en die digter Sally-Ann Murray was ook toehoorders. En die literator Adèle Nel. En Marida Swanepoel indertyd van Kyknet … e.a.

 

Die hand op die voorblad verwys na Henk Serfontein se installasie van vrouedigters se hande in 2018 (Henk Serfontein se nuwe solo-uitstalling, Handskrif: 'n onderhoud | Litnet. Besoek 5 September 2022).

 

Hande fassineer my en ek het geweldig baie boeke bestudeer oor palms en hoe jou palm se lyne verklap wie jy is. In ‘n gedig “Pyn het glo geen vervaldatum” verwys ek dan ook na Job 37: 7:

 

“Die hand van elke mens verseël Hy, sodat alle mense sy handewerk kan leer ken.”

 

Hierdie handleiding (tweedehands, sic!) gekoop op Harvard Square.

 

Hande, vuishoue, die hand van God (Diego Maradona) en die illusie dat die gedig spontaan en dus uit die hand gebeur, word hier ondersoek.

 

 

II

 

Die bekende teoretikus, Frank Lentricchia se opmerking dat sy moeder wat in ‘n fabriek moes werk, sy siening van die letterkunde beïnvloed het. Van die “well-wrought urn” tot ‘n dialektiese proses.

 

Sy had groot manshande en sy het haar afgesloof sodat hy universiteit toe kon gaan.

 

“You must go to university no matter what … Look at these hands: they’re a man’s hands.”

 

Sy ouers was tweede-generasie Italianers uit die Suide waar mense deur die sisteem uitgebuit is. In die VSA werk sy moeder vir General Electric.

 

En hierom, beweer Frank Lentricchia, kan hy nie Wallace Stevens lees soos Kenneth Burke of Harold Bloom of Derrida nie. Hy kan nooit sy werkersklasagtergrond verraai nie.

 

Hy skryf dan ook oor die ellips as die sogenaamde “poetry of silence”.

 

Dit is alles te lese in die onderhoud met Imre Salusinszky se Criticism in Society (Methuen, 1987: 203). 

 

Huitain

 

Ek ruik vanoggend weer harpuis –

jou goedgemikte uitklophou

toe ek papier tref ná jou vuis;

met twee dekades se onthou.

 

Jy’t my in die hoek neergesit;

liefdesmart word toe skryfgevit:

lees jý by nabaat met berou?

Digters dig nie meer uit die vuis.

 

 

III

 

Die bundel het tydens die eerste inperking onstaan toe my reis na die buiteland gefnuik is. Fourie het hierop gefokus en die reis na die buiteland het toe ‘n binnereis geword.

 

“Die groot Tempel, die aktiewe Woord” uit Tristia het die rigtingwyser geword met erkenning ook aan Opperman, Eybers, Boerneef, Olga Kirsch – en verder terug in die tyd: Leipoldt en I.D. du Plessis.

 

In hierdie bundel word nuwe vorme ondersoek soos die Stichos, Redondila, Kautata, en dies meer.

 

Temas is dieselfde: familieskap (veral die verhouding met die ouers), die familieskap van die digkuns, lykdigte, die liefde, die dood (hierom ‘n handvol lykdigte oor figure wat onlangs vertrek het) en ekfrastiese verse (Velázquez). En vertalings van Sylvia Plath en Kavafy.

 

Dit was dan Fourie Botha wat sy hand netjies oor alles gehou het en ten slotte was Alfred Schaffer se vraag insigryk: waarom bly jy dig? Waarom nie opgehou by bundel drie of vier nie?

 

Waarskynlik omdat die uwe met elke bundel nuwe tegnieke ontdek en dieselfde kwessies vanuit ‘n ander hoek beskou? Omdat ek by Henning Snyman en Ina Gräbe veel bly leer oor hoe jy digterlike taal moet benader. Soos by Cuddon in sy woordeboek van literêre terme en teorie.

 

Ek was bevoorreg om klas te kry by die taalkundige en digter Annette Snyman wat vir ons as jong studente in Afrikaans en Nederlands (circa 1976) Boerneef oopgemaak het. Digter van die bundel Klein rondreis wat in 1981 verskyn het, eggenoot van Henning Snyman.

 

Op die dag wat ek ‘n brief ontvang het van haar in St. Petersburg-sonder-sneeu, was haar dood in die pers aangemeld. My eerste pos in die literatuurwetenskap en Annette wat my sterkte toewens.

 

Dalk om meer te wete te kom van die metaforiese transaksie van die digkuns of die “beproefde patologie van die poësie” soos Eybers dit tipeer?

 

Nou skryf ek aan Asindeton.

 

En goddank het die uwe al die biljette oor tempels en kerke en katedrale uit vreemde lande bewaar.

 

 

IV 

 

Opruiming 20

 

Soos Auden leer

ontstaan ‘n gedig

op ‘n óntoepaslike tyd

geen spesiale uur

vir dié stil bedryf.

 

Terwyl die potlood

draal oor papier

soos beelde stadig,

onseker ingebreek word:

 

twee nessies bou ‘n vink

een leeg, een beset

sketter ‘n boodskap

oor ‘n inbraak

 

onder in die gebou

terwyl sirenes loei,

vlieg die vinke weg

in Frank Lentricchia se

a poetry of silence.

 

Ellipties hierdie naakte

konfrontasie, ‘n anagogie?

Kermode of onse Frank,

weet dit is ‘n anti-tese:

een leeg, een beset …

 

 


© Joan Hambidge