Friday, February 22, 2019

Resensie | Carina Diedericks-Hugo – Karaktermoord (2019)

Carina Diedericks-Hugo - Karaktermoord. Penguin, 2019. ISBN 9781415210178

Resensent: Joan Hambidge

Die bekende jeugverhaalskrywer Carina Diedericks-Hugo debuteer met Karaktermoord by Penguin as volwasse skrywer. Die voorblad aktiveer verskeie reekse en Ruth Rendell.

Om jou kleim af te steek binne hierdie sub-genre wil gedoen wees. En sy kry dit absoluut reg. Die titel speel in op die vrees wat elke ordentlike mens (en skrywer) het: dat leuens, halwe waarhede, onwaarhede of oordrywings oor jou verprei mag word. Jy moet 'n Truman Capote wees wat beweer: vertel van my wat jy wil; verkieslik 'n leuen.

Die roman speel binne 'n uitgewershuis af. 'n Skrywer word vermoor en dan word daar gesoek na die moordenaar. 

Deur die roman so te situeer, aktiveer die skrywer al die ego-strukture en probleme wat die verhouding tussen 'n skrywer en uitgewer mag oplewer. Die uitgewer moet 'n boek verkoop, dit bemark - en dis nie altyd vir die skrywer aangenaam om te besef dat sy / haar boek nie meer aan die leesbehoeftes voldoen nie. En as die skrywer boonop emosioneel of seksueel by die uitgewer betrokke raak, is dit 'n resep vir 'n ramp.

Met 'n rapier, nie 'n knuppel nie, word die verhaal van Anna (en haar manewales) oopgesny. Hier en daar is daar flitse van herkenbaarheid wat nie die storie se gang belemmer nie, maar die kwessie van wat "karaktermoord" behels, ontleed. 

En dit is hierdie dubbelpraat (doublespeak) wat die roman vorentoe dryf. Dit is dus tereg satiries en oordrewe in aanbod soos Deborah Steinmair tereg uitgewys het in haar uitstekende Rapport-resensie (Seks en satire teen ’n uitasem snelpas | Netwerk24). 

En dit satiriseer ook die feit dat almal deesdae krimies wil skryf - waarskynlik omdat dit geld maak. (Is die verwysings na ernstige tekste geplant om te wys hoe ons leesmodes verander het? Hoe sou ons nou op Sewe dae by die Silbersteins gereageer het?)  Leroux is ingebed in die teks en Saul Bellow se Humboldt's Gift waar 'n voet 'n bietjie uithelp (129).

Anna Neethling teenoor Malan Sinclair. 'n Depressiewe vrou en 'n seun wat sy vader haat. Die wynbedryf teenoor die skryfwêreld. Seks en geld. Die suksesvolle Sebastiaan Barnard. Wynand du Toit wat sy posisie wil inneem. Die ywerige joernalis Christina; die vader van Anna, 'n predikant; 'n wynmaker, ene Dawid Briers wat sy druiwe elders kry en dan wyn maak. ('n Skuinsklap na die bedryf waar dit 'n doodsonde is as jy dit nie erken nie.)  Die name is al beduidend vir die satiriese kodes.

Die slot het ek nie sien kom nie. Met 'n teruglees, kan jy dit egter insien!

Is die mense werklik? Is hulle samestellings van werklike mense soos Steinmair beweer?

Waarskynlik wérklik plus 'n verbeelding wat iets bysit. Roland Barthes se vraisemblance word geaktiveer. Net soos werklike plekke en 'n stad herkenbaar is, maar binne hierdie roman gelaai word met núwe implikasie.

Dis teen 'n vinnige pas geskryf met implisiete verwysings na TV-reekse.  Die skrywer was 'n uitgewer op haar dag; so sy kén die bedryf. Sy deel klappe uit na "kommaskuiwers" en "letterslawe". Sosiale media se obsessiewe boekhou (23) en hoe 'n sekretaresse of 'n onbeduidende redakteur gemanipuleer kan word. Die chignon teenoor die bajonet. Snyerspakkies en dasse word opgestuur.

Korreksie: Boonzaaier moet lees Boonzaier (108).

Nuwe wyn in ou sakke. Beslis nie bitter aalwyn vir hierdie leser nie. Dalk pleeg jy karaktermoord as jy mense herken en dit nie bloot as fiksie benader nie.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)