Anoeschka von Meck – Die heelal op my tong. Penguin, 2020. ISBN: 9781485904106
Resensent: Joan Hambidge
In hierdie meesleurende roman wat heet Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck word die hele kwessie van liggaamlikheid ondersoek. Haar vader haat vet vroue. Trouens, reeds met haar geboorte weier hy om die foto's te hou van haar en die moeder, omdat hulle oorgewig is.
Hierdie boek gaan egter oor meer as liggaamlikheid, oorgewig en om vasgevang te wees in die norme van die gemeenskap. Dit word 'n besondere aweregse biografie van die werklike vader, Vloog Theron. Deur oor hóm te skryf, kom sy by haarself uit. Sy is inderdaad soos die Russiese matrioskas verskillende selwe in een liggaam vasgevang.
Die beskrywings van die vader is ambivalent. Enersyds bewonderend vir hierdie larger-than-life-figuur, Vloog Theron; andersyds opstandig oor die skandes, verlatenheid en eindelose probleme waarin hy haar (en hul gesin) gedompel het. Hoe sou haar lewe daar uitgesien het as sy nie so 'n vaderfiguur gehad het nie?
Fat is a feminist issue, die bekende studie van die psigoterapeut Susie Orbach, het in 1978 verskyn. Vrouens en hul gewig. Dieetsiektes. Anoreksia tot vetsug. Body loneliness. En hierdie studie prut onderlangs in die vertellling nes die ander feministiese studie My mother/ my self (1977) van Nancy Friday wat hier dalk met die woord vader vervang kan word. Ons word gevorm deur die wonde – onbewustelik of opsetlik – deur die ouers toegedien.
Elke ongewenste kilogram verteenwoordig vir die verteller 'n kilogram smart (197).
In The talented Mr Ripley (1999) van die regisseur Anthony Minghella merk die vaderfiguur op dat ouers ook nie hul kinders kan kies nie. Hitchcock – self oorgewig – se The birds word ingebed in Von Meck se roman en so word die Unheimliche na vore gebring.
Ons bly nadink waarom daardie onheil geplaasgevind het.
Jane Gallop se psigoanalitiese studie, The daugher's seduction (1982) bring etlike perspektiewe na hierdie roman van amper 400 bladsye wat hierdie leser oorrompel het. Ons ken Freud se Dora en haar gevoelens oor haar vader.
Hierdie psigo-biografie word beskryf as bisarro-fiksie, daardie soort teks wat absurditeite, satire, die groteske inspan om 'n nuwe wêreld te skep. Die skreeusnaakse begeleidende titels van die verskillende hoofstukke soos Die onrondfokbare Tintin – met ikoon daarby van 'n raai wat ? – struktureer die gegewe.
Die roman werk met herkenbare gegewens, maar word omgetower in 'n roman wat boei, ontstel en laat lag. (In die nawoord word die sibbe wel gerus gestel dat hulle nie daar is nie.) Humor en satire word die wapens waarmee die verteller haar verweer teen pyn en verwerping.
Die titel aktiveer Spreuke: Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet. En alternatiewe idees kom ook aan bod: UFO's, samesweringsteorieë, spiritualiteit, New Age filosofie, Zen, psigiese waarnemings, besoeke aan klinieke, en die impak van dwelms op jou menswees. En die opnoem van die abjekte.
Dis meer as Willemien (Wilde Willemien!) se verhaal. Dis 'n skreiende ontmaskering van hoe perfeksie is waarna almal smag: jy moet ryk en mooi en slim en maer wees. As die vaderfiguur nie geskonde was nie, sou hy dalk minder verbete opgetree het teenoor hierdie kind?
Die binnelandskap word verken en telkens binne verskillende ruimtes en landskappe – werklik en verbeeld – geplaas: Namibië, Suid-Afrika, Bhoetan, die VSA, die Ooste, o.a. Die verskillende windstreke verklap telkemale iets van die binnelandskap en die verbete soeke na heling en begrip.
Herhaal kinders in hul volwasse verhoudings die onopgeloste konflik met die ouers? Waarskynlik waar, as ons kyk na die verhouding met Clifford, self 'n verwonde mens. En die ouer man versaak haar ...
Daar is beskrywings wat 'n mens altyd sal bybly: die jong dogtertjie wat afgeknou word in 'n Engelse skool; die soeke na kos in 'n leë huis; die afwesige, slapende moeder; die rol van die grootouers en hoe Namibië resoneer in die verteller se gemoed.
Hier is 'n ouer verteller wat die kind oproep in haar gemoed en telkens hoofstukke aanbied met ironiese distansie. Daar is ingebedde kursiverings wat 'n ander perspektief gee. En júis omdat die vertellende instansie met soveel humor en ironie die gegewe aanbied, sluk hierdie Jona-verhaal jou in. Voorgee word verwerp. Dis sleg vir die siel ...
Ons ken almal A.G. Visser se beroemde satiriese gedig "Vet":
As ou tant Siena straat op loop
Om antipon of spek te koop,
Sê dié wat pad maak: Dank die Heer!
En sit hul sware stampers neer ...
Dit is leesplesier uit die boonste rakke. Geskryf met 'n vaste hand en met vreesloosheid. Hierdie leser kon dit eenvoudig nie neersit nie. Is dit toevallig dat boek self aan die oorgewig is? Oor die lyf wat 'n spens van smarte geword het, skryf sy sonder skroom.