Friday, November 15, 2019

Resensie | Marita van der Vyver – Grensgeval (2019)

Marita van der Vyver – Grensgeval. Penguin, 2019. ISBN: 978 1 4859 0379 6

Resensent: Joan Hambidge

Die verlede is ‘n land waarheen jy nooit kan terugkeer nie

I
Ruan Kemp se Gedeeltelik bewolk het vroeër vanjaar by Tafelberg verskyn met ‘n opdrag: vir D.B. Die roman het tot polemiek gelei oor wat behoort het aan die Dave Bishop en wat Kemp bygelas of herinterpreteer het? Dit bly ‘n komplekse gegewe waarop die antwoorde eers later gevind sal word (Woorde Wat Weeg | Resensie | Ruan Kemp – Gedeeltelik bewolk, 2019).

Nou kom Marita van der Vyver met Grensgeval (Penguin) en sy dra haar boek op aan Dave Bishop, haar voormalige eggenoot en ‘n karakter in Griet skryf ‘n sprokie.

Grensgeval is ‘n boek oor die grensoorlog (Angola) en verwys ook na die sogenaamde borderline personality disorder. Dit verwys eweneens na paranoïese skisofrenie en bipolariteit. In hierdie boek – ‘n onthouboek – beweeg die hoofkarakter Theresa Marais terug in haar verlede as ‘n bevoorregte wit kind. Sy besef as ouer persoon hoe min sy geweet het van die bestaan van minder bevoorregtes en nie-wit-mense in die ou-Suid-Afrika. Met die roman wil sy dan probeer bepaal hoé dit gebeur het dat sy so oningelig was. 

Haar man – eintlik eksman Theo – se ervarings wat in ‘n boks opgesluit word, is dan ‘n Pandorakis vol geheime. Die ontdekking van ‘n Kubaanse soldaat se brief aan sy kind neem haar na Kuba om die brief terug te gee. 

Sy oorhandig ook Theo se briewe aan sy moeder in ‘n verloopte Sunnyside. Hier ontdek sy in die rassistiese skoonmoeder se woonstel ‘n foto van haarself. Sy is die bruid op die foto, maar helaas uitgesny uit die kiekie (44).

Die besoek aan Havana is eg beskryf. Sy wil egter meer as ‘n toeris wees en besoekers aan Kuba, soos hierdie reisigerleser, weet hoe outentiek sy die kos, die hotel en die ambiance van hierdie verruklike wêreld beskryf word wat vir soveel jare in jong Afrikaners se gemoed gedemoniseer is.

In die beskrywings van ouer Afrikaners is die gebruik van die woord opneuk erger as die k-woord (94), wat weer eens bewys op watter vasteland ons geboer het.

Sommige ervarings word inderdaad nooit vergeet nie, net onderdruk (107). Hierdie goed geskrewe, hoogs leesbare roman navigeer die pynlike ontdekkingsreis van Theresa.

II
Die roman word onder verskillende titels ingedeel wat die verhaal konkreet begelei, soos “Hemingway se bed” en “'n Vuurwapen”. Hierdie twee hoofstukke wat ek uitsonder, is gelaai met subteks. Die skrywende Hemingway in die hotel Ambos Mundos, is ‘n belangrike kode vir die teks. Hemingway is ‘n toeristiese baken in Havana en sy vriendskap met Castro gee ‘n ander blik op die vertellende instansie wat grootgeword het met ‘n negatiewe indruk van hierdie staatshoof (Woorde Wat Weeg | Reisjoernaal/ Kuba & Mexiko, 2004Besoek 15 November 2019).

Sy het somervakansies beleef, terwyl haar man op die grens was. Hierdie ervaring het hom so verwond dat hy selfs ‘n vuurwapen op haar rig. In die beskrywing van ‘n ongelukkige huwelik wat gekenmerk word deur emosionele geweld, vind die leser ‘n hoogtepunt in Van der Vyver se oeuvre.

Die beskrywing van medespelers in Kuba – soos Ruben, Lazaro en Oreste – word eweneens goed gedoen. Newekarakters (soos die prokureur, Nini, die skoonmoeder en ouers word goed geteken. Die gesprek met die moeder en self is pynlik-eerlik. Ook die kwellinge rondom die lyf en seks, is eerlik.)

Die roman wentel om verskillende opposisies: haar man se troostelose weermagervaring teenoor haar onskuldige ervarings; haar vriendin in Pretoria se ervarings teenoor ‘n bestaan in die Kaap; hede teenoor verlede; die jeugdagboeke teenoor die man se “swart joernaal” (ook ‘n army boks) en die pa se brief.

Daar is oomblikke in hierdie roman wat so pynlik is dat ‘n mens eers die boek moet toemaak.

Dit is ‘n roman van boetedoening (‘n brief wat gevind word en vergifnis wat begeer word) en ‘n ondersoek na die letsels wat oorlog op ‘n mens laat.

Die toneel waar ‘n Munch-koppie uit Theresa se hand geklap word en die “preek” in die kerk, is eweneens dwingend beskryf. (Per ongeluk ‘n dubbelsinnige taaipou: tikland in plaas van Stikland op bladsy 258.)

Metabletika is die konsep van J.H.H. van den Berg: die ontoevallige samehang van gebeure (Metabletica - WikipediaBesoek 15 November 2019).

Twee romans ondersoek Dave Bishop, een vanuit ‘n meer gedistansieerde manlike perspektief; die ander vanuit ‘n vroulike, intiemer hoek.

En ‘n mens kan nie die verlede regmaak of regdokter nie.’n Mens kan alleen dit in die herinnering en in ‘n roman of nie-fiksie besoek. Die brief aan die geliefde dogter (Mi Querida Hija) is ‘n pynlike analise van wat oorlog aan mense doen en die hoop dat ons dit kan vermy.

Die afwesige teenwoordigheid wat altyd sou bly spook.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)