Ashwin Arendse – Swatland. Kwela, 2022. ISBN: 9780795710070
Resensent: Joan Hambidge
Ennie wit mense vegietie ’n bġyn gesig ie
en vegiewe oekie maklik ie.
28 gedigte. Met die eerste oogopslag dalk te min. Maar onthou dat gert vlok nel se debuut ook min gedigte bevat het. Die res is geskiedenis.
Hierdie bundel is sopas met sowel die UJ- as die Eugène Marais-pryse bekroon.
Dit is gesitueer in die Swartland en die digter stel sprekers aan die woord met die bekende bry-r. Die bry word met ‘n ġ voorgestel. Hierdie leser het die digter sy verse hoor lees en dis belangrik dat dit praatverse is, maar ook verse wat uiters slim gekonstrueer is.
Politiek en die gepaardgaande ellendes van hierdie land: armoede, werkloosheid, diefstal. Die digter vestig hom in die lang galery van belangrike bruin digters: Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips, Lynthia Julius, Ryan Pedro oa., wat in die onlangse verlede begin stem dik maak het.
Hulle skryf in Kaaps of wyk af van Standaard-Afrikaans.
Die kanon word op sy kop gekeer, nie alleen tematies nie, maar ook op ‘n taalvlak.
Tereg word die bundel aangeprys deur die digter Alfred Schaffer wat sélf die hele kwessie van taal aanspreek in sy bundels.
In Schaffer se jongste bundel, Wie was ik. Strafregels, gee hy stem aan die moeder wat die Karibiese eiland (en haar familie verlaat) en in Nederland trou met 'n Nederlander. Die swart vrou en wit man het 'n dogter en seun; die dogter sterf vroeg en die seun gee nou 'n stem aan hierdie geskiedenis wat migrasie, kulturele verskille, rassisme en al die komplekse kwessies aanraak. In die verantwoording word daar erkenning gegee aan Frantz Omar Fanon, die psigiater en politieke filosoof van Martinique, se Peau noire, masque blanc (1952), Black Skin, White Masks, sowel as die werk van Susie King Taylor.
Ook wit digters doen dit. Met die onlangse afsterwe van Thomas Deacon het ons weer bewus geword van die Noord-Kaap se Afrikaans. En die wêreld van die Noord-Kaap is die gebied van George Weideman en Donald W. Riekert. En wat Griekwa-Afrikaans betref, het die digter Hans du Plessis waarskynlik geen gelyke in Afrikaans nie.
In hierdie unieke bundel posisioneer die digter homself as ‘n unieke stem binne ‘n lang tradisie van digters wat buite Standaard-Afrikaans dig, en sover terug as Adam Small begin het.
Die praattoon is opvallend en ‘n mens kan as't ware die digter “Innie Malmesbuġy, vi coloureds …”
Dis “poetry met ‘n purpose” soos Elodi Troskie geskryf het. Die digter het onder Nathan Trantraal gewerk (Ashwin Arendse se Swatland. Besoek 1 Mei 2022).
Dis nie gedigte wat troos nie. Dit ontstig en die harde werklikheid word telkens vir die leser uitgewys. Die sogenaamde plat woord duik ook hier op; dit is gedigte wat die ander kant van ‘n leefwyse verken, so opvallend van hierdie digtersgenerasie. ‘n Bundel wat jou tussen die oë tref en word tereg dan ook in Kaaps geresenseer. Dit kan ek helaas nie.
So klink sy gedigte:
liefde angelo
As twie broese met hulle arms agte hulle ġugte
en floppies op hulle koppe in jou ġigting beginne ġol
isse slight slope in jou swag die eeste warning
wat jou liggaam afgie voorit in panic mode gan.
Ek’t it ignore wannie winkel is net vyf minute weg.
En oppe Saragaan issie plek woelag
mettie Muslims wie op en af in hulle VTECs
in Darlingstraat ġy opsoek nare kin
wat smaak voetjies hang.
Tien tġeë later.
Die naies doen “what Tiggers do best”.
Hulle hop, hop, hop tot by my, byg voo oo
soes goet watte curtain call doen,
en van onnerie floppies yt met koppe skyns
gedġai vġa hulle altwie in unison, soes harmony singers:
“Wat het jy daa virrie ouense?”
Twie chinks in my armour later.
Ek wôd nog steeds vanne awkward angle af interrogate.
Maa innie way hulle staan
soes mense voorie ATM
kan ek sien die ouense wag vi my om te antwood
soedat ie tġansaksie voltooi kan wôd.
Asse mens gerop wôd
wêk dieselle nerves wat wêk
as jy wag op final results.
Soe mens sê stupid goed.
Al wat ek kon ytkry
in dai moment wasse offer om vi hulle
’n pakkie Labamba beef
enne vyf ġand Cell C te koep.
Een moerse klap later.
Die ouense staan man-man menne mes
langer asse donkie-tollie.
Vat vi phonetjie.
Vat vi twinnag ġand.
Skud my yt asof ekke spaarblikkie is.
Hulle stap weg en een skġie vi my tġug,
“Saloet broetjie,”
asof om te sê ek het goed gedoen.
Maarie pyn in my wang lat my dink
ek kan bieter gedoen et.
Ek’s net ommie dġai toe Bentley
in sy Polo Playa optġek en ligte gooi.
Hy gym plus hyse mal bra.
Ek gie vi Bentley die noragge info
en hys daa weg om my gesteelde goed te gan soek.
Byrie join kap ek zip oorie phone cause my tanie
het net twie wieke geliede die lay-by gat afhaal.
’n Hele Sondagmarrag later.
Die Polo staan voo my hys
en boeta Ben se gesig getyg van goeie nuus.
Hytie phone gekry which means
een of altwie dai broese lê nou stukkend êrens.
Ek kyk of my memory card nog innie phone is.
En dan issit regyt bed toe.
Maa, net voo ek klaa mettie dag is
kom daa ’n please call me dee
vanne unknown nomme af.
Ek willit ignore, maa na dai
kom daa nogge paa dee.
Please call Ursula.
Ek check my balance en daa isse
twie ġand op wat ekkie gekoep et ie.
Die antie het net opgetel en
omtrent tien kee gevra wie die is
voorie phone afgeslat et.
Ek kyk deerie sent messages.
Heel boe kġy ekke boodskap wat sê:
Wil mami ni vi my ’n lyki gi ni asb
nwe job gkry innie Kaap, ma k need
fair vr d wiek
liefde
angelo
WWE
On this day I see clearly everything has come to life
A bitter place and a broken dream
– Edge intro song: Alter Bridge, “Metalingus”
As laitie het ek altyd oppe Sondagaan gehyl
om bietjie later wakke te bly virrie wrestling.
My tanie val gou vi tġane
soe soedra dai voiceover speel
wat sê ôs moetie die stunts byrie hys tġy nie,
het ek my kussings ġeggepak oppie sitkamevloe
en virre ieġ lank my ma se continental in sy moer geslaan.
Ek’t altyd gedġoem daavan
ommie stoei live te gat kyk.
Byrie skool,
as ek inne stġyery betġokke was,
het ek starag weggestap,
oo my skoue gekyk
en soes John Cena dai
“You can’t see me”-nommetjie gemaak.
En as ek sien ôs gat nou vysslaan,
het ek my oë omgedop,
my tong ytgestiek,
en my dym oo my nek getġek
tewyl al my tjommies dai klokgeluide
van Undertaker se intro song maak.
Soe ’n maan geliede, eintlik
heel eeste dag vannie maan,
manifest dai dġoem van my
inne strange way.
Soes ek innie pad af stap begin
’n ou oem enne ou antie mekaa spear.
Twie hall of shamers biesag
om innie sand ġond te ġol.
Asof hulle virre title fight.
Ek wou die match stop, maa daa was klaa ’n ref,
’n klein meisietjie wat mieste vannie tyd gehyl et.
Soes ek kon aflei wassit ’n TLC match.
Oupa het eeste die paal innie hanne gekġy,
een hou gegie en Ouma’s flou.
Oupa march daa weg soesie
Rated-R superstar
mettie SASSA-kaaġte
ġegyt smokkie toe
omme paa lieteġkies vaalwyn te koep.
Ouma het innie sand bly lê.
En net soes in WWE wanne iemand iets bġiek
is sy oppe stretcher daa weg.
Swatland
It’s a long camera
It’s a quantum leap to the beach
Is it too hot even for Speedos?
– Happy Mondays, “Somebody Else’s Weather”
Die Swatland hette way om temperature te gan ytgrawe
watte coloured familie lat kaalgat ġondstap innie hys
soes Scandinavians wat inne commune bly.
Innie Malmesbuġy, vi coloureds
wat an dai kant vannie bġug bly, isse pool
sewerage-wate wat langsie sypaadjie afloep.
Waarie klein laities heeldag in lê en float.
As jy te goot ġaak virrie kakwate
march jy oppe Sondagmarrag
af narie public pool toe.
Isse forty-minute walk tot byrie bads,
wan it was eens oppe tyd strictly reserved
virrie whiteys.
It kos van ôs om oorie N7 te stap
as ôsie journey kotter wil knip.
Wan veetag minute in veetag gġade
is jouself virre gat vat.
As ôs geland et, betaal ôs ie siewe ġand
en gat soeke dytlike spot wat ytkyk oorie hele scene.
Lunch isse paa pakkies Labamba,
suurvytjies en assie skarrel ’n sukses was,
syg ôs man-man anne JC vi afters.
Helfte van ôs kannie soe lekke swem ie
soe ôs lam innie kiddies pool.
Met ôs pecs op observe ôs ie goosies
wat parade voo ôs innie ways wat ôs
hulle byrie skool imagine.
Assie klokkie ly vi toemaaktyd, pak ôs ôs
sakkies op en beginne die pad anvat op hystoe.
Ommie trek lekke te maak gooi ôs man-man
’n paa klippe oppie wit mense se dakke
om sieke te maak hulle hoefie heeldag
veveeld te sit onnerie aircon ie.
As hulle ytkô, slat ôse gat tewyl hulle ġaas en skġie dat ôs
tġug moet fokof na ôs kant vannie bġug toe.
Laterie aan lam ôs ammel voo Wennie se join
en lag vi allie kak wat ôs angevang et deerie dag.
En beplan ’n anne route vi nex wiek.
Wan ôs kannie deal mettie hitte
aan ôs kant vannie bġug ie.
Ennie wit mense vegietie ’n bġyn gesig ie
en vegiewe oekie maklik ie.