Tuesday, April 26, 2022

Resensie | Frederik de Jager – Man op ’n fiets êrens heen | Protea Boekehuis, 2022

Frederik de Jager – Man op ’n fiets êrens heen. Protea Boekehuis, 2022. ISBN13: 9781485312109 

Resensent: Joan Hambidge



Frederik de Jager se Man op ’n fiets êrens - 55 stories van mense onderweg is pas bekroon met die Eugène Marais-prys vir debuutwerk. Dit het die UJ-prys ook as debuut verower in die kategorie vir prosa. Protea het dit gepubliseer.

 

Dit is ‘n hibriede teks weifelend tussen dagboekinskrywing, essay, herinneringstuk, nostalgiese teks (via Hélène Cixous se herinneringe aan Algerië; Derrida wat verwys na nostalgeria) en natuurlik die kortverhaal.

 

Dit is ‘n meesleurende leeservaring. Elke teks loop in die volgende een oor en dit is geskryf deur ‘n volwasse man wat besig is met ‘n bestekopname, soos uit Griekeland, ander kere is dit van hier.

 

Die rypheid is opvallend, nes die verskillende toonaarde: melancholies, humoristies, met ‘n skeutjie humor. Hierdie leser het dit met ‘n “shock of recognition” gelees en via Hennie Aucamp se Kort voor lank weer besef: die huis van fiksie het baie wonings. Die vraag moet nie wees of die werk ouderwets  of byderwets, betrokke of onbetrokke is nie. Die vraag moet wees: het dit gehalte? Dit is alles vrae wat Aucamp vra. 

 

Tans is hierdie leser besig met ‘n kursus oor kortkuns en Aucamp is die basisteks. Aucamp as kortverhaalskrywer, bloemleser, maar ook as teoretikus. Hy beklemtoon immers die skerp sensoriese indruk en hoe die kortverhaal (via Eudora Welty) met iets so nietig as ‘n voëlgesang kan begin (Tafelberg, 1978, 135).

 

Wat De Jager se boek belangrik maak, is dat die intuïtiewe sterk na vore kom. Die skrywer se taalkennis is opvallend en daar is digterlike momente:

 

Ons het hom in ’n terras teen die hang begrawe waar hy vir altyd op die mooiste lentedag ’n uitsig oor die vallei ondertoe sal hê. Olyfbome wat sonlig uitsif oor groen gras met geel madeliefies en die rooi vuur van papawers. Ons het mirre in sy graf gestrooi en onder die silwer klank van ’n silinderbel sy gees aan die absolute natuur gegee. Daar was ’n klip met ’n plat skuins vlak en dié het ons oor sy graf geskuif sonder om sy naam daarop uit te krap. Hy was anderkant skrif, en meer as taal. Om die eerlike waarheid te sê, ons het skuldig gevoel oor sy dood. 

    Waar sou hy kon wees, wonder ons. Dit was ’n uitsonderlik strawwe winter, met halfeeu-sneeuval – dalk het hy dit nie oorleef nie. Maar hoe dan juis hy in wie die vlam so sterk gebrand het? So het ons bespiegel, tot iemand in ons gemeenskappie van mense ’n stoorkamer by die buurhuis oopmaak om lug te gee. En daar, op ’n handdoek opgekrul of hy net slaap, lê Columbo. Ná vier maande feitlik onaangeraak deur verval, sy vag nog glinsterend, sy gestalte net effens ingedoke. Asof hy geen teken van lyding wou nalaat nie. En net so het ons hom terug in die aarde geplaas  … (136)

 

Soos dikwels die geval is in nostalgiese reise vind ons twee vertellers: die ouer persoon wat terugkyk asof hy steeds die kind is:

 

Die vraaglose geloof. As ek my hier-en-nou meet aan my komvandaan voel dit partykeer of daar so min ooreenkomste is dat ek moet wonder of ek een en dieselfde mens is. Die kern van wat mens glo jou self is, is volgens sielkundiges nouliks een aaneengeskakelde kontinuum van jou begin tot jou einde. Is ons weinig meer as ’n voortgesette sameflansing van herinnerings vervaardig deur ’n onbetroubare geheue? (89)

 

Die bespotting van die Ander, verdagmaking, verkleinering en boeliegedrag word tot op die been gesny. Die seun wat bespot word as ‘n sissie, omdat hy klavier speel. Die seun wat met ‘n juffrou wil korrespondeer wat elders in die moeilikheid beland. Hettie wat klavier speel om te ontglip uit haar harde werklikheid. Die woordelose ete tussen pa en seun word pynlik ontbloot.

 

Vooroordele teen Portugese, Grieke (in Suid-Afrika), die ou kleurbeleid, wat mense se lewens verwoes het, word verder onder die loep geneem.

 

Maar die belangrikste van hierdie deurgangsrites is die unieke manier van onthou:

 

Boekomblaai en die rustige asemhaling van die honde was die klanke van die aand. Uil naby, jakkals ver. As jy buite op jou rug in die gras lê, sou die sterre en die krieke oor alles eenstemmig wees (132).

 

Ottermaklotter, terloops is ‘n drankie, maar miskien gebruik die skrywer dit metafories.

 

Hoe teer word oor die verbintenis tussen mens en dier geskryf:

 

Die Tibetane glo as ’n dier naby mense leef, ontwikkel hy ’n siel wat meer mens as dier is. Kan dit ook wees dat ons hebbelike mensesiektes, byvoorbeeld kanker, op ’n dier kan afvryf? (170)

 

Onverontagsaambaar inderdaad, hierdie sirkelteks. “Op ‘n boot na ‘n lotsbestemming” is ‘n hoogtepunt”: ‘n boek in twee geskeur (DeLillo) deur ‘n mede-reisiger word dan die aanwysing vir wat die skrywer later ontdek in sy eie lewe.

 

Kyk hoe aangrypend vertolk hy kefí en die onsigbare verbintenisse tussen mense. En die mens onderweg wat in ‘n nuwe omgewing homself moet ontdek, word aangrypend belig.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)