I
Die afgelope langnaweek bekyk ek 12 episodes met Christie-speurverhale. Met David Suchet se puik vertolking van Agatha Christie se speurder: Hercule Poirot, vertolk deur David Suchet wat die pikkewynstappie perfek naboots. Met sy kierie. Soms word daar geloer met die knypbrilletjie om ‘n leidraad in te skat. Immer netjies aangetrek. Two tone-skoene. Netjiese baadjies. Klein ringetjie op die linkerhand. En die gestileerde snorretjie.
Daar is 70 episodes in hierdie reeks wat tussen 1989 en 2013 gebeeldsaai is.
Die ander spelers is Captain Arthur Hastings (Hugh Fraser) met sy golfobsessie en wat dikwels deur Poirot beskuldig word dat hy iets verkeerd verstaan. Chief Inspector James Japp, van Scotland Yard, (Philip Jackson) is ‘n ander teenspeler waarmee die reeks gelaai word met kultuurverskille rondom kos, drank en modes. Met humor wanneer Japp aan’t huise van Poirot kos moet eet wat hom nie aanstaan nie of wanneer Poirot op sy beurt Britse kos moet eet. Of wanneer Miss Lemon dieetkos voortsit wat die smulpaap Poirot nie kan verduur nie. Belg vs Brit.
Tyd word met disse verbind soos in The day after the funeral wanneer daar onthou word dit was Dinsdag, want daar is breinstowe geëet.
Miss Felicity Lemon (vertolk deur Pauline Moran) is die sekretaresse wat soms kos maak en selfs navorsing doen wanneer Poirot uitstedig is.
Peter Ustinov was op sy dag ook ‘n uitmuntende Poirot: ‘n mens dink hier aan Evil under the Sun en Death on the Nile.
Albert Finney was ook ‘n vertolker.
Minder entoesiasties is hierdie kyker oor Kenneth Branagh se interpretasie van Madame Christie se speurder. Te gestileerd. Aksent verkeerd.
II
Elke episode het ‘n ander regisseur en soms duik daar ‘n bekende akteur op soos Sarah Miles of Elliott Gould. Barbara Hershey, Elizabeth McGovern, James Fox is ook daar.
Hierdie celebrity-akteurs verleen glans aan die reeks, ofskoon die ensemble-spel hiervan ‘n trefferreeks maak.
Agatha Christie fop jou telkemale. Jy kan helaas nie uitwerk wie die moordenaar(s) is, so jy plaas al die gesag in die hande van Hercules Poirot wat ‘n klein besonderheid opblaas tot ‘n toring.
Waarom is daar twee lepels op die piering van die vermoorde vrou op die vliegtuig?
Waarom beklemtoon Poirot die belangrikheid van ‘n vrou wat nie van swart klere hou nie?
Wat maak ‘n stukkie papier op die vloer?
Madame Christie gee vir jou alles: maar dit is altyd die toevallige aspek wat alles bepaal. ‘n Moord uit die verlede wat nou herhaal word en Poirot (of een van die ander speurders) wat dit onthou. Dan begin die weefwerk.
Dialoog, maar altyd ‘n “plot twist”. In die films word groot moeite gedoen om die aandag van die werklike moordenaar af te trek.
Maar dis Poirot wat weet watter tegnieke gebruik word: soos waneer ‘n persoon driekeer ‘n ander een se naam herhaal in ‘n gesprek, moet jy lont ruik. Waarom iets herhaal? Dit gebeur in Hickory Dickory Dock waar studente saambly in ‘n hostel. Moord en diamantsmokkelary word verbind, maar die werklike moordenaar word via ‘n foto vir ons gewys. Eers verdink ons sy vader die politikus; later blyk hy die skuldige te wees wat sy moeder vermoor het, omdat sy hom betrap het as kind dat hy steel.
‘n Heerlike roesbolling. Maar al die drade word deur Poirot saamgetrek – dikwels dan met die hulp van ander wat ‘n moord of arrestasie of skandaal kan onthou en dit dan onder sy aandag bring.
“Suspension of disbelief”, toeval, altyd ‘n verband tussen iets uit verlede en hede, klein onbenullighede of besonderhede, en natuurlik: vermomming of die aanneem van identiteite. In The day after the funeral word die vermoorde se rol oorgeneem deur haar bediende. En Poirot gee ‘n lesing oor die spieëlteks en dat die vrou alles perfek nageboots het, maar in werklikheid was dit verkeerd. Sy het nie besef haar maniërismes is verkeerdom nie.
Opvallend hoe dikwels die séance en paranormale gebruik word. En verwysings na Oscar Wilde en ander beroemde tekste wat die speurder help.
Daar is net een plot en verskillende sielkundige moontlikhede, bely onse Hercules in Cards on the table.
III
Op die internet is daar selfs wenke om soos Christie te skryf:
Suchet is telkemale genomineer vir sy spel. Jammer genoeg het hy nooit gewen nie. Dit was dan Agatha Christie se kleinseun wat opgemerk het dat sy ouma sou gehou het van hierdie vertolking van die obsessiewe, perfeksionistiese briljante Poirot woonagtig in Whitehaven Mansions.
66 speurverhale, 14 kortverhaal-versamelings uit die pen van die Koningin van Misdaad.
IV
“Fate can be cruel.” Besoek 7 Mei 2022.
© Joan Hambidge