Dolf van Niekerk -Legkaart van 'n jong lewe. Protea, 2019. ISBN: 978-1-4853-1009-9
Resensent: Joan Hambidge
In my jeug was daar so 'n lelike bruin boek in ons dorpsbiblioteek met die titel Herinnering se wei. Dit is 1966 uitgegee. Hoe wonderlik was hierdie jeugherinneringe nie wat my na skrywers se ervarings vervoer het. En my gelei het na hulle boeke.
In 2013 het Leti Kleyn en Riana Scheepers 'n opvolg saamgestel met die uitstekende titel Spoorvat. Nou kom Dolf van Niekerk, 'n gesoute en bedrewe, veelkantige skrywer, en publiseer Legkaart van 'n jong lewe.
Die jeug of herinneringe aan jeugervarings het 'n vormende invloed op 'n skrywer se psige. Die Pools-Joodse psigoanalis Alice Miller meen jy moet 'n pynlike jeug herleef sodat jy dit kan besweer. Die uwe is van mening: dit is nooit te laat om 'n gelukkige jeug oor te hê nie; om die bekende stelling effens aan te pas.
'n Legkaart is 'n puzzle. Party mense (soos skrywers) het eindelose geduld om die verskillende stukkies in mekaar te pas; ander het nie. Hierdie boek gee dan sulke stukkies weer wat 'n mens telkens kan inpas by 'n gedig, jeugverhaal of dramateks.
Van Niekerk is vanjaar 90 en is 'n kenner van en behaal 'n doktorsgraad in die filosofie. Hier is dan dikwels verwysings na Nietzsche, Dostojefski, Van Wyk Louw, en ander denkers. Terselfdertyd word sekere stukkies van 'n legkaart vir die leser gegee uit die beskeie jeug soos 'n kind wat vals beskuldig word van diefstal of per ongeluk 'n suster se pop beskadig. Hierdie sketse het my opnuut na Miller se The drama of the gifted child (1978) teruggeneem.
Hierin beweer sy: “Experience has taught us that we have only one enduring weapon in our struggle against mental illness: the emotional discovery and emotional acceptance of the truth in the individual and unique history of our childhood.”
Die voortydige dood van sy moeder, 'n moeilike stiefmoeder, sy andersheid as jong kind, hul armoede, oorloë en ander onsekerhede wat die jong gemoed kwel, word in hierdie onthouskrif onder die loep geneem. Soms neem hy jou na gedigte wat jy nou anders vertolk; ander kere is dit 'n stuk Boeregeskiedenis of die Voortrekkers se manier van doen. Daar is ook humor.
'n Mens het dus twee stemme tegelykertyd aanwesig. Die onskuldige kind wat deur die wyse en terugkykende (en vergewende) skrywer bekyk word. Van Niekerk is dus outobiografies aan die woord en wat hy nie vertel nie, kan die leser self invul. Of uit sy fiksie byvoeg.
Hy vang 'n vervloë era vas en hierdie leser moedig almal aan om hul herinneringe of memories op te teken sodat niksverlore gaan nie, om met Hennie Aucamp saam te praat.
Jy kan net wees wie jy is, en jy is wat jy word, meen Van Niekerk.
Die boek karteer in 48 sketse en essays sy lewensloop van vyf tot twintig jaar. Maar deur die ouer skrywer opgeteken. Die dubbelperspektief van die memoir of herinneringsteks is immers bekend, tegelyk karakter en verteller. Die koshuislewe, die gespook om geld te kry vir studies, die vriendskap met G.A. Watermeyer, die meisie wat 'n blaar pos aan die ouer Dolf, is so helder weergegee dat dit 'n mens altyd sal bybly.
Die betekenis van briewe in “Posjong” is 'n hoogtepunt soos die aanhoor van D.F. Malherbe. Wie kén vandag nog die verskil tussen bo-dorp en onderdorp? Of President Steyn se uitspraak dat die veroweraar se taal van mense slawe maak?
Ons lees hoe die vader gedwing is om uniforms te maak anders verloor hy sy werk.
Smoelneukers, leiwater, vandisiekrale, skotige – begrippe wat 'n ou vergange wêreld aktiveer. Nes byname (Hansie Grootskrik of oom Johnnie Botter-by-die-vis).
Die impak van die Tweede Wêreldoorlog word helder vertel, soos die jong kind se voortdurende blootstelling aan siekte en die dood. Rasverskille kom eweneens aan bod en so gelees, is die boek 'n historiese dokument. Sou kinders byvoorbeeld soveel mog deurmaak vandag?
Edenburg word 'n argetipiese dorp. Hier is die lewendes en dooies en die skrywer se teks bewaar. Hierna keer hy telkens terug.
Memories, reminisensies, mémoire, outobiografie, selfgesprek – dis hoe 'n mens hierdie teks kan tipeer. Hierdie leser sien dit meesal as sketse; soms is daar wel essays.
Die digter praat saam: “Die ou jaar is ’n geliefde, ’n bêreplek vir die smart. En die hartseer oor sy einde is ’n bymekaarkomplek vir al die ander verdriet.”
Of: “die sterre kry drade om.” Hierdie leser het weer Nag op 'n kaal pleingelees.
Proust het met 'n madeleine-koekie sy assoisiasies losgemaak; Dolf van Niekerk doen dit met 'n kerfie biltong.
alles keer in siklusse terug,
alle syn herhaal sigself
deur die tyd, wat was word nou
en nou is môre soos dit was ...
Die voorblad is aangrypend mooi met die jong, maar terselfdertyd ou, wyse mensie op die voorblad saam met die sibbe.
Mag niks verlore gaan nie en mag almal ouer as sestig hul herinneringe opteken.