Monday, March 25, 2019

Resensie | Ivan Vladislavić – The distance (2019)

Resensie | Ivan Vladislavić – The distance. Umuzi, 2019. ISBN 9781415210260

Resensent: Joan Hambidge

I

So word die roman bemark:

In the spring of 1970, a Pretoria schoolboy falls in love with Muhammad Ali. He begins to collect cuttings about his hero from the newspapers, an obsession that grows into a ragged archive of scrapbooks. Forty years later, when Joe has become a writer, these scrapbooks both insist on and obscure a book about his boyhood. He turns to his brother Branko, a sound editor, for help with recovering their shared past. But can a story ever belong equally to two people? Is this a brotherly collaboration or a battle for supremacy?

This is an intricate puzzle of a book by a writer of lyrical power and formal inventiveness. Against a spectacular backdrop, the heyday of the greatest showman of them all, Vladislavić unfolds a small, fragmentary story of family life and the limits of language. Meaning comes into view in the spaces between then and now, growing up and growing old, speaking out and keeping silent.

II

In 1980 het Robert de Niro die rol vertolk van Jake LaMotta in Martin Scorcese se Raging Bull, ʼn onthoubare film waarin De Niro gewig moes optel om soos hierdie bokser te lyk. Jare gelede het ʼn kollega in die Regte my bewus gemaak van die nuanses van hierdie sportsoort. 

Ek was ʼn bewonderaar van Muhammed Ali en het, toe hy oorlede is, selfs ʼn gedig oor hierdie fenomeen geskryf. Norman Mailer se studie The Fight (1975) is ʼn belangrike studie oor die 1974 geveg tussen Ali en George Foreman in Kinshasa: die sogenaamde “Rumble in the Jungle”.  Mailer, sélf ʼn bokser op sy dag wat ook nie geskroom het om sy vuiste vir ʼn letterkundige opponent te lig nie, is ʼn moet vir die leser van Ivan Vladislavić se briljante roman The Distance.

III

Joe is ʼn skrywer wat terugkyk op sy jeug en sy notaboeke – en sy aantekeninge deurgaan. Sy bewondering (en obsessie) met Cassius Clay (Ali) vorm die basis vir sy sieninge van skryf. Net soos De Niro vir jare daarna gesukkel het om gewig af te skud na die vertolking van sy rol as Jake, kyk die ouer skrywer terug op sy jeug wat hy nie kan afskud nie.

Trouens, die skrywer soek na ʼn “punchy metaphor” vir die skryfaksie wat die leser soos ʼn linkerhou op sy kaak moet tref (74). En: “I go on writing, like a slugger who isn't smart enough to stay in his corner when he's beaten, who wants to go the distance” (269). Die kommentaar van Branko en die hulp wat hy gegee het, word kantlyn-kommentaar op sy broer se manuskrip. Hiermee dan die vraag: wat behoort aan wié in die skryfproses?

Die broer is bewus van sy broer se skaduboks wanneer hy gaan slaap. (“Ja, I say, float like a bumblebee,” 10).

Die gebruik van ʼn boks vol knipsels en die stories róndom die Grootbek Bokser is ʼn belangrike gegewe. Nie alleen in die skaduboks wat die skryfproses impliseer nie, maar deur die gebruik van hierdie komplekse ikoon, word die apartheidsjare van Suid-Afrika opgeroep. Daar was nie televisie nie en vandag kan ʼn mens al hierdie wedstryde op google aktiveer wat op ʼn afstand anders lyk as wat dit in die werklikheid was.

Twee broers aktiveer die oppervlak-verhaal. Joe die skrywer teenoor Branko die klankingenieur. Hulle is uiteenlopend en hierom sal hulle waarnemings of herinneringe verskil. Weliswaar nie so dramaties soos in Patrick White se The solid Mandala (1966) nie. Nietemin “doubles” van mekaar. Ego en alter-ego. Bokser en opponent. Soos wat Muhammad Ali teenoor Joe Frazier geplaas word.

Branko Blahavic teenoor Joe is dan die twee broers. Die roman is gesitueer in die sewentigerjare, aanvanklik in Pretoria. Dit gaan oor boks en rofstoei. Visvang en ʼn ma wat brei. 

Werklike plekke soos Verwoerdburg, Club View, Pretoria-Wes en die Bon Accord-dam, suid van Louis Botha-rylaan, Von Willich, begrond die roman. En die gebruik van Afrikaans soos “Jissimpie” en “voetstoots”, die LM-hit parade, Reader's Digest-boeke, rofstoei, ysskaats, die walvis-skelet voor die museum in Pretoria, die Perm, maak hiervan ʼn realistiese teks. 

Pulpfiksie en fotoboekies word ingeweef en ontluister. Mark Condor met sy E-Type Jaguar is hier aanwesig as ʼn hoenderboer (58, 59). Ek wil nie die leesplesier hier bederf nie, maar dit is ʼn wonderlike vinjet vir die spel tussen werklikheid en fiksie.

Walter Battiss is ʼn ander belangrike kode. En die breimasjien van die moeder aktiveer die skryfaksie as een van samesnoering. Nes die verwysing na Woody Allen se onderskatte Scenes from a mall.

Die moeder met ʼn voorskoot (as tweede seks, as onderhorige) verbrand haar notaboek (“dreambook”), terwyl die skrywerseun toekyk. So ʼn tersyde-moment: die stemlose word weer stilgemaak gemaak (116 - 117). (Haar seun teken wel haar pyn op.)

Ons weet nie wat sy in daardie droomboek opgeskryf het nie; ons kan net raai.

Vanuit ʼn agternaperspektief met ʼn Pres Les Boks vol knipsels oor Muhammad Ali, oftewel Cassius Clay, word die roman in 15 hoofstukke opgedeel met die twee broers telkemale afwisselend aan die woord. Daar is knipsels as motto's uit The Star en The Pretoria News.

Sportskrywers soos Norman Canale en Alan Hubbard, o.a. word erken. En goeie sportskrywers soos Michael Green en Louis de Villiers tans is eweneens gerekende romanskrywers.

Vladislavić kyk terug op ʼn ou bestel: die 1976 Soweto-opstande word op televisie verbied.

Die “fight of the century” het anders afgeloop as wat voorspel is; nes die politiek van hierdie land. In 1993 het Ali die land besoek op dieselfde dag wat Chris Hani vermoor is.

Die aanhalings van Ali-die-digter (Hoofstuk sewe) en verwysings na Cinema Paradiso, George Plimpton en Hunter S. Thompson gee verdere resonansie aan hierdie geskakeerde teks.

Ek ken min romans waar die slot so behendig al die drade saamtrek. Dis ʼn roman wat jou soms laat lag; ander kere is jy hartseer oor die lot van die outsider en immigrant. 

IV

En anders as wat Michiel Heyns meen in Rapport (“‘Boksverslag’ oor 1970’s is ʼn uitklophou”), is hierdie nie ʼn postmodernistiese roman nie.

ʼn Postmodernistiese roman skep ontologiese onsekerhede en breuke.

Dit is ʼn roman met vyftien rondes. En ek is uitgetel ...


Cassius Marcellus Clay (1942 - 2016)

Muhammad Ali,
wêreldkampioen driemalig,
glo meer binnegoed as bek,
het ge-Rumble-in-the-Jungle,
ge-Thrilla-in-Manila;
selfs buite die kryt óm
geveg, baklei, geboks
vir vryheid van spraak.
“No Vietcong ever called
me a Nigger”, byt hy terug.
Gestroop van titel en eer;
selfs bokslisensie op
vyf-en-twintig verloor
toe hy Viëtnam kets.
Driejaar lank die kryt belet:
hierdie god van die harpuis.
Met tronkstraf opgeskort bly
hy “float like a butterfly,
sting like a bee”
teen swartlyste in:
dié vrypostige, allemin-
tige, vreeslose Louisville Lip.
Totdat ʼn groter,
venyniger opponent
as Foreman, Frazier,
Liston of Norton
hom ont-
troon, planke
toe stuur:
Parkinson,
ʼn skadu-bokser,
se kris-kruis:
een-twee-drie …

© Joan Hambidge

Ivan Vladislavić, foto Minky Schlesinger