Tuesday, April 30, 2019

Polemies | Charlize Theron

I
  
Die polemiek rondom Charlize Theron wat haar seun, Jackson, as 'n meisie grootmaak, het reaksie ontlok op Facebook en in die pers met negatiewe kommentaar van Steve Hofmeyr.

Ek bewonder haar vir hierdie oopheid en gedurfde optrede, ook dié van Annette Bening en Warren Beatty wat hul kind ondersteun het deur die proses van geslagsverandering (Warren Beatty Discusses Transgender Son – YouTube. Besoek 30 April 2019), want die meeste trans- of homo-kinders word in 'n heteronormatiewe samelewing groot waar die kerk en die skool hulle mag verwerp (het). Ouers en onderwysers is dikwels nie in staat om hierdie kinders die regte raad te gee nie en die kinders se identiteit word gebrandmerk deur skaamte of vermindering.

Daar bestaan vele studies oor die hantering van die queer-kind in die VSA – waar queer nie 'n vloekwoord is nie (Warren Beatty calls transgender son Stephen his 'hero' | Daily Mail Online. Besoek 30 April 2019).

Daar is ook Chaz Bono, Cher se kind. Gebore as Chastity en Cher is openlik oor hoe swaar sy gekry het (Cher opens up about transgender son’s sex change  ‘It was hard for a mother’ | Closer. Besoek 30 April 2019).

En dan is daar ook Shiloh Jolie-Pitt en gissinge oor haar gender-identiteit (Surprising Things You Never Knew About Shiloh Jolie-Pitt. Besoek 30 April 2019).

II 

Gender, terloops, is nie dieselfde as seks nie. Jy het 'n biologiese seks (M, V, bi, trans ...) en die gender is die sosiale strukture wat op jou afgedwing word, soos meisies wat pienk dra en seuntjies blou, of die keuses wat jy maak. (In die WO I was pienk 'n manlike kleur, terloops.)

En hoe arbitrêr sosiale rolle kan wees, weet ons almal. Kyk maar net na kookprogramme (Sex and gender distinction – Wikipedia. Besoek 30 April 2019).

Bespot deur ander, en as swart mense praat van "liquid rascism", weet gay-mense presies wat hulle bedoel. Subtiele blikke van uitsluiting of vermindering. Dosente wat studente in die ou Suid-Afrika met geniepsige stekies op hul plek gesit het, gebeur gelukkig al hoe minder.

In my doktorale studie in 2000 aan die UK onder H.J. Snyman is die genderkonstruksies in die Afrikaanse letterkunde ondersoek en veral die baanbrekerswerk van Hennie Aucamp moet hier vermeld word. Aucamp se Volmink bly een van die belangrikste bakens oor gay-identiteit en sy tekste (digkuns en kabaret ingesluit) karteer die sosiale norme van sy tyd en hoe gay-mense in 'n ander tydvak stemhebbend geraak het.

En "Vir vier stemme" is en bly 'n hoogtepunt in ons letterkunde. 'n Verhaal wat 'n poets behels met Freddy in vroueklere en Beimen Botes wat nie besef dit is nie 'n vrou nie?

Dieselfde geld die werk van Johann de Lange wat sowel in sy prosa as in sy digkuns hierdie kwessies verder neem. Kan ons die polemieke rondom Nagsweet ooit vergeet?

Lesers kan die resepsie van die bundel hier lees – wees gewaarsku, dit is plek-plek verbysterend (Woorde Wat Weeg. Studie: Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange. Polemieke en enkele onderhoude. Besoek 30 April 2019).

Ons onthou die verontwaardiging van ouer literatore wat die bundel nie wou resenseer nie en hoe Etienne Britz in sy resensie die spot gedryf het met die resensiekopie vol merke wat hy ontvang het.  

Those were dem days en jong skrywers vandag het geen benul van wélke ellendes gay-skrywers moes deurgaan nie. 'n Dekaan sou jou betig oor jou gay-identiteit en op subtiele (en minder subtiele) maniere is jy geviktimiseer, omdat jy out is.

In my lewe was Aucamp immer 'n baken van hoe 'n gay-mens sonder skaamte of vrees moes leef.

Hierom vul ek op alle amptelike vorms die volgende in: gay. Nie M of V/F nie.

III

So as Steve Hofmeyr dink Charlize Theron is verkeerd, het hy die ketel aan die tuit beet. Sy is reg, want sy besef presies dat gender 'n konstruksie of keuse mág wees. En dat die jong kind hierdeur bevry word van 'n plek van wroeging, skaamte of vernedering. Charlize Theron gee aan haar kind agentskap. Nie alleen is sy 'n skitterende aktrise nie, maar 'n moeder wat bewondering afdwing.  

En ons kan warempel nie in die jaar 2019 grensverskuiwende tekste ignoreer of die pryse wat gay-mense persoonlik betaal het net van die tafel afvee nie.

© Joan Hambidge