Loftus Marais - Jan, Piet, Koos en Jakob. Human & Rousseau, 2019. ISBN-13: 978 07981 77177
Resensent: Joan Hambidge
I
Die derde digbundel van Loftus Marais dra die onpoëtiese titel Jan, Piet, Koos en Jakob. Die digter wil dus hiermee die argetipiese wêreld van die cruiser aktiveer. Dis die Janalleman van die onderwêreld wat hier beskou word. Mans wat opgetel word in gyms (die Virgin Active), in donker stegies en op straat.
Die swart sirkel op die voorblad suggereer 'n gloriegat binne die kode van cruising, 'n judasoog, en daarmee saam privaat teenoor openbaar. Dit maak ook van die leser 'n voyeur wat op die private lewens (openbaar uitgespeel) deur die loergat spioeneer.
Hierom is daar 'n Jakob Engelstoeier, 'n Jantjie Skuinsdwars, Piet X, Jakobstaf, Piet Pixel, 'n Koos Merwe in die galery, 'n Geldpiet, Jan Bantam, Jan Balie, Bang Jan dooie Jan, 'n Ware Jakob – en selfs 'n Jakob Zuma op sy perd. En die duiwel in die slotvers oor Bloukoos.
Hierom is daar 'n Jakob Engelstoeier, 'n Jantjie Skuinsdwars, Piet X, Jakobstaf, Piet Pixel, 'n Koos Merwe in die galery, 'n Geldpiet, Jan Bantam, Jan Balie, Bang Jan dooie Jan, 'n Ware Jakob – en selfs 'n Jakob Zuma op sy perd. En die duiwel in die slotvers oor Bloukoos.
Die bundel is 'n mengsel van boere-idiome (-taal) en 'n moderne, navrante blik op die digter se herkoms. Die openlikheid van die gay-bestaan is deur figure soos Hennie Aucamp, Stephan Bouwer en Johann de Lange oopgemaak. Sonder hierdie voorgangers sou Marais dit nie na 'n nuwe domein kom neem nie.
Hierom dan 'n motto uit Ernst van Heerden uit "Die bokser" wat in sy latere bundels die homo-erotiek verken het:
Wie is die man wat roerloos lê,
wie't 'n bekende naam gesê?
Mense word roekeloos naamgegee en uit die kas geruk soos in "Heet" (51).
Die digter skep skerp, konkrete beelde wat 'n mens altyd sal bybly. Die dot matrix printer se gaatjies herinner aan naambandjies in 'n hospitaal (31). 'n Spoorlyn lyk soos 'n omgekeerde xilofoon (35).
Die gedigte is oënskynlik 'n parlando- of praatvers. Fyner kyk wys egter op klankbeheer, binneryme en intertekstualiteit met kopknikke na Eugenio Montale en Rosa Nepgen. Ook Andrew McMillan kom aan bod.
Daar is 'n behendige distigon ("Koos van der Merwe by die huis", 43) en 'n spel met die sonnet soos "Shakespeare, sonnet #1". En ekfrastiese verse met hoogtepunte die een oor Pierneef en Piet Mondriaan.
Humor is hier in oorvloed soos "Die bosveldbome van Jacobus Hendrik Pierneef" (58) waar die landskap verpersonifieer word:
tog halwe haarstyl, yl, nes meeste kuns maar
comb-over oor die verlatenheid
"Die groot digteres probeer parkeer" (15) is erg humoristies en digterlik knap, omdat metriese begrippe gebruik word (soos spondee) om die ellende van 'n moeilike parkering aan te stip in 'n 15-reëlige vers wat kommentaar lewer op die sonnetvorm.
terwyl die oggend se verkeer in sag bebriekligte enjambemente
werk toe gly.
werk toe gly.
Daar is ágter die gedurfdheid ook pyn wanneer die Amerikaanse lover agtergelaat word. Die spreker het niks om te verklaar op die lughawe nie; net 'n pynlike gedig.
'n Slim bundel met verwysings na die cédille en 'n speelse trille-idille. Die abjekte word beskou in die geur van die naeltjie ("Jan Pierewiet", 26) en 'n vrou se blik op die fallus is humoristies en uiteraard vir háár bedreigend en fassinerend ("Jakobregop/Jakopslap", 28).
Marais debuteer in 2008 met Staan in die algemeen nader aan vensters en in 2012 volg Kry my by die gewone plek aguur (2012). Die derde bundel het dieselfde hou-in-die-maag-effek as die debuut. Onder die verse lê daar woede wat broei ...
Hierdie digter skroom nie om gevaarlike ruimtes te betree nie. Goeie gedigte is immers altyd gevaarlik; op alle vlakke omdat dit die leser moet uitdaag en ontstig.
Daar is 'n fyn balans tussen die konkrete en die abstrakte, ook tussen die konvensionele verlede en die grensoorskrydende ervarings van die digter.
II
Die onderliggende Nomine Patris en die "O name, o versugtigtinge" aktiveer eweneens Jacques Lacan se nom-du-père of die naam-van-die vader. Die naam van die vader aktiveer die begeerte tot die moeder. In hierdie substitusie ontstaan digterlike taal wat die verlies aan die simboliese fallus impliseer. Metaforiese taal het altyd vir Lacan te make met iets wat vervang word. Die gedig hier staan in die plek van verlies of ontnugtering. Of die wete dat die spreker bevoorregting geniet.
In 'n vers krap 'n man in sy naeltjie. So word die abjekte (Kristeva) geaktiveer, maar die grote Rembrandt het sy handtekening (dus sy naam), 'n R, in die naeltjie van die lyk geplaas in sy skildery Die Anatomie-les van dr Nicolaes Tulp.
Met hierdie bundel aktiveer die digter name en hul betekenisse. 'n Naam vertel iets van jou herkoms. Jy ís uiteindelik jou naam.